Dorp: Hanover
Antwoord 1: Hy het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. My ma het my geken voor ek self geweet het wie ek is, en tog stap sy vandag nog langs my soos ek groei en verander. My grootste drome is nie te groot vir haar om saam in te glo nie. Ons verhouding is spesiaal, want ek is sy en sy is ek. Ons het in 2025 ‘n besigheid saam begin, en ons werk elke dag saam. Nie net is sy my ma nie, maar ook my beste vreindin en vennoot. In haar kombuis het ek geleer dat liefde nie altyd met woorde gesê word nie, maar dikwels geknie word, geroer word en stadig prut. Dit is in haar huis waar ek altyd veilig voel — waar ek gesien en verstaan word sonder om iets te verduidelik. In haar kamer het ek leer Bybel lees, geleer van vrouwees en tittewyd en deur haar voorbeeld het ek geleer wie ek eendag wil wees, in my huis, my land en my taal.
Antwoord 2: Daar is soveel wat hierdie lewe ons al geleer het. As boervrouens ken ons droogte, verlies en groter afhanklikheid. My ma was ‘n paar jaar terug gediagnoseer met kanker. Die lewe waarsku jou nie, hy hou nie jou hand vas nie en hy kry jou nie jammer nie. Dit is ‘n yskoue gevoel om een van die mense vir wie jy die heel liefste is in die oë te kyk en jy weet jy kan absoluut niks vir hulle doen nie. Ons hele gesin het in hierdie tyd besef dat ons nie vir onsself kan lewe nie. Ons weet hoe vinnig alles kan verander en ons is elke dag dankbaar dat sy in remissie is. My en my ma se liefdestaal is kosmaak. Ons kan ure saam in die kombuis spandeer en gesels oor nuwe resepte. Nadat ek getrou het en ook op ‘n plaas kom bly het, moes ek vinnig huisvrou word. As onderwysseres het ek ’n aanstelling in ’n tydelike departementele pos by ’n skool in ons dorpie se informele nedersetting gekry, waar ek skoolgehou het tot my kontrak in Desember 2023 verval het. Ek moes ek baie vinnig, baie kreatief raak om myself besig te hou in ‘n afgeleë dorpie met baie min werksgeleenthede vir vrouens. Na aanloop van ‘n kosblad wat ek op Instagram gestig het, het ek en my ma besluit om ‘n resepteboek saam te skryf en te self-publiseer. Vandag staan ons boek, KAROOMANNA, in kombuise regoor Suid-Afrika. Dit is beslis ‘n lewens-hoogtepunt en al is dit een van ons trotste en gelukkigste stories, besef ons dat dit nie uit ons hand uit kom nie en ons is dankbaar vir Sy genade. Om as Ma en dogter saam aan so projek te kon werk het ons soveel nader aan mekaar gebring. Ons verstaan mekaar en weet presies hoe die ander een voel en hoe sy gaan reageer. Ons is eerlik met mekaar en gun mekaar net die beste. Ons is bereid om by mekaar te leer en regtig te luister. Ons het n oop kommunikasie-kanaal.
Antwoord 3: Dit is okay om nie altyd dieselfde te wees of dieselfde te dink nie. Maar die enigste vrou wat ooit vir jou meer geluk en sukses gun as vir haarself is jou ma. Moet dit nie misbruik of miskyk nie. Wees openlik, eerlik en praat probleme uit - moenie wag dat dit ‘n groter en groter skeiding tussen julle vorm nie. In die fase van my lewe waar ek nou self ‘n Mamma word verstaan ek vir die eerste keer regtig die onvoorwaardelike liefde wat ‘n ma vir haar kind het. Voel veilig in die wete dat sy altyd in jou kant sal wees.