Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Linda Swanepoel

Linda Swanepoel

Dorp: Pretoria

Antwoord 1: Mense vra my dikwels wat die verhouding tussen my en my dogters ,Chanté, Jeanine en Dunay so besonders maak. My antwoord is altyd dieselfde, ons het saam grootgeword. Nie net in jare nie, maar in seer, in stilte, in oorlewing en in ’n liefde wat geweier het om te breek. Ek het my eerste dogter gekry toe ek self nog net agtien was. Ek was nog besig om my eie pad te soek toe ek skielik iemand anders se hele wêreld moes word. Twee jaar later is my tweede dogter gebore, en my hart het groter geword.Van daardie dag af was my lewe nie meer net myne nie, dit was ons s’n. Toe my jongste, Dunay, gebore is, het ek weer belowe, my kinders sal nooit alleen deur die lewe stap nie. Ons pad was nie maklik nie. My oudste twee se pa het nie fisies verdwyn nie, maar emosioneel het hy stadig weggeraak toe hy weer trou en ’n nuwe gesin begin. Ek het gesien hoe hul harte breek, hoe hoop stiller word, hoe kinders te vroeg sterk moes wees. Dunay se pa was nooit werklik teenwoordig nie, soms was daar finansiële bydraes, maar geen belangstelling in haar wêreld, haar vrese of haar drome nie. En weer moes ’n klein dogtertjie leer wat dit beteken om nie gekies te word nie. In daardie jare het ek baie nagte wakker gelê. Ek het gehuil, gebid, gewerk en gewonder hoe ek alles gaan regkry. Ek moes dikwels kies tussen my eie hart en my kinders se veiligheid en elke keer het ek hulle gekies. Ek kon nie altyd alles regmaak nie, maar ek was daar. Ek het lang ure gewerk en alleen gesorg. Ek sou dit weer doen, sonder om te huiwer. Van vroeg af het ek geweet, ek sal nie net hulle ma wees nie, ek sal ook die een wees wat bly. Die een wat opdaag. Ek het geen atletiekbyeenkoms, netbal of sagtebalwedstryd gemis nie. Al was ek moeg, het ek langs die veld gestaan met water en iets vir energie. Ek sou dit nooit mis. Ons huis het ons veilige hawe geword, ’n plek waar trane nie weggesteek word nie, waar seer uitgespreek mag word, waar ons saam bid en saam hoop. Mettertyd het ons band gegroei tot iets meer as net familie. Ons het beste vriendinne geword. Ons lag saam, huil saam, bid saam. Selfs wanneer ons nie fisies bymekaar is nie, kan ek nie gaan slaap voordat ek weet hulle is veilig nie. ’n Nag, Mamma oor WhatsApp beteken vir my meer as enigiets anders. Vandag sien ek hoe my dogters blom. Twee is verloof aan mans wat hulle respekteer en liefhet. Die jongste stap haar eie pad met haar eie drome. Hulle sê vir my, Mamma, eendag sal jy ons in die isle afstap. Ons sal saam met jou dans. En dan weet ek ,liefde word nie bepaal deur titels nie, maar deur teenwoordigheid. Wat ons verhouding so besonders maak, is nie dat ons nooit seergekry het nie, maar dat ons mekaar gekies het deur alles. Ons is nie net ma en dogters nie, ons is mekaar se skuiling. My dogters het nie altyd hul pa’s gehad nie, maar hulle het my gehad. En ek sal hulle altyd hê.

Antwoord 2: Ons het nie net die goeie saam beleef nie, ons het mekaar deur die donkerste tye gedra. Die swaarste tyd in ons lewe was toe my ma skielik aan kanker oorlede is. Sy was die pilaar van ons familie. Elke dogter van my het op haar eie manier gegee wat sy kon. Chante het my ma rondgery na mediese afsprake. Dunay het elke oggend na haar gekyk, kos en pille gegee en sag olie op haar kop gesmeer toe haar hare begin uitval. Jeanine was in matriek, maar wou nie eers matriekafskeid toe gaan nie, want haar ouma was besig om te sterf.Hulle ouma was hulle alles. Ons almal het daardie verlies ongelooflik swaar gedra. Nie lank daarna nie het nog iets gebeur. My oudste dogter se sig het skielik begin verswak. Eers was haar oë net vaag, toe raak sy heeltemal blind in een oog. Ek was verskriklik bang. Ek het gehuil soos nog nooit tevore nie. Dit was in daardie tyd dat ek begin bid het soos ek nog nooit gebid het nie. My verhouding met God het daar begin verander, my geloof het gegroei, en my vertroue in Hom het my enigste houvas geword. Chante moes vir ’n CT-scan gaan. Ons het geen medies gehad nie en niemand kon help nie. Ek het my motor ingeruil vir ’n bakkie net om kontant terug te kry,R10 000, sodat ek vir die scan kon betaal. Dit was alles wat ek gehad het, maar ek sou dit weer doen sonder om te dink. Na die scan het haar sig begin terugkom. Vandag, twee tot drie jaar later, sien sy normaal. Vir my was dit nie net medies nie, dit was gebed, dit was geloof, dit was ’n wonderwerk van my Groot God. Daardie tyd was een van die moeilikstes in ons lewens, maar dit het ook iets kosbaars gebring, dit het God in ons huis gevestig. My liefde vir die Here het sterker geword, en my dogters se geloof saam met myne. Ons het nie net deur pyn gegaan nie, ons het saam gegroei, saam gebid en saam vasgehou toe alles moeilik was.

Antwoord 3: As ek ons storie moet omskep in raad vir ander ma’s en dogters, is dit dit, kies mekaar, selfs wanneer dit seer is en wanneer dit makliker voel om weg te draai. Verhoudings word nie in die maklike dae gebou nie, maar in die oomblikke wanneer mens teleurgesteld, moeg of seergemaak is. Dis juis daar waar ’n keuse nodig is om nie te vlug nie, maar te bly. Wees daar nie net fisies nie, maar met jou hele hart. Dit beteken om te luister sonder om dadelik reg te maak, om teenwoordig te wees sonder om te oordeel, en om soms net stil langs mekaar te sit wanneer woorde te min voel. Moenie jou liefde aan voorwaardes koppel nie, laat jou dogter weet sy hoef niks te bewys om geliefd te wees nie. Liefde wat veilig is, skep ruimte vir eerlikheid, vir foute, vir groei. Praat eerlik, al is dit ongemaklik, want stilte bou mure waar gesprekke brûe kan wees. Moenie wag dat seer te groot word voordat julle daaroor praat nie. Vra mekaar hoe dit regtig gaan. Luister om te verstaan, nie om te wen nie. Soms is die grootste geskenk wat ’n ma of dogter kan gee, net om te sê, Ek hoor jou. Bou saam aan geloof, waardes of beginsels wat julle dra wanneer julle self nie meer sterk is nie. Of dit gebed is, gedeelde waardes, of net die wete dat julle saam aan iets groter vashou, dit word die anker in storms. Wanneer die lewe skud, is dit hierdie fondasie wat maak dat julle nie uitmekaar dryf nie, maar nader aan mekaar beweeg. Wees mekaar se veilige plek waar daar geen oordeel is nie, net arms wat oopgaan. Laat jou dogter weet sy kan altyd terugkom, maak nie saak wat gebeur nie. En as dogter, onthou jou ma is ook mens, sy raak moeg, sy maak foute, sy leer steeds. Sagtheid teenoor mekaar hou ’n verhouding lewendig. Gee tyd eerder as net dinge, luister meer as wat jy praat. Teenwoordigheid weeg altyd swaarder as geskenke. Sit fone neer. Loop saam. Kuier saam. Deel stories. Sê vandag nog, Ek is lief vir jou, Ek is trots op jou, en, Jy is veilig by my. Wag nie vir ’n perfekte oomblik nie, vandag is genoeg. Onthou dat niemand ’n perfekte ma of ’n perfekte dogter is nie. Ons maak foute, ons word moeg, ons sê soms dinge wat ons nie bedoel nie. Maar vergifnis, geduld en aanhou liefhê bou iets wat nie maklik breek nie. Om jammer te sê is nie swakheid nie, dis liefde wat groei. En wanneer die storms kom, want hulle sal, hou mekaar vas. Moenie mekaar los wanneer die lewe hard word nie. Dis juis in die donkerste tye dat ’n band verdiep en vir altyd verander. Wat deur trane, gebed, eerlikheid en onvoorwaardelike liefde gebou word, kan nie maklik vernietig word nie. Dit is ons storie. En dit is hoe pyn, geloof en volgehoue liefde ’n verhouding nie net sterk gemaak het nie, maar heilig.