
Dorp: Durbanville
Antwoord 1: Ek is my mamma se enigste kind, haar wonderwerkie soos sy altyd sê. Dit was nie haar keuse nie, maar dit is hoe die Here dit bestem het, en dit opsig self maak ons verhouding baie spesiaal. En toe word ek met twee seuns geseën en kry ouma "haar seuntjies", wat sy so graag wou gehad het. Hulle is haar hart se punt! Die oudste is reeds in die Hoërskool, maar is sy ouma nogsteeds sy 'tweede mamma' en sy veilige hawe. Vrydae is ook spesiale tyd - dis al tradisie - wat ouma saam met haar kleinseuns het. En dan vang ek en sy eers op oor die week se gebeure wanneer ek hulle na werk gaan haal. Ek het my lewe lank gedans en het my mamma ure van haar lewe opgeoffer om my rond te ry, te sit en wag tydens oefeninge, vir konserte en natuurlik die senuwees kalmeer vir dans-eksamens. En is sy tot vandag toe nog my grootste ondersteuner en "cheerleader"! Ons het ook al vele avonture saam gehad! Ons het met 'n paar geleenthede saam oorsee gereis. Ek was na my studies vir 'n jaar in Amerika. My ouers het vir 'n maand of twee ook daar kom toer en het ons 'n wonderlike twee weke saam gereis en ongelooflike wonderlike herinneringe gemaak deur California en Las Vegas. Jare daarna het ons weer Europe getoer en het ek hulle in Venecia ontmoet. Ons het soveel pret saam gehad - in die plekke waar ons gebly het, wat ons gesien en ervaar het en net spesiale oomblikke gedeel het (bv in Verona, Amsterdam en die suide van Frankryk). Vir my mamma se 60ste het ek haar gevat om te gaan "skydive". Ons het dit "tandem" gedoen en het ons saam in die vliegtuig opgegaan. Dit was een van mees opwindendste ervarings ooit! Die adrenalien daarna is net onbeskryflik. Buiten gereelde kuiers (braai, pot maak) is dit ook tradisie om saam op elkeen se verjaarsdag te wees en dit te vier. Sy word 77 in Maart en ek 51 in Februarie. Op skool was ek bevoorreg dat my mamma net halfdag gewerk het. Sy was 'n klere-maker van formaat! Vele middae het ek gehelp om patrone volgens die regte groottes te knip en dan reg (volgens die grein) op die materiaal te pak en knip, en dan het my mamma die mooiste uitrustings gemaak. Daar is soveel "klein dingetjies" wat ons deel - dinge wat ons soms nie hardop hoef te sê nie, maar wat die ander een onmiddelik sal verstaan of weet. En dan sal ons net lag, of sê wat die ander een dink! Soos korrekte spelling (of taalgebruik). Toe ek jonger was (en ek meer "me-time" gehad het) het ons ook 'n gereelde fliek-afspraak gehad - as ek reg onthou was dit op Sondae, en daarna lekker sushi gaan eet. Dit was ons bederwe! Ons ken mekaar se harte, mekaar se 'geheime' en deel alles met mekaar. Ons is baie lief vir mekaar.
Antwoord 2: Gedurende die afgelope twee jaar het my mamma (ongelukkig) twee keer in die hospitaal beland. Sy het vir jare lank met “long-Covid” simptome gesukkel, erge moegheid en bloeddruk. Verlede jaar het sy flou geword en van trappe afgeval en haarself ernstig beseer. Dit was net die Here se genade en wil dat ek met verlof was en daardie dag tuis (ek sou saam met my man en seuns op ons jongste se kriekettoer gegaan het). Ek kon dus vir twee weke langs haar sy wees – nie net as dogter nie, maar ook bietjie as “verpleegster”. Om haar te help, te versorg en daar te wees vir haar. Soortgelyk het onlangs gebeur en was sy weer twee weke in die hospitaal (vele tekorte, soos yster en bloedarmoede) en is sy geopereer om ‘n bloedklont te verwyder. Dit was ‘n uitdagende tyd… en ek (ons) was ontsettend bekommerd oor haar. Ek was so te sê elke dag, vir lang ure, by haar. Dit is immers wat ‘n dogter sou doen, maar as enigste, is sy al wat ek het! Niks was ‘n opoffering nie – net liefde. En ek dink dit het haar ook, wat uit ‘n generasie kom van onafhanklik, en privaat wees, my “toegelaat” het om te help en om goed vir haar te doen. Ons het ook oor “dieper” dinge van die lewe gepraat. Dit is mos in sulke tye wat die mens se sterflikheid ‘n groter realiteit word. En deur hierdie tye van dieper omgee, liefhê en versorg, het dit ons verhouding ook verdiep. Die ander “gebeurtenisse” is toe ek ‘n mamma geword het, en sy ‘n ouma van twee klein seuntjies. ‘n Vrou se wêreld verander heeltemal sodra jy self kinders het. Dit is nie net die besef dat jy “alles van jouself” vir jou kinders gee nie, maar jy besef ook hoeveel opofferinge jy maak, omdat jy jou kind so liefhet. My mamma het my/ons geweldig gehelp toe ons seuntjies klein was. Ek het by ‘n groot korporatiewe maatskappy gewerk en was dit lang ure weg van my gesin. My mamma het my/ons oudste van baba-tyd amper grootgemaak. Die sê-ding lui mos: “it takes a village to raise a child”. In my geval was my mamma my hele village. Sy was nie net die veilige hawe nie, sy was die oor as ek oorweldig was, die regte woorde met bemoediging en raad as ek nie meer geweet het hoe of wat om te doen nie, sy was die persoon met wie ek eerste die “eerstes” mee gedeel het (tot vandag toe nog) en sy was en is die een wat my seuns net so lief het soos ek. Daar is altyd goeie en opwindende tye as dit kom by kinders grootmaak, maar altyd ook moeilike en uitdagende tye. Maar deur alles, is en was sy altyd daar vir my (en ons seuns) – om te bederf (nes ‘n ouma kan), om te help, raad te gee en met haar hele hart lief te hê!
Antwoord 3: Ek glo met enige ma-dogter verhouding sal daar onstuimige tye wees. Tye wanneer een van die partye nie werklike begrip het vir die ander een se woorde, optrede of denkwyse nie. En vermoed dis grootliks weens die ouderdomsverskil en die konteks waarbinne die twee generasies grootgeword het. Maar soos hulle sê – my grysheid kom wysheid. En hoe ouer ek geword het, hoe meer begin ek verstaan. Daarom sal my raad aan ‘n ma en dogter die volgende wees: - Moenie te vinnig oordeel nie. Probeer jouself eers in die ander een se skoene sit. Daarmee saam moet jy die konteks van die ander se grootword, die uitdagings wat sy al in haar lewe ervaar het (verliese, traumas) in gedagte hou. Dit is baie moeilik – meeste van die tyd – want jy gaan dit nie werklik ooit kan verstaan nie, maar dit begin met “probeer”! - Vergewe mekaar Ons is almal maar net mens. Ons almal maak foute en ons maak mekaar seer met ons woorde of aksies – sonder dat ons die werklik bedoel. Ek weereens, dis baie moeilik om dan terug te staan en vir jouself te sê: “sy het dit nie so bedoel nie”, of “waarom het ek dit nou gesê of gedoen” (want jy weet, ja jy weet, jy het haar seergemaak). En dan… om te vergewe, of om van jou kant af om verskoning (vergifnis) te vra. - Vertel mekaar jul “geheime” (diepste seer) en deel jul grootste vreugdes Dis een van die sekerste dinge waarvan ek kan getuig, wat ‘n verhouding sterkter kan maak. Daar is egter altyd die risiko dat dit nie, maar vir my, was dit goed. En al het ek baie keer gewens ek het my mamma vroeër in my lewe vertel (of werklik vertrou om eerlik met haar te wees), glo ek die Here berei altwee se harte en emosies voor om dit op die regte tyd te doen. Maar doen dit! En deel julle vreugdes – wees saam bly, lag saam en lewe saam! - Sê jy’s lief vir haar (vir mekaar)! Die lewe is so ontsettend kort. En ek glo ons almal se tyd is reeds bepaal en daarom moet ons nie wag nie! Môre is dalk te laat. Gaan kuier by haar. Maak koffie en gesels net. Vra haar wat jy vir haar kan doen – of dit nou wasgoed is, of kaste pak. Gaan fliek saam. Eet daardie sushi! Wees net saam. Gee haar ‘n lang, diep, stywe druk! En sê vir haar jy’s lief vir haar! Ek weet my tyd met my mamma raak al hoe minder. So ek gryp elke geleentheid aan om die lewe nog saam met haar te leef! Want sy’s my mamma, en ek is baie lief vir haar.