
Dorp: Hartbeespoort
Antwoord 1: Alisha is my klein prinsessie al vanaf sy gebore is (ha! Elke hoender dink mos haar kuikens is dié mooiste...). Maar regtig....sy was as babatjie soos fyn kosbare porselein.... Van kleins af het sy gemaklik gevoel om vir my die 'moeiliker vrae van die lewe' te kom vra en ek as mamma was bevoorreg dat sy met mý daaroor wil gesels. Ons albei is mal daaroor om saam na ń spa toe te gaan en net lekker tyd daar saam deur te bring - te ontspan en ń hond uit ń bos uit te klets oor allerhande dinge. Alhoewel sy baie keer raad vir my vra, het ek ook al baie by háár geleer en het ek ń trotse mamma-hart om te sien hoe die saadjies wat ek van kleins af in haar hartjie geplant het, nou in haar jong-vrou-lewe (sy word hierdie jaar 22) wortel skiet en opkom.
Antwoord 2: Sy is al van 6-jarige ouderdom ń kranige klein dansertjie gewees en het tot en met einde 2024 gedans (haar Teachers danseksamen in Hip Hop en Modern met lof geslaag). Oor die jare was dit vir my so lekker om haar na haar dansklasse toe te vat, kostuums te gaan aanpas, danskonserte/kompetisies/prysuitdelings by te woon, ens. Oppad na haar dans kompetisies in Pretoria (ons bly in Hartbeespoort) het ons lekker geselstyd gehad in die kar en was soms net lekker laf, maar het ook soms oor die meer ernstige dinge van die lewe gepraat. Hierdie 'alleen-oomblikke' van ons sal ek vir altyd koester, want dit het ons 'bonding' as mamma-meisiekind-verhouding net elke keer sterker gemaak. Dis vir my ń voorreg om 'best of both worlds' te hê met 2 seuns ook, maar met ń meisiekind is dit tog net anders. Sy is MY 'mini-me'.
Antwoord 3: Ons tweetjies se raad aan ander ma's en dogters is om tyd te maak en saam te gaan op 'mamma-meisiekind-dates'. Gaan drink saam daai lekker sjokolade melkskommel (dieët is vir die voëls, né! LOL). Eet daai burger dat die sous spat! Gaan skop jul skoene uit by die spa. Wees laf! Lag baie. Maar huil saam is ook okay....dis waarom mammas daar is om trane ook af te droog. En dan die belangrikste ooit: Bid vir mekaar. Haar geloof speel ń baie groot rol in haar lewe en ek is dankbaar dat ek daardie voorbeeld ook aan haar kon oordra. Eendag wanneer dit mý meisiekind se tyd is om by die kanselpaadjie af te stap en haar droom man in die oë te kyk, gaan ek al hierdie mooi herinneringe in my hart koester, my bors gaan swel van trots (maar tóg gaan die trane mildelik by my wange afstroom en gaan die tissues my hand moet vat in daardie oomblik - en natuurlik ons Hemelse Vader ook). Eendag wanneer sy háár klein prinsessie in haar arms vashou en koester kan ek maar weet: dis nou háár beurt om dieselfde 'bond' wat ek en sy koester aan háár porselein-poppie oor te dra. Sy's mýne en ek is háre. En dít kan niks of niemand van ons af wegneem nie.