
Dorp: Somerset West
Antwoord 1: Dogter Miché: “Ons is definitief beste vriendinne, ons doen alles saam van “shopping” vir vyf tot ses ure na 20-minute tot ‘n uur op die foon gesels waar ek eintlik net vinnig iets wou uitvind by my Ma al bly ons seker net so 10-minute van mekaar af en wat dit ook so lekker maak as ons iets vinnig wil reël vir ‘n koffie of tee en koek.” Ma Carin: “Miché is nie net my dogter nie, sy is ook my béste vriendin. Ek kan haar raad vra oor enige iets, veral as dit by klere kom. Sy weet net wat my pas en wat nie en ek is mal daaroor as sy vir my kledingstukke uitkies, soms goedjies wat ek nooit ooit self sou kies nie, maar sy ken my so goed en weet presies wat sal werk en wat nie.” Dogter Miché: “Ander mense kan ook getuig dat ek en my Ma die “earl grey tea ladies” is. Ek gaan nêrens sonder my Earl Grey tee nie, ook ‘n tee wat Ouma Irene vir ons geleer het en wat ek en my Ma gereeld geniet. My Ma is ‘n wonderlike en liefdevolle mens, sy gaan altyd uit haar pad uit om te help. Ek kan haar enige tyd bel en vra of sy kan help met my baba dogtertjie, Milané, dan is sy beskikbaar om my te help. Ek en my Ma kan ook sit en gesels asof ek haar weke laas gesien het. Die gesels hou nooit op nie en dis ‘n voorreg om dit te kan deel met my Ma.” Ma Carin: “Ek kan haar ook enige tyd pla wanneer ek hulp nodig het met my rekenaar. Sy is regtig haar Ma se slim kind (alhoewel, haar ouer boetie is net so slim kind, ek wil nie uitsonderings maak nie).” Dogter Miché: “Ons het ook definitief telepatie met mekaar, ek was een keer baie lus vir koffie en koek op ‘n Vrydag toe bel my Ma my en vra of ek ‘n Woolies koffie en ietsie soet wil hê. Hoe wonderlik is dit nie om so iets met iemand te kan deel?” Ma Carin: “Soos sy ook genoem het, ons is regtig telepaties op mekaar ingestel. Ek het al aan goed gedink en dan sal sy byvoorbeeld die volgende dag dié spesifieke onderwerp opbring.”
Antwoord 2: Dogter Miché: “Ek het nog altyd gehoop dat ek ‘n dogtertjie (of twee) kry eendag, maar toe ek my man, Christiaan, trou wie se familie meestal uit mans bestaan, het ek myself voorberei vir ‘n seuntjie. Toe ons uitvind ons is swanger en ons die “gender reveal” by my ouers se huis hou, het my Ma optimisties geraai dit is ‘n dogtertjie en ek gedroom van 'n dogtertjie (maar ek het steeds gedink ek gaan 'n seuntjie kry). Tot my en my man se verbasing het ons toe uitgevind ons kry ‘n dogtertjie. Ek was sonder woorde opgewonde! Ons Liewe Vader het vir ons 'n groot geskenk gegee. Dit is só spesiaal want nou kan ek die hegte band tussen my en my Ma ook deel met my dogtertjie, Milané. Dit is ook ekstra spesiaal om my Ma te sien as ‘n Ouma. Ek dink mens besef eers hoe baie jou Ma vir jou gedoen het wanneer jy self ‘n Ma word en ek is bevoorreg om haar as ‘n Ouma te sien vir my dogtertjie.” Ma Carin: “Ek het my sussie, Ansie, aan die dood afgestaan in Augustus 2024 met wie ek en my dogter ook ‘n baie hegte band gehad het. Dit was ‘n baie hartseer dag, maar alhoewel dit hartseer was, het Miché gereël met haar werk om dadelik deur te ry na ons huis toe om my te kom ondersteun en vertroos. Dit het so ongelooflik baie beteken vir my. Sy het ook baie gehelp met die begrafnis brief vir my sussie. Ek is ook in Oktober 2023 (op my man se verjaarsdag) gediagnoseer met borskanker. Dit was ‘n geweldige slag vir my, ek het altyd gedink dit sal my gespaar bly, want my Ma het ook borskanker gehad (en later sarkoomkanker, haar been moes onder haar knie geamputeer word). Ek was die enigste kind nog in die huis, my Pa is oorlede net na ek matriek geskryf het. Ek moes oral saam my Ma gaan, dokters, chemoterapie ens. Ek was maar 25 toe sy oorlede is en my seun (oudste) net 2 maande oud. Tydens my borskanker tyd het Miché vir my net so geweldig baie beteken en my bygestaan. En dan het sy ook nog tydens haar swangerskap vir my en my man se 60ste verjaarsdae die mees wonderlike wegbreek naweek aan die Weskus gereël vir ons familie en vriende. Dit was ‘n onvergeetlike lekker tyd en ek sal dit altyd koester, veral haar moeite tydens haar swangerskap en geboorte van ons pragtige kleinkind, Milané.”
Antwoord 3: Dogter Miché: “Almal sal altyd sê die belangrikste eienskap van ‘n goeie verhouding is kommunikasie en ons kan daarvan getuig. Dit is belangrik om uit te reik na jou ma en/of dogter. ‘n Vinnige WhatsApp met ‘n kort boodskap beteken die wêreld vir ‘n mens en om in te “check” gereeld, nie net oor die foon nie, maar ook in persoon is belangrik. Wees die mindere en reik uit na jou ma en/of dogter. Vind iets waarvan julle beide hou en gaan doen dit, al is dit tennis of padel saam speel, of saam gaan Zumba by die gymnasium, of mieliepitte by die huis te pop en Smarties in te gooi en saam ‘n fliek op die TV te kyk, of iets eenvoudig soos ‘n koffie of tee te drink (dit kan selfs ‘n lekker wyntjie wees) en net te gesels. Dit is ook belangrik om vir jou ma en/of dogter gereeld te sê dat jy lief is vir haar.” Ma Carin: “Ek glo, familie is alles, veral die verhouding tussen ‘n Ma en haar dogter. Dit is so spesiaal en ek kan nie vir ons Hemelse Pa genoeg dankie sê vir so ‘n “awesome” dogter/vriendin nie. Nou is dit nog meer spesiaal met die geboorte van Milané’tjie. Ons drie meisies kan lekker “shop” en rondloop en sommer net lekker dinge saamdoen. My raad vir ander ma’s en dogters – wees daar vir mekaar, wees lief vir mekaar en wys dit! Ek beaam alles wat Miché hierbo genoem het. Ek raak sommer opgewonde wanneer ek sien dis Miché wat bel of ‘n WhatsApp stuur. Ek het al baie vir haar gesê en ek glo dit met my hele hart – sy is my “guardian angel”. Dit het al baie gebeur dat ons byvoorbeeld in ‘n winkel is en ek wil iets koop, dan sal sy sien daar is iets fout, soos ‘n skeurtjie in die materiaal, of ‘n koppie wat gekraak is. Haar moeder sien dit nie raak nie, want die oë is nie meer van die beste nie en soms het ek nie ‘n leesbril byderhand nie. Gelukkig is Miché daar om haar Ma te help. Nee regtig, mens se kinders is so spesiaal, maar ‘n dogter is so ekstra bederf van Bo af en vir haar is ek oneindig dankbaar!”