
Dorp: Moorreesburg
Antwoord 1: In een sin? Die hoeveelheid wat ons twee by mekaar leer en die gewilligheid om soveel asmoontlik saam te leer. Ek het gevind dat 'n mens vriende maak in elke lewensstadium en soms oorleef daardie vriendskappe nie in 'n volgende stadium nie. My en my ma se verhouding het egter net verander, gegroei en sterker geword soos ons albei deur ons verskillende lewensfases beweeg het. Ek is 'n enigste kind en al was die tienerstadium soms rof kon ons deur alles kom met respek en 'n gesonde dosis humor! Ons is mekaar se beste vriendinne, ons deel passievol in mekaar se belangstellings, beroepe en daaglikse lewens. Die een konstante vir ons is dat ons alles as 'n span aanpak, geen taak of uitdaging is ooit te groot vir ons twee nie! As een, of albei, kwaad (of eintlik enige emosie!) is, dan bak ons. As een, of albei, gelukkig is, dan doen ons naaldwerk. Tot ons mans se ergernis soms, want as ons 'n projek aanpak kry niemand kos tot ons nie klaar is nie! Al my skooltake was groepstake, met my ma as my pligsgetroue maatjie, universiteit was 'n gedeelde ervaring toe my ma òòk weer gaan studeer het. My eerste oorsese reis was die perfekte geleentheid vir my ma om ook haar eerste reis oorsee aan te pak. Daarna was elke oorsese reise een lang uitsien na my ma se besoeke. Op diè reise het ons elke tweedehandse winkel besoek, lapwinkels gaan opsoek, gestap tot ons voete op was en gelag tot ons mae seer was! Natuurlik was trou volgende en dit was 'n reuse DIY-droom vir ons twee. Van my trourok tot die blomme, saam-saam het ons alles aangepak. Dit was so 'n mooi dag en op elke foto kan ek ons handewerk eien, so dankbaar vir die geleentheid om so 'n groot projek aan te pak saam met my beste vriendin. Ons nuutste fase, nuwe ma en ouma, dis my gunsteling. My hoop is om al die ondersteuning, liefde, passie en hardwerkendheid van my en my ma se verhouding in my verhouding met my dogtertjie te kweek en te koester. Die spesiaalste van alles, ek probeer soveel as moontlik leer van ouwêreldse kennis en raad en vaardigehede wat my ma met haar saamdra en ek hoop dit is wat ek vir my dogter ook wil leer. Ek wil hê sy moet weet dat geen projek ooit te groot is nie, jy nooit te oud is om te leer nie en sukkel is deel van 'n leersame proses wat lei tot herinneringe! Die tyd was ek en my ma bestee het aan Pinterest, self probeer, dreig om op te gee en daarna onsself te wend na YouTube, dis die tye waarna ek met groot waardering en liefde terugkyk. Die tye waarin ons lag vir mekaar, vir onsself en sommer net uit blote vreugde vir die geleenthede wat ons het om soveel saam aan te pak.
Antwoord 2: Ek het altyd geweet dit gaan 'n baie spesiale man moet wees wat sal inpas in ons gesin as ek eendag trou. Wonder bo wonder vind ek toe die man en na 'n paar jaar was daar 'n baba oppad. Dit was die heel beste tyd vir my oor die algemeen, maar dit was vir my baie spesiaal om dit met my ma te kan deel. Sy het nie geleentheid gehad om haar swangerskap of postpartum tyd met haar ma te deel nie, so ek het geweet hoe kosbaar dit is. My ma het 'n mediese agtergrond, so dìt, te same met die opgewondenheid van 'n nuwe ouma, was vir my ongelooflik waardevol. Ek kon bel met elke vragie, elke bekommernis, elke vreemde nuwe gevoel en sensasie. Maar ewe skielik het ek nie net meer gevra as die dogter nie, ek wou alles weet en leer, want nou is ek ook 'n ma! Ewe skielik wou ek nie net iets weet om te weet nie, ek wou dit kan verduidelik aan my dogtertjie as sy eendag dieselfde vraag het. My en my ma se verhouding het verander, ons rolle het verander, maar ons is nader aan mekaar as ooit vantevore. Ek was nog nooit iemand wat maklik hulp gevra het nie, maar in hierdie tyd, na die baba gekom het, was dit iets wat ek vinnig moes leer doen en my ma het dit maklik gemaak. Sy het eenvoudig opgedaag en die vlekke uit my wit wasgoed probeer kry, seker gemaak die beskuitblikke is vol, vullisdromme leeggemaak, badwater ingetap, doeke geruil, inkopies gedoen, alles waarvoor ek en my man nie energie gehad het nie. Tussen al die praktiese dinge deur het ek probeer let op wat sy vir my beteken, sodat ek eendag, in die verre toekom, dieselfde kan doen vir baba Elizabeth. Skielik het ek verstaan dat om 'n ma te wees is anders as om vriendinne te wees, maar dat ons dit steeds reg gekry het om 'n verhouding te hê ten spyte van die feit dat sy seker nie altyd saamgestem het met my besluite nie. Nou lê die taak voor my voete om te leer hoe om dieselfde reg te kry met my dogter. Die balans van dogter en ma en vriendin en ondersteun en raad gee en dissiplineer, ek het geen idee hoe my ma dit gedoen het nie! Dis nuwe lewensstadiums waarna ek ongelooflik baie uitsien, my stadium as ma en my ma as ouma. Ek het baie vinnig gesien dat ouma's 'n hele ander rol speel, dis nie net 'n ma wat ouer is nie... Nee, dis liefde kwadraat en bederf en nie net vir die kleinkind nie, maar ook vir haar dogter wat leer hoe om 'n ma te wees. Nou is my volgende wens dat ek eendag as ek 'n ouma word nogsteeds my beste vriendin het om my te help om die beste ouma te wees wat ek moontlik kan wees!
Antwoord 3: Vind iets wat julle in gemeen het en bou daarop tot dit lei tot meer! Luister na mekaar en wees meer geduldig mekaar in die proses, want dis hoe jy die ouderdomsverskil oorkom. Baie min vroue met 'n twintig-plus verskil in ouderdom sal vriendinne kan wees, so 'n verhouding met jou ma of dogter kan baie meer werk verg as wat ons bereid is om te doen. Dis nie altyd maklik nie, dis frustrerend selfs, smaak verskil, vaardighede verskil, waardes verskil selfs, maar met tyd is dit moontlik om 'n hegte verhouding te bou wat die toets van tyd kan weerstaan. Vind 'n gemene deler, 'n aktiwiteit, 'n skrywer, 'n sport, 'n stokperdjie, enige iets! Wees bereid om by mekaar te leer, maak staat op mekaar se kennis en vaardigehede. Een ding het die geneigdheid om te lei tot 'n volgende en dis waar die tyd wat julle saam bestee waardevol raak. Ek en my ma se naaldwerkprojekte het ons al van stad tot stad laat reis agter lap en gare en toerusting aan. In ander lande stap ons van winkel tot winkel om die mooiste lappies, of enige iets anders, te soek waarmee ons by die huis nog 'n handwerkprojekkie kan aanpak ter herninnering van ons reis. My trourok het ons ure en dae laat sit met naald en gare en dit lei tot laataand gesprekke oor drome en wense en dis waar 'n verhouding vlerke kry. Skielik is dit nie meer net oor die hier en die nou nie, maar julle begin om mekaar te help om te mik vir beter en groter en hoërin die toekoms. Die hulp kan in enige vorm kom, maar gewoontlik is dit klein goedjies wat die grootste verskil maak. Iemand wat belangstel, gereeld vra hoe dit gaan, sonder om druk uit te oefen. Iewers te midde van die belangstelling en liefde sal julle leer om mekaar se 'cheerlearders' te wees sonder om te veel daaroor te dink en dis waardevol. Iemand wat ondersteun en aanmoedig in elke aspek van die lewe. Ek sukkel nog self met die konsep dat 'n ma veronderstel is om ook grense te stel en reëls toe te pas, maar ook hierdie onwrikbare verhouding te probeer bou. Ek kan my net verbeel dat dit moeilik moet wees, so ek kan nie heeltemal uit die perspektief van 'n ma praat nie. Wat ek egter weet is dat dit moontlik moet wees om beide ma en vriendin, dogter en vriendin te kan wees. Ek en my ma is 'n klinklare bewys! My eie mikpunt is om die twee van mekaar te probeer skei met die hoop dat ek en my dogter eendag, net soos ek en my ma, mekaar se ander helfte kan wees. Tyd, geduld en belangstelling is die sleutels, dink ek, tot 'n goeie verhouding. Probeer mekaar sien as mense, nie net ma en dogter nie, gesels oor julle belangstellings soos twee vroue en julle sal dalk meer in gemeen vind as wat julle ooit kon dink. Jou ma was dalk eendag 'cool', dalk raak sy weer eendag vir jou 'cool', of dalk besef jy 'cool' is 'overrated'! Begin maklik. Daai gunstelingpoeding van jou, laat jou ma jou leer hoe om dit te maak! Daai app op jou dogter se foon wat jou intereseer, laat sy jou wys hoe dit werk. En luister, kyk mooi, neem in, wees teenwoordig! Daai poeding is dalk eendag jou eie dogter se gunstelingpoeding ook!