
Dorp: Malmesbury
Antwoord 1: Ons spot altyd in ons gesin en sê ek is meer soos my pa en my broer is meer soos my ma. Soms dink ek dis waarom my en my ma se verhouding so spesiaal is, ek aard tog na haar man met wie sy al amper dertig jaar getroud is. Ons verhouding bestaan egter uit verskeie fasette uit. Sy is my ma ja, maar sy is ook my beste vriendin en klankbord en ek dieselfde weer vir haar. As ma is sy die een wat ek by my wil hê wanneer ek siek is, al is ek 26 en getroud. Op ons troue, was my ma, naas my man, die belangrikste persoon daar vir wie dit ook 'n spesiale dag moes gewees het. Ons hanteer die lewe op verskillende maniere, maar leer ook so by mekaar. My ma is die sagte een, amper soos 'n malvalekker en ek weer die harde toffie, beide is wel soet. In sekere tye van ons lewe praat ons amper elke dag en ander kere praat ons weer elke ander week, maar nes die universiteitsvriendin wat mens jare laas gesien het en dit voel asof julle nooit weg was van mekaar nie, is dit wanneer ek weer by my ma is of met haar praat. Ons verhouding is spesiaal, omdat dit is wat dit is, ons hoef dit nie te deel nie, ons hoef nie ander mense in die kring in te laat nie en niemand anders hoef dit te verstaan nie, dit ons s'n. Dit is ons teen die wêreld.
Antwoord 2: In my eerste jaar van universiteit het ek geweldig swaar gekry, nie vir 'n spesifieke rede nie, ek kon net nie aanpas nie. Ek het op Potch geswot en was 700km van die huis af. Die eerste twee weke het ek verskriklik huis toe verlang, wat op daardie stadium vir almal vreemd was, want ek was al van graad 8 af in die koshuis. Ek het baie gehuil, veral wanneer ek met my ma oor die foon gepraat het. Dit het haar so onstel, sy het op 'n stadium gesê sy is spyt sy het so goeie huis omgewing geskep dat ek nie daar wou weggaan nie. Ek het haar gesmeek om my te kom haal - wat sy heeltemal bereid was om te doen. Uit 'n plek van liefde uit, het my pa my vir die res van die oriënteringsperiode verbied om met my ma te praat. As ons nou daaroor praat lag ons, want ek het drie jaar later die Primaria van my koshuis geword, twee grade gekry en in 2021 op my eie Kaapstad toe getrek om my klerkskap te doen. Ek weet vandag dat al was my ma "verbied" om met my in daardie twee weke te praat, sy met die Here van my gepraat het en dit is waarom ek die vrou kan wees wie ek vandag is.
Antwoord 3: Dit is eintlik heel eenvoudig - laat mekaar toe om hulself te wees - foute en al. Daar is nie iets wat ons vir mekaar wegsteek nie. My ma het nog nooit voorgegee dat sy perfek is nie en dit beteken ek het nog nooit gevoel dat ek voor haar hoef perfek te wees nie.