Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Adriana Labuschagne

Adriana Labuschagne

Dorp: Boksburg

Antwoord 1: Wat maak ons verhouding spesiaal? Van kleins af het ons die woorde gehad: “It’s me and you against the world.” En hoe ouer ons word, hoe meer besef ek hoe waar dit is. Ek is ’n enkelmamma, en my dogter het nooit haar pa ontmoet nie. Ek was altyd bekommerd oor die leemte wat dit in haar hart sou laat — maar sy het ’n sagtheid, ’n wysheid en ’n liefde wat net alles in iets mooi verander . Sy is nou 16, en ons deel steeds ’n slaapkamer — nie omdat ons moet nie, maar omdat ons wil. Al baklei ons soms soos enige ma en tienerdogter, is ons steeds onafskeidbaar. Sy deel elke detail van haar dag met my — die groot drome, die klein dramas, die grappies, die vreugdes, selfs haar maats se geheime… en al sug ek soms oor sy nie ophou praat nie, sal ek dit vir niks in die wereld verruil nie Elke Vadersdag gee sy vir my ’n geskenk, want volgens haar is ek die beste ma én die beste pa wat sy kon hê. Daardie erkenning — uit haar eie mond, uit haar eie hart — is een van die grootste geskenke wat ek as ma kan kry. Dit was nie altyd maklik nie — maar ek het nog nooit ’n oomblik gemis om haar grootste ondersteuner te wees nie. Sy is ’n kind wat nie skaam is oor wie sy het nie — sy stel my altyd trots aan haar vriende voor as haar ma, en dit vul my met dankbaarheid. Wat ons verhouding spesiaal maak, is nie net die band van bloed nie — dit is die band van vertroue, saam-lag, saam-huil, saam leer en saam leef. Dit is ’n verhouding gebou op respek, eerlikheid, humor en onwrikbare liefde. Dit is nog steeds: sy en ek teen die wêreld — en ek sou dit vir niks verander nie.

Antwoord 2: Vertel ons van ’n tyd wat julle verhouding laat groei het Hierdie deel is vir my moeilik om kort te hou, want die afgelope 16 jaar was gevul met soveel hoogtepunte en laagtepunte. Maar as ek een tyd moet uitsonder wat ons verhouding die meeste gevorm het, was dit my eie mammie se siekbed. In Januarie 2023 het ons gehoor my ma het kanker. Soos enige gesin het ons vol hoop en vasberadenheid in haar behandeling ingegaan. Maar met tyd het ons besef dat ons uitkoms nie die een sou wees waarvoor ons so gebid het nie. Die kanker het versprei, uiteindelik ook na haar brein, en sy kon nie meer werk nie. Sonder ’n inkomste het dinge finansieel baie moeilik geraak, maar ons het aangehou en dit maak werk — op ons eie manier, met wat ons gehad het. My ma het by ons kom bly, en ek het haar voltyds versorg in haar laaste maande — toe sy nie meer kon loop, praat of vir haarself sorg nie. Dit was ’n ongelooflik moeilike tyd, maar ook een van diep liefde en verbondenheid. En deur dit alles was my dogter my grootste ondersteuning. Sy het elke drie ure saam met my wakker geword om te help — wanneer Ouma gedraai moes word, gevoer moes word, of net iemand nodig gehad het om haar hand vas te hou. Sy het nooit gekla nie. Sy het nooit weggeskram nie. Sy was net daar — sag, geduldig, liefdevol, en het selfs die ''doeke'' deel gedoen sonder om een keer te kla. Tot op Ouma se laaste asem 18 maande na diagnose. Ek kyk terug en besef: sy was nie net my kind nie. Sy was my spanmaat, my medestryder, my rots. Daardie ervaring, al was dit vol pyn, het ons nog nader aan mekaar gebring. Ons het mekaar gedra wanneer dit te swaar was vir een, en ons het geleer wat ware sorg, empatie en familie beteken. Daardie tyd het my laat sien watter buitengewone mens ek in my lewe het — en watter buitengewone mens sy besig is om te word. En ek glo dit het ons band vir altyd verdiep.

Antwoord 3: Ag, hierdie een is tricky, want ek moet soms nog self uitfigure wat ek doen. Ek dink geen ma het regtig ’n perfekte handleiding nie — ons doen maar net ons bes met wat ons het, en hoop en bid vir die beste. Dit was nog altyd net ek en sy, en dalk is dit deel van ons resep, maar as ek een stuk raad moet gee, dan is dit hierdie: Maak tyd vir ware een-tot-een gesprekke. En vra vrae — nie net die oppervlakkige soort nie. Tieners vertel nie altyd vanself nie. Ek het ’n gewoonte gemaak om haar elke dag ná skool te vra: “Hoe was jou dag?” Maar ek los dit nie daar nie. Ek vra verder: “Wat het jy geleer? Wat was snaaks? Wat was moeilik? Wat’s die nuutste drama of gossip? Hoe was jou pouse? Wie het jou laat lag?” En dis dán wanneer die stories uitkom. Want as ’n mens net vra “Hoe was jou dag?” kry jy meestal net een antwoord: “Fine.” Vir my is dit die belangrikste deel van ouerskap: om hulle gewoond te maak om die klein goedjies met jou te deel — want as hulle gemaklik is daarmee, word dit soveel makliker om die groot goed ook te deel… die onsekerhede, die vrese, die drome, die hartseer. En dan: volg jou instink. Elke kind is anders — daar is nie ’n universele resep nie. Ek sê altyd vir my dogter: “Ons mag foute maak. Dit is jou eerste keer op aarde, en dit is my eerste keer as mamma. Ons leer saam, maak foute saam, en vind saam nuwe maniere om dit reg te maak.” Ek dink, uiteindelik, is dit wat ouerskap is: om teenwoordig te wees, om erns te maak met die klein gesprekke, om oop te wees vir eerlikheid — en om te weet jy groei saam met jou kind, dag vir dag.