
Dorp: Pretoria
Antwoord 1: Ek skryf hierdie brief om my en my ma se besondere band met julle te deel - ‘n band wat vir my die veiligste tuiste en die grootste avontuur gelyk is. My ma is my beste maatjie. Sy is die heel eerste persoon wat ek bel wanneer iets wonderliks gebeur, maar ook die een wat ek bel wanneer alles skeefloop. Haar stem is my anker. Haar mamma-drukkies is die soort drukkies wat alles beter maak - die tipe wat selfs die swaarste dag sag laat voel. Ons het al saam groot dele van Europa verken: Skotland se betowerende heuwels, die ouwêreldse sjarme van Praag, Duitsland se ryk geskiedenis en die bruisende energie van Londen. Sy is my “adventure buddy,” iemand wat elke reis nie net ’n vakansie maak nie, maar ’n herinnering wat vir altyd leef. Ons volgende avontuur wag al klaar: ’n spesiale mamma-dogter “getaway” na Thailand-iets waarna ons albei met sprankeloë uitsien. Een van ons eenvoudige, maar kosbaarste tradisies, is hoe ons in die kar saam sing- vals, hard en sonder skaamte en partykeer met n traan as oom Theuns Jordaan opkom. Soms draai sy haar kop na my en vra laggend: “Dink jy ek is ’n cool ma?” Ek sê dit nooit vir haar nie, maar diep in my hart weet ek: ek het die mamma-jackpot geslaan. Een van die dinge wat my ma se liefde vir my die duidelikste wys, lê egter in al die jare toe ek perde gery het. Sy het soms 3 uur die oggend opgestaan om my perd se tack skoon te maak, net om te sorg dat alles perfek is vir my kompetisie. Sy het die hardste langs die baan geskree, trots en vol vuur. En tog-ten spyte van die koue, die vroegte en die stress-het sy altyd tyd gemaak om vir my ’n warm hot chocolate in ’n fles te bring. Daardie klein gebare het meer vir my beteken as wat sy ooit sal besef. Ons Woensdag-ritueel by John Dory’s is net so spesiaal. Elke liewe week sit ek en my ma op ons sushi-date, en dit gaan al lankal minder oor die sushi en meer oor hoe ons soos twee besties oor ’n bottel wyn sit en skinder, lag, deel, en net onvoorwaardig mekaar se mens is. Dit is ons klein wekelikse asemhaal-plek. Gewoonlik begin hierdie dates met mamma wat vra, “so bol wat kan jy my vertel” Wat ek die meeste waardeer, is hoe my ma my altyd laat beter voel met haar mamma-raad. Sy is begripvol op maniere wat woorde soms nie kan beskryf nie. Sy sien my, sy hoor my, sy verstaan my-selfs wanneer ek sukkel om myself te verstaan. En dan is daar haar woorde. My ma sluit al van kleins af elke boodskap, oproep of briefie af met: “luv ya Bol.” Daardie woorde het só deel van my geword dat ek dit in haar eie handskrif op my lyf laat tatoeëer het. Dit is my dra-saam herinnering dat, maak nie saak hoe ver ons van mekaar is nie, haar liefde altyd naby my is. My ma is my veilige plek, my reismaat, my raadgewer, my mens. Ons band is iets waarvoor ek elke dag dankbaar is-iets kosbaar, iets sterk, iets mooi.
Antwoord 2: Een van baie kosbaarste herinnering van my mamma was terug in die tyd toe dit net ek en sy was wat saam gebly het - ’n tyd waar ons klein huisie gevul was met meer liefde as ruimte. Op haar verjaarsdag het ek besluit om haar spesiaal te laat voel, al het ek toe nog glad nie geweet hoe om te bak nie. Ek het die slegste koek in die wêreld gemaak - hard, skeef en heel waarskynlik half-rou. Ek het haar vroeg die môre wakker gemaak, vals gesing soos net ek kan, met daardie ramp-koek in my hande. Sy het regop gesit, nog half aan die slaap, en toe ek klaar gesing het, het sy net daar begin huil- nie van die koek nie, maar van liefde. Sy het my die styfste drukkie gegee en gesê: “Bol, ek sou my verjaarsdag op geen ander manier wou spandeer nie. Luv ya.” En toe eet sy daardie verskriklik slegte koek, sonder om eers ’n gesig te trek. Sy het net geglimlag en gesê sy kan proe dat hulle met liefde gemaak is, en dat dit haar soos die spesiaalste ma op aarde laat voel. Daardie oomblik het my geleer dat liefde nooit perfek hoef te wees nie - dit moet net opreg wees. Dit is ’n herinnering wat ek vir altyd koester, want dit wys presies wie my ma is: iemand wat my liefde altyd raak sien, al kom dit in die vorm van n slegte koek en valse sang.
Antwoord 3: My ma het my geleer dat n mamma- dogter verhouding nie perfek hoef te wees nie-dit moet net eg wees. Haar wysheid is iets wat ek graag met ander mammas wil deel. Moenie te vinnig wees om ander se foute raak te sien nie. Gee eerder vir jou mens die ruimte om hulself te wees- om hul eie, unieke manier van “perfectly imperfect” uitteleef. Wanneer jy vir iemand plek gee om hul ware self uit te druk, fluister jy vir hulle dat hulle genoeg is, presies soos hulle is. Sy het my ook geleer om altyd die positiewe te soek, maak nie saak hoe moeilik die situasie is nie. Daar is altyd ’n silver lining, al lyk dit klein. Deur dit raak te sien, word die pad nie makliker nie- maar jou hart wel sterker en jou las voel minder want iemand dra dit saam met jou. Ongeag hoe swaar die lewe mens soms slaan, moet ons daar wees vir mekaar. My ma praat altyd van haar “mamma hoedjie” en haar “bestie hoedjie” - en sy dra albei met trots. Soms het ek ’n raadgever nodig; ander kere ’n vriendin wat net luister. Sy wys my dat ware liefde is om beskikbaar te wees, op die manier wat die ander persoon op daardie oomblik nodig het. Sy sê altyd: die wêreld rondom jou is nie ’n “given” nie. Alles kan in ‘n oogwink verander. Maar die persoon voor jou- jou kind, jou mamma en in ons geval jou bestie is die enigste “given,” en vir hulle moet jy styf vashou. Dis die band wat jy moet beskerm en koester, want daarin lê die ware waarde van familie. Ons verhouding gaan nie oor oordeel nie, maar oor hoe om die beste weergawe van mekaar na vore te bring. Om so ingestel te wees op die ander persoon dat jy sommer weet hoe om met hulle te praat, hoe om hulle te ondersteun, en hoe om hul hart sag vas te hou. Ek hoop ander mammas en eintlik elke mens kan ook hierdie eenvoudige waarheid onthou: Liefde is nie perfeksie nie-dit is teenwoordigheid, begrip, ruimte en ’n hand wat altyd daar is om vas te hou en n skouer om op te huil.