Janie du Plessis, knap besigheidsvrou en geliefde TV-ster reeds van die dae toe Afrikaanse reekse nog in hul kinderskoene gestaan het, wéét wat werk in die gasvryheidsbedryf. Behalwe haar ervaring in die sake- en eiendomswêreld deurkruis sy jare lank reeds die land – en sy bly in gastehuise!
Dis mos nou eerstehandse ervaring wat hier praat. En dis presies hoekom sy die ideale aanbieder van kykNET se werklikheidsreeks In die sop: Gastehuisrevolusie is.
Kykers het teen die tyd al goed agtergekom dat Janie nie iemand is wat doekies omdraai nie. Nee, sy loop die reguit pad – maar terselfdertyd ook sagkens wanneer dit kom by daardie belangrike geselsies met gastehuiseienaars wat besef het dat hulle soms meer as kniediep in die sop is.

Janie het haar top-moets en top-moenies saamgestel. En as gastehuiseienaars eers hierdie as maatstaf inspan, kan hulle byvoorbaat weet daar’s ’n sagte warm liggie wat aangeskakel is en die sop is nie meer so troebel nie . . .
Moets vir sukses:
- Leer sélf hoe die verskillende besprekingsplatforms werk en kry dit onder die knie.
- Waag dit en doen jou eie bemarking. Benewens die feit dat jy eintlik die één mens is wat weet wat dit is wat jou gastehuis spesiaal maak, spaar jy terselfdertyd ook baie geld op kommissie en ander fooie wat andersins aan diensverskaffers betaal moet word.
- Maak seker jou hele plek is baie skoon, en fokus veral op die badkamers. Wanneer dit gereeld goed skoongemaak word, duik daar nie ’n krisis op met onverwagte gaste en stowwerige verblyf nie.
- Bekyk jou dekor meer krities en hou die tema betreklik neutraal. Maak voorsiening vir oop ruimtes op die oppervlaktes sodat gaste vrymoedig voel om hul eie goed uit te pak. Onthou, sometimes less is more.
- O, daardie alewige kabels en proppe waarsonder ons nie kan nie. Maar maak seker dat ook dit skoon is en netjies in plek is sodat jou gaste nie daaroor struikel nie. Wees vernuftig en steek die kabels weg waar moontlik, soos byvoorbeeld deur vloerlysies wat vir hierdie doel geskik is, te installeer. Gaan loer gerus in by jou naaste hardewarewinkel vir wenke in dié verband.
- Maak seker daar is verskillende kussingopsies in jou gastehuis. Moenie onderskat hoe belangrik die regte kussing is vir ’n gas nie. Party mense verkies ferm kussings, ander weer sagte kussings. Dan is daar diegene wat allergies vir verekussings is terwyl ander weer nie poliësterkussings kan verdra nie. Onthou,’n rustige nag dra by tot ’n gelukkige gas.
Moenies . . .
- Kuns is ’n baie persoonlike ding – onthou dus dat dit wat vir jou mooi is, dikwels liederlik is vir iemand anders. Hang jou eie kuns of jou niggie of jou boetie se kind se kuns liefs iewers waar jy en jou familie dit kan geniet. Hou kunswerke ook neutraal en moenie noodwendig ’n kunswerk bloot net hang omdat jy dink daar moet kuns teen die muur wees nie. Vars blomme, selfs vrugte, in ’n mooi vaas is soms baie meer verwelkomend en kreatief.
- Moenie die bed en elke moontlike sitplek onder rondsmyt-kussings toepak nie. Dis onprakties en in die meeste gevalle irriteer dit bloot jou gaste. Hulle het geen ander keuse as om dit op die grond te gooi nie. Bly by die minimum met net ’n paar kussings. Dit kan baie meer effektief wees.
- Pasop vir sterk antiseptiese reuke. Sommige skoonmaakmiddels ruik dikwels soos skoolbadkamers en hospitale – en is allesbehalwe verwelkomend. Net so is die reuk van vullis. Plaas liewer ’n atomizer (daai sagte geure in ’n flessie met die rottangstokkies) iewers sentraal. Vermy aërosol-lugverfrissers.
- Moenie skerp wit lig in jou kamers gebruik nie. Dis nie ’n kantoor of ’n hospitaal nie. Gebruik ligte met ’n warm gloed, en wissel dit af met bedlampies wat sterk genoeg is om by te lees, maar ook warm lig afgee. Sagte lig dra by tot ’n knus en uitnodigende atmosfeer en help gaste om te ontspan – eerder as om te voel hulle is onder ’n mikroskoop vasgevang.
- Jou gaste is jou gáste. Nie jou BFF of biegvader nie . . . Wees deurentyd professioneel, maar nie kil nie. Vriendelikheid gaan jou ver bring, maar jou gaste is nie daar vir jou vermaak en geselskap nie. Hulle betaal jou vir ’n diens en het nie nodig om jou lewensverhaal aan te hoor nie.
In die Sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: GOEIE NUUS | Trefferfliek My f*k, Marelize! eersdaags op kykNET te sien

