
Dorp: Paarl
Antwoord 1: Van die eerste oomblik toe die ginekoloog na die sonar skerm kyk en sé, "Dis n poplap" het ek geweet hier lé n spesiale reis voor. Sy is n perfekte mengsel van my en haar pa. Haar pa se avontuurlustige, mense mens en sosiale vlinder persoonlikheid en my versorgende geaardheid. Ons eerste geveg was op 3 voor die klerekas toe sy besluit het sy trek van nou af haarself aan oppad na Andy Pandy Preschool in Durbanville. Juffrou Marilyn was versot op die groot persoonlikheid in die klein lyfie en ek het maar net omverskoning gevra vir die soms ongepaste uitrustings. So het die jare aangeloop en sy het ontwikkel in n 4x4 buddy vir haar pa en koffie maatjie vir haar ma. So by so dat een van my vriendinne eendag oplet dat op al die fotos van ons twee saam, sy haar hand iewers op my moet hé. Sy het ook ontwikkel in 'n onverskrokke ondersteuner en beste vriend vir haar broer, al is hy 4 jaar haar senior, met n gedeelde liefde vir sport. Hierdie ma het 2x n week Coetzenburg toe gery vir haar en ouboet vir afrigting en die res van die tyd by byeenkomste spandeer. Sy het met haar familie se ondersteuning en liefde matriek voltooi by Hoér Meisieskool La Rochelle in die Paarl, waar ek ook gematrikuleer het. Sy kuier vandag nog saam met my en my La Rochelle vriendinne want ons is n gehegte klompie en dan sé sy altyd sy hoop vir haarself vir sulke vriendskappe wat oor dekades strek. Daarna het ons die Somatologie diploma by Isa Carstens in Stellenbosch aangepak, natuurlik met hierdie ma wat haarself beskikbaar gestel het as praktiese proefkonyn vir bykans alles behalwe die wax eksamens. Vandag is sy n trotse werknemer van Lyftaal Spa, n wonderlike holistiese spa in die Paarl waar sy met haar empatie en sorg haar kliénte se lewens aanraak en hierdie ma kan net met trots toekyk hoe sy in n wonderlike, omgee mens aanhou ontwikkel.
Antwoord 2: Ons goeie en slegte tye het verseker n afsnypunt in 2021 gehad. Voor 2021 was ons n sosiale, hegte gesin wat saamgekuier het, saam vakansie gehou en mekaar gedra het deur die lewe se hoog- en laagtepunte. In 2021 is my man en haar pa op 50 oorlede aan Covid Verwante oorsake. Skielik het ons ons sterk pa figuur verloor, die jaar daarna is ouboet oorsee en ek en sus moes die lewe saam aanpak. Hy is oorlede in die julie vakansie van haar 1ste jaar by Isa en sy is na die vakansie terug Stellenbosch toe want haar pa was iemand wat hulle geleer het om nooit te gaan lé nie. Ek het soveel dae alles gelos en deurgery van die Paarl af Stellenbosch toe as ek die noodoproep gekry het van 'Mamma,dis te veel. Ek wil nie meer nie. Kom haal my.' . Maar ek en sus is daardeur. Dis nou 4 en n half jaar later en ons is op n plek van hoop, nuutgevonde geluk in onsself dat ons tot hier gekom het en hoop vir die toekoms.
Antwoord 3: Definitief kommunikasie en om tyd saam te spandeer. Maar meer as alles, kommunikasie. Bly in voeling met mekaar veral deur die storm en drang tiener en studente jare. Bly n oor vir mekaar maar ook n kompas vir mekaar sodat julle in mekaar kan vertrou maar mekaar ook 'accountable' kan hou.