Deur Karlien Meiring. Foto’s: Verskaf.
Liam Bosman bou al van 11-jarige ouderdom af aan sy loopbaan wat reeds titels soos Diepe Waters, Spoorloos, Niggies en die opspraakwekkende Showmax-komedie Khaki Fever insluit. Maar dit is sy rol as Markus in Een keer om die son wat tans aanklank by Afrikaanse kykers vind.
In die tweede seisoen sien kykers hoe Markus met sy geestesgesondheid en pynpilverslawing worstel. Hy hou byna alles vir homself, iets wat Liam persoonlik nie beleef nie.
“Ek is ’n oop boek vir die mense naaste aan my. Ek het die Lotto gewen as dit kom by die mense in my lewe, en my familie en vriende is altyd bereid om te luister en hulle weet ook dit is ’n tweerigtingstraat.”
Volgens hom lê Markus se onvermoë om hulp te vra nie in trots nie, maar in druk.
“Markus het grootgeword in ’n huis met ’n baie suksesvolle pa met hoë standaarde en ’n suster met ’n ‘kom self daaroor’-houding. As die oudste broer en die volgende ‘man van die huis’, glo ek dit veroorsaak druk om net altyd oukei te wees. Dit gaan nie oor trots nie, dit gaan oor ’n vrees van aanvaarding dat hy ’n mens mag wees.”

In ‘Een keer om die son’ se tweede seisoen sien kykers hoe Markus met sy geestesgesondheid en pynpilverslawing worstel. (Foto: Verskaf)
Die afwesigheid van Markus se ma, Lani, speel ook ’n bepalende rol in sy besluite hierdie seisoen.
“Markus se anker is weg,” sê Liam. “Die pynpille het Lani se plek in Markus se lewe oorgeneem.” Dit is juis hier waar die reeks se hantering van verslawing ’n ongemaklike, maar noodsaaklike realiteit blootlê.
Vir Liam lê die waarde van Markus se storie daarin dat kykers hulself of iemand na aan hulle daarin kan herken. “Almal ken iemand wat Markus se pad tot ’n mate stap,” meen hy. “As mense daardie persoon in hul eie lewe kan identifiseer, kan daar ’n ruimte vir gesprek geskep word.” Hy beklemtoon egter dat verandering by die individu self begin. “Niemand kan jou red nie. Jy moet self besluit om gesond te wil raak. Maar dit neem ook ondersteuning.”

Liam is al van 11-jarige ouderdom deel van die vermaaklikheidsbedryf (Foto: Blyde Smit)
Op stel vertel Liam dat hy veral baie by Jacques Bessenger wat Markus se pa, Ruan, vertolk, geleer het:
“Jacques is effortless en ’n pro. Dit was altyd bietjie makliker om in tonele saam met hom te speel, want hy is so gemaklik met homself as ’n mens en akteur.”
Met jare in die bedryf agter die blad, erken die 23-jarige akteur iets onverwags.
“Ek voel ek het meer geweet toe ek jonger was. Daar was ’n naïwiteit wat my toegelaat het om enigiets te doen sonder om aan die gevolge te dink, ’n blinde selfvertroue. Ek dink hoe ouer ’n mens word, hoe meer berekend en strategies leef jy. Dit is eintlik jammer.”

Liam ‘n oud-leerling van Curro Aurora in Randburg, Johannesburg. (Foto: Daniel Lasker)
Liam vertel hy het onlangs van Gauteng na Kaapstad verhuis en saam met die onafhanklike kunstenaar Jaakie die enkelsnit Bietjie langer bly uitgereik.
“Dit was ’n groot jol. Ek is baie lief vir musiek en ek doen dit as ’n stokperdjie. Ek hanteer my loopbaan as akteur baie ernstiger as my ‘musiekloopbaan’, want in my kop is dit net vir die lekker. Ek sal nou en dan ’n liedjie uitgooi net om te sien wat gebeur.”
Wat die toekoms betref, is Liam ook deel van die sterbelaaide rolverdeling van Die oord, die nuwe kusdrama wat op 14 April op kykNET afskop. Die reeks speel in ’n oënskynlik idilliese vakansiedorp af waar families al geslagte lank by dieselfde karavaanpark uitspan, tot ’n lyk een oggend op die strand uitspoel en die gemeenskap se geheime begin oopkrap. Interessant genoeg vertolk Jana Kruger weer sy ma, net soos in Een keer om die son, maar hierdie keer is sy ook die kriminoloog Martie Pretorius, met Liam as haar universiteitstudentseun. Sy word teen haar sin in die ondersoek ingetrek terwyl sy probeer om ’n verpletterende geheim vir haar seun, Paul, weg te steek.
Soos Liam sê: “Hou die TV aan!”

In die nuwe dramareeks, ‘Die oord’, vertolk Jana Kruger weer die rol van Liam se ma. (Foto: Verskaf)
KYK | Jaakie & Liam Bosman – Bietjie Langer

Lees ook: NUWE REEKS | Spannende kusdorpdrama Die oord op pad!
