Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Liezl Burger

Liezl Burger

Dorp: Kimberley

Antwoord 1: Woorde is so baie om ons verhouding te beskryf, maar dit is wie my Pikkie-kind is wat haar my hartsvriendin maak. Ons kan saam lag, huil, saam lugkastele bou laf wees of net stil word in mekaar se teenwoordigheid en nog steeds gevul word met vrede en vreugde wat onbeskryflik is. Sy is uniek en deur God aan ons gegee. Deur slegs 'n foon oproep kan sy aanvoel wanneer ek besig is om my te onttrek van die buitewêreld en sy weet net hoe om my uit die donkerte van Depressie te kry. Die siekte wat my so baie maal breek! Wanneer ek aan haar erken dat my moed min is en ek soms in my eie geloof twyfel, dan is sy sterk en herinner my weer daaraan dat die Here wil hê ons moet minder raak en Hy meer, ons moet meer op ons knieë wees voor God. Ek moet egter ’n knie-vervanging kry en kan nie op my regterknie op die grond gaan nie, sy lag dan net en sê “Mamma, een knie is genoeg vir Jesus.” Ons verhouding is `n veilige hawe wat gebou is op vertroue en absolute geloof in mekaar. `n Tipe liefde wat jou net laat weet jy is genoeg net soos jy is. Ons kan net vir mekaar kyk en dan presies weet as iets iewers krap. En dan kan die woorde en trane vloei, want in mekaar se teenwoordigheid kan ons net stil word”. Sy het ’n volwasse vrou geword wat God haar anker gemaak het. My hart wil bars van trots as ek sien hoe passievol sy oor haar werk praat. Sy was nie werklik ’n Fisio wat met “babas” wou werk nie. In haar een blok wat sy vir ’n ruk prakties moes doen, was sy ingedeel by Rooikruis Hospitaal, en die seer van kinders wat sy daar ervaar het sal haar altyd bybly. Dit was ’n magtelose gevoel, want die kleine lyfies was totaal en al afhanklik van jou as Fisio. Dit is net ’n verskriklike seer om te besef jy kan hulle nie gesond maak nie, maar ten minste kan jy daar wees vir hulle wanneer hulle jou nodig het. Tog het die “seer” van die blok iets in haar wakker gemaak, en nou kan sy nie uitgepraat raak wanner sy in die Pediatriese afdeling vir ’n afspraak was nie. Soms nog met ’n traan in die oog. Haar uitgangspunt is om die lewe voluit te leef, en daarmee het sy my so bietjie uit my gemaaksone geruk dat ek selfs saam met haar en vriendinne na ’n konsert van “Early B” gegaan het…en net so hard saam gesing en dans het. Sy laat ervaar my wat is dit werklik om te “leef” en nie net te bestaan nie.

Antwoord 2: Ons het in Springbok gebly, Pappa het sy werk verloor, ons kon nie meer die huis bekostig nie en het na ’n klein twee-slaapkamer woonstel getrek. Ons het nie gaan lê nie, die meubels wat nie kon inpas nie is gestoor en ons het die plekkie weer ons eie gemaak. Ten spyte van die skok, het ons weer besef dat God ons steeds seën met ’n dak oor ons kop en ons as gesin is nog steeds bymekaar. Pikkie het 'n beurs gekry om Fisio te studeur by UWK. My hart was stukkend want dit sou die eerste keer wees wat sy weg van die huis was, maar tog gevul met ongelooflike trots vir ons pragtige dogter wat ’n volle beurs gekry het omdat sy bitter hard op skool gewerk het. Ek het besef ek moet "laat gaan", want dit is haar toekoms, geluk en haar drome wat sy moet uitleef. Dis haar kans om nuwe vriendskapbande te smee en die wêreld weg van ons beperkte twee-slaapkamer woonstel te beleef. Ek is gelukkig wanneer sy gelukkig is, en my hart is seer wanneer die wêreld en omstandighede haar seer maak. Die leeu-wyfie in my word dan wakker, dan kos dit groot wilskrag om terug te staan. Dit het my hart gebreek om te besef hoe vinnig het omstandighede haar volwasse gemaak, terwyl sy nog kind is. Die dag toe sy met 'n oorvol Bantam-bakkie die pad alleen aanpak Kaap toe, was ek stukkend, maar God het haar 'n geleentheid gegee en ek moes terugstaan. Ons het 'n ander manier van kommunikeer gevind met "video-call". Die verlange was beter want ek kon sien sy is gelukkig. Oor honderde kilometers het ons verhouding gegroei na die ongelooflike verhouding wat dit tans tussen `n ma en volwasse dogter is wat altyd meer glo in die ander een se vermoëns. Deur moeilike omstandighede, soms maande van sente omdraai en nie weet waar die volgende vandaan gaan kom nie, was ons Vader goed vir ons. Pikkie het geleer dat student wees nie net rooskleurig is nie, die lewe gee dwars houe, maar God voorsien altyd…net op Sy tyd en nie ons s’n nie. Ons het intussen getrek na Kimberley agv werksverpligtinge. Sy was bevoorreg om haar Zuma-jaar in Bloemfontein te doen en nou ’n voltydse Fisioterapeut in Kimberley te wees. Natuurlik in haar eie woonstel, want sy wil onafhanklik wees, en haar eie ding doen, wat ek respekteer en diep koester. In 2024 was ek in Bloem-Care hospitaal opgeneem vir erge depressie, ons gesin het deur ’n groot swaarkry tyd gegaan, waarvoor ek myself blameer. Dit is ’n diep donker siekte wat die hele gesin affekteer. Sy was die anker wat sterk gestaan het en die rol as “Ma” vir ons seun was terwyl ek in die hospitaal was.

Antwoord 3: Beskou jou dogter as jou maat, mentor, raadgewer en vriendin, maar gee haar die ruimte om haar vlerkte te sprei en ook net jou dogter te wees vir die tye wat sy jou as haar Mamma nodig het. Sy het haar eie persoonlikheid, eie smaak en moet haar eie menswees vind in die wye wêreld, wees daar vir haar wanneer dinge in die buitewêreld moeilik en soms buite beheer wil voel. Sy moet haar eie ervaring van die lewe buite die veilige kokon van die huis ervaar, en ook haar kop stamp om te leer wat is reg en wat nie gedoen moet word volgens God se woord. Dit is haar manier van groei tot 'n volwasse vrou. So moet ons ook weet dat alhoewel jy al die lewe ervaar het en baie raad het, is dit nog haar keuses om te maak en of sy dit wil aanvaar. Weet dat afstand en dinge van die buitelewe altyd verbygaan en die veilige hawe aan die einde van die dag wanneer die wêreld stil raak, steeds daar is. Ons albei het ons eie “wil” en stamp soms lekker koppe, maar dis heerlik om ons verskille uit te praat en op die ou einde mekaar se standpunte in te sien. Ons albei is “wit of swart” mense, maar tog bring baie van ons redenasies ons op die ou einde uit by “grys”. Dis daardie oomblikke wat die realiteit ons net weer wys dat iets tog mag “grys” wees. Dit wat Pikkie in ons huis mee grootgeword het, het haar “normaal” daar buite geword. Sy het geleer om haar sente om te draai, jy gaan nie lê as die lewe rof is nie en praat oor gevoelens eerder as om dit op te krop. Wees daar vir jou vriendinne as hulle jou nodig het. Niemand moet in ‘n “boksie” geplaas word van wat mag en nie mag gedoen word nie. Elkeen het hul eie persoonlikheid en is uniek deur God geskape. Sy is baie na aan haar Pappa, ek het effens jaloers gevoel om te sien hoe spesiaal die band tussen hulle is. Maar dit het defnitief voordele, sy staan nie terug daarvoor om ’n kar se battery na te gaan, ’n gasbottel om te ruil of ’n hammer of skroewedraaier uit te haal om iets reg te maak nie. Daar was ’n kasdeurtjie wat reg gemaak moes word by hul praktyk, en die een vennoot het eendag vir haar gesê dat hy nooit geweet het sy is so “handig” nie, wat natuurlik nou nog ’n glimlig op ons gesin se gesigte sit. 😊 Die verhouding tussen Pa en dogter bring ’n ander betekenis na haar lewe, dit is ’n groot voorreg om ’n Vader-figuur in jou lewe te hê. My jaloesie moes ek leer om te verwerk en eerder hul verhouding te waardeer, dit is spesiaal en moet gekoester word. Wees altyd lief vir haar vir wie sy is.