Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Sone Iori

Sone Iori

Dorp: Nelspruit

Antwoord 1: Ons kameraderie - ons is werklik daar vir mekaar, onvoorwaardelik en sonder oordeel. Ons is 'n gedugte span wat die wêreld (en mekaar) se probleme kan oplos oor ontelbare koppies koffie. Ons kan vir ure aanmekaar lag, vir mekaar en saam met mekaar. Laf wees is ons middel name, soos sy wat probeer om haarself op te krul op my skoot asof sy nog 'n klein dogtertjie is en nie ellelange bene het nie! Ons koester ons kekkel-en-kloek sessies (uiteet en inkopies). Soos met beste vriendinne, dryf ons mekaar ook soms tot trane van frustrasie en maak mekaar goed kwaad, maar vergewe gou. In mekaar het ons sommer ook 'n styl-ghoeroe en grimeerkunstenaar, opinies is gratis! Ons het ons eie unieke dingetjies – 'n spesiale taal wat net ons verstaan. 'n Onmeetbare liefde vir mekaar, respek en geloof is ons anker in die alledaagse lewe en ons herinner mekaar gereeld hiervan.

Antwoord 2: Toe sy in 2023 as eerstejaar weg van die huis af is, het ek die gemis baie intens ervaar want sy is my enigste kind. Ek was gedurig bekommerd oor haar of, soos sy dit stel: Ma was paranoïes! Ons het 'n toep gedeel wat ons daaglikse bewegings monitor en alhoewel dit slegs was vir veiligheid, het sy gevoel sy word konstant dopgehou. Dit het tot groot frustrasie en hartseer gelei want ek wou nog deel wees van haar daaglikse lewe en sy wou bietjie wegkom en haar eie lewe begin lei. Ek was bang ek ‘verloor’ haar, sy het gevoel ek versmoor haar. Na baie trane en eerlike, rou gesprekke kon ons 'n middeweg vind. Ons moes begrip toon vir mekaar en eerlik wees oor ons gevoelens sonder om te oor-analiseer of dit as 'n persoonlik aanval te sien. Ek moes leer om te laat gaan en haar te vertrou om haar eie weg te vind sonder om heeltyd oor haar skouer te loer. Sy het op haar beurt my ingesluit in haar daaglikse lewe – 'n vinnige boodskap, 'n oulike foto af en toe en meer gereelde oproepe. Ons het stadig maar seker aangepas by ons nuwe ritme en kommunikeer nou beter as ooit. Ons toon nou beter begrip vir mekaar se gevoelens en koester eerder elke tydjie saam - al is dan ook net oor 'n video oproep.

Antwoord 3: Kommunikasie! Gereelde, eerlike gesprekke met mekaar in vandag se besig lewe is broodnodig. Al mag daardie gesprekke ook soms seer en moeilik wees, hou aan kommunikeer want dit is die gom wat ons harte aan mekaar bind. Wees eerlik oor julle verwagtings, van julself en van mekaar en leer om saam daardie verwagtings te bestuur. Baklei is normaal, maar baklei eerder vir mekaar. Vergewe gou en wees opreg en sonder voorbehoud net lief vir mekaar. Liefde oorwin alles!