
Dorp: George Wes-Kaap
Antwoord 1: Carina : Ons grap altyd oor “dieselfde patroontjie”; Minyonne lyk soos ek (die rooi hare, die blou oë en die wit Ierse lyfies) maar is ons nie dankbaar sy het haar Pappa se wiskunde brein! Minyonne is ‘n enkel kind en was nog altyd uniek in hoe sy dink. Soos hulle sê; net dooie vissies “go with the flow”. Van jongs af het Minyonne ons laat verstaan “ek gaan nie swot nie” PUNT. Sy gaan die wêreld sien en in ‘n kwessie van 2 jaar kon sy dit amper verwesenlik. Haar werk op die skepe neem haar weg vir die grootste gedeelte van die jaar. Die tye wat sy wel by die huis is moet ons probeer opmaak vir verlore tyd. Dis hier waar almal en alles anders opsy geskuif word en ons tyd maak net vir mekaar. Nee sê al is jy moeg, of nie lus is, of al hou jy nie daarvan is nie ‘n opsie. Ons gaan doen die line dancing (ritme of nie!), ons gaan proe die wyn en pizza (al is jy meer ‘n slaai outjie), ons gaan Sondae saam kerk-toe (al is 08:30 in die oggend bietjie te vroeg), ons stap saam kruis-toe (al is daar net een hiker in die familie), ek kyk terwyl my enigste kind van ‘n hemel-hoë brug af spring (en al wat jy kan doen is bid : Hy sal Sy engele oor jou opdrag gee). Ek kyk verby die deurmekaar kamer die vuil skottelgoed op die kas in plaas van in die wasbak, die water op die badkamer vloer want ek ken die gemis as daai kamer vir meer as die helfte van die jaar leeg is. Ons los geen ruimte vir ons moes daardie gedoen het … ons doen dit! Goedgekeur: Minyonne
Antwoord 2: Carina : 2025 was ‘n rou en rowwe jaar. Ek en Minyonne se pa is na ‘n huwelik van 23 jaar in Maart geskei. Bewustlik was die keuse van albei kante om ‘n baie traumatiese ervaring draagliker te maak vir ons as ‘n stukkende gesin. Saam was ons drie in die skeihof, saam het ons drie gehuil toe ons daar wegry, saam het ons drie besluit oor wie kry wat sonder om te baklei oor aardse goed of oor die hoeveelheid geld wat geskik op moes word. Ons prokureur het ons as gebroke gesin so mooi opgesom: Alle mense los ‘n geur agter. Jy kan kies of jy die geur van Chanel no. 5 los en of jy ‘n “sweaty Betty” geur los. Vir die onpartydige mense wat in gekyk het op ons egskeiding het ons die geur van Chanel N˚5 agter gelaat. Dit was nogsteeds moeilik want Minyonne het terug gekom van oorsee na nou twee klein vreemde huise, badkamers wat sy moet deel, honde wat nou by my bly en haar ouers wat intussen besluit het om hul verhouding nog ‘n kans te gee 😊 Na hierdie trauma jaar kyk ons nou met sagte oë na mekaar. Ons vergewe makliker, sê eerste ek is jammer, druk mekaar bietjie langer, lag-sommer-net-meer en fokus op mekaar beste karaktertrekke … Chanel N˚5 … Chanel N˚5 Goedgekeur: Minyonne
Antwoord 3: Minyonne : Die regte antwoord sal seker wees; aanvaar mekaar se foute, maak tyd vir mekaar … al daardie perfekte handboek raad. Dalk is dit waar, maar makliker gesê as om te doen. As ons 100% eerlik moet wees probeer ons nog self hierdie vragie beantwoord. Ons ma-dogter-pad was nog nooit maklik nie en is steeds nie … maar ons werk regtig baie hard daaraan. Jou ma gaan jou miskien altyd wil “baby” en jou dogter jou alewig teister 😉 maar dit vat daardie gesamentlike moeite om mekaar net so klein bietjie meer grasie en aanvaarding te gee. Goedgekeur: Carina