
Dorp: Bloemfontein
Antwoord 1: Ons is soveel dieselfde dat my boeties my al “klein-Mamma” noem. My ma is my beste vriendin, maar ook my heldin. Dis die grootste kompliment wanneer mense sê, “jy lyk nes jou ma”. Ons is eende van eenderse vere en lyk nes ‘n afdruk van mekaar. Ons klink presies dieselfde en mense sukkel om ons uit te ken as ons oor die foon praat. Ekt verseker my ma se sê-goed oorgevat en ook in haar voetspore gevolg om in ‘n paramediese rigting te werk. Haar passie vir haar werk was so aansteeklik dat dit oorgedra is. Ons kan ALS met mekaar deel - goed, sleg, snaaks en hartseer. Ons kan lekker saam op die tafels dans, lag, huil en planne maak. Nes my ma, het ek ook ‘n oop hart wat altyd gereed staan om als te gee en nie verwag om enige iets terug te ontvang nie.
Antwoord 2: 1 Junie 2021 was my pa in ‘n fratsongeluk waar hy meer as 20m ver uit ‘n helikopter geval het. Ons moes die lewe vierkantig in die oë staar en die lewe aanpak sonder ons steunpilaar en man van die huis. Hierdie ongeluk het ons nog nader aan mekaar gebring - ons moes koppe bymekaar sit, veral in hierdie Covid-tyd om my jonger boeties te ondersteun wat daardie tyd in graad 7 en in matriek was. Deur hierdie hele tyd van sy hospitalisasie en rehabilitasie het ek (fisiotherapeut) en my ma (aarbeidstherapeut) self sy herstel verseker met leiding van God. Ons het gekies om die lig te sien. Ons het saam gebid, saam gestaan en besef dat tyd saam met mekaar so kosbaar is. Ons het nooit getwyfel in God se helende hande deur hierdie tyd nie en dit het ons meer waardering vir mekaar gegee. Só ‘n ondersteunings-sisteem sal ek vir niks verruil en ek sou dit saam met niemand anders wou aanpak nie. Ons kan mekaar so goed aanvul dat daardie lig ‘n brandende vuur geword het en ons beter aan die anderkant uitgekom het. God was ons middelpunt en vandag is almal weer bymekaar.
Antwoord 3: Vertroue en eerlikheid is als! Mens moet mekaar aanmoedig, as ‘n span saamwerk, saam bid, vir mekaar bid, als deel, eerlik wees, saam lag en weet daar is geen band soos ‘n ma-en-dogter band nie. Mens moet niks vanselfsprekend aanvaar nie, maar dankbaar wees dat God julle vir mekaar leen hier op aarde. Help jou ma maar skottelgoed was (al hou jy niks daarvan), vertel haar van jou boyfriend (syt die beste raad), ondersteun haar soos sy jou ondersteun. Staan saam, met God as anker.