Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Helga Schnetler

Helga Schnetler

Dorp: Pretoria

Antwoord 1: Monique is nie net my dogter nie – sy is my veilige plek, my klankbord en my grootste les in liefde. Van kleins af het ons ’n band ontwikkel wat gebou is op vertroue, eerlikheid en saam-wees, selfs in die stil oomblikke. Ons het saam gegroei deur fases van verandering, uitdagings en nuwe beginne. Ek het haar leer loop, maar sy het my geleer hoe om stadiger te leef, om te luister en om werklik teenwoordig te wees. Ons deel gesprekke, lagbuie, trane en daardie spesiale kyk wat sê: “Ek sien jou.” Ons verhouding gaan nie net oor ma en dogter nie, maar oor twee mense wat mekaar elke dag kies – met liefde, respek en ’n diep verbintenis wat nie altyd in woorde vasgevang kan word nie, maar wat duidelik sigbaar is.

Antwoord 2: Ons het al verskeie minder goeie tye saam deurgemaak. Toe ek deur ’n egskeiding gegaan het, was Monique nog in laerskool, en ons moes saam leer hoe om deur onsekerheid en verandering te beweeg. Ek het probeer sterk wees vir haar en haar boetie, maar sy het my ook op haar eie stil manier gedra – met begrip, aanpassing en ’n ongelooflike emosionele wysheid vir haar ouderdom. Later, toe sy in matriek geboelie is – eers aanlyn en toe ook by die skool – het ons verhouding verder verdiep. Aanlyn boeliegedrag kan verwoestend wees, en dit het vinnig oorgespoel na haar daaglikse lewe. Daar was aande van huil en angs, nagte van min slaap, gewig wat sy verloor het, en oomblikke waar ons ernstig oorweeg het om skole te verander net om haar te beskerm. In daardie tyd het ek haar probeer leer dat mens nie altyd van jou probleme kan wegloop nie, maar dat dit belangrik is om te leer hoe om dit in die gesig te staar, altyd met ondersteuning. Al wat ek werklik kon doen, was om vir haar te baklei, haar stem te wees wanneer sy dit nie self kon wees nie, en om altyd daar te wees wanneer sy my nodig gehad het. Daardie tyd het ons geleer wat onvoorwaardelike steun regtig beteken, en dit het ons band op ’n dieper, sterker manier gevorm. Nog ’n groot toets was toe sy vir ’n jaar Nederland toe is tydens die Covid-jaar. Die afstand was swaar, maar dit het ons geleer dat liefde nie aan fisiese nabyheid gebonde is nie. Ons band het nie verswak nie, dit het net sterker geword. Selfs toe ek n paar jaar terug ’n geleentheid gehad het vir bevordering, maar self getwyfel het, was dit Monique wat my gemotiveer het om verder te gaan. In daardie oomblik het die rolle amper omgeruil, sy was die een wat my aangemoedig om in myself te glo. Elke moeilike tyd het ons verhouding verdiep en gevorm. Ons het geleer om mekaar te vertrou, om eerlik te wees oor ons vrese, en om saam vorentoe te beweeg; altyd as ’n span.

Antwoord 3: Ons grootste raad aan ander ma’s en dogters is om vertroue eerste te stel. Op skool het Monique dikwels vir haar vriendinne gelag wanneer hulle iets vir my probeer wegsteek het “omdat ek ’n ma is”. Sy sou sê: “Moenie worry nie, my ma weet alles!” Daardie vertroue het nie vanself gekom nie – dit is gebou op eerlikheid en die wete dat wat tussen ons gedeel word, veilig is. Dit is noodsaaklik dat ’n dogter weet sy kan na haar ma toe kom en openlik praat, sonder vrees dat alles verder vertel gaan word of dat sy veroordeer sal word. ’n Goeie verhouding beteken ook om soms net te luister. Nie elke gesprek vra vir raad nie – soms is dit genoeg om net ’n oor te wees en teenwoordig te bly. Die belangrikste is dat sy jou vertrou: dat jy haar privaatheid sal respekteer, maar ook dat jy altyd sal doen wat die beste vir haar is, selfs wanneer dit nie die maklikste is nie.