Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Michelle Yazbek

Michelle Yazbek

Dorp: Bloemfontein

Antwoord 1: My ma, Esre, 'n radiografis wie tans haar eie raam- en kunsbesigheid het, is 'n ystervrou en enkelma. My pa, 'n mediese dokter, is oorlede aan 'n pulmonale embolus toe ek 18 dae oud was. Ek is in Kanada (waar my ouers gewoon het) gebore en na my pa se dood, was my ma, en natuurlik ek, alleen. Ons het teruggekeer Suid-Afrika toe, en ons het by pa Cobus se ouers ingetrek waar ons vir twee en 'n half jaar gewoon het. My ma se eie ma is oorlede aan borskanker jare voor my geboorte, dus het my grootouers ons ingeneem. My ma is weer getroud toe ek twee en 'n half jaar oud was. Die man het ons emosioneel en verbaal mishandel en my ma het aan die einde van 2003 besluit om van hom te skei. Die dag voor die skool begin het in my graad 8 jaar, het ons die skoolhoof gaan sien, en ek moes aanpas van 'n skool met 400 kinders in die primere en sekondere skool, na een met 192 kinders net in graad 8. Ek het in matriek hoofdogter geword. Ons het oor die afgelope 35 jaar saam geleer, saam gegroei en die uitdagings as 'n span aangepak. Ten spyte van soms moeilike omstandighede, het ons nog altyd saam gelag, saam gehuil en ons het nooit opgehou om die seeninge en mooi van die lewe te waardeer nie. My ma het my geleer om 'n sterk, onafhanklike vrou te wees en vir niemand terug te staan nie. Sy het my gemotiveer om medies te gaan studeer en ek is tans 'n anatomiese patoloog. Haar ondersteuning, liefde, vertroue en geloof in ons Hemelse Vader, is nog altyd 'n voorbeeld - nie net vir my nie, maar vir almal met wie sy in aanraking kom. Ons verhouding is geslyp in die vuurskool van die lewe en ons is nou sterker as ooit. Ons praat ten minste drie keer op 'n dag met mekaar; ek bel elke oggend op pad werk toe en elke middag op pad huis toe, en tussenin, is daar gewoonlik een of twee oproepe oor ditjies en datjies - iets wat ons gesien of gehoor het, of net logistieke reelings. Met harte geanker in die Here, weet ons dat ons tot alles in staat is deur Hom wat ons krag gee.

Antwoord 2: 2025 was een van die moeilikste jare van my (en my ma) se lewe. Ek het ma geword van 'n pragtige seuntjie wie nou 9 maande oud is. Op 20 weke gestasie, is ek gediagnoseer met swangerskaps-geinduseerde hoe bloeddruk en op medikasie begin. Dit het goed gegaan met my gesondheid tot op 29 weke, toe ek met vroee aanvang pre-eklampsie gediagnoseer is. Ek is in die hospitaal opgeneem waar ek vir 5 weke om my eie en my seuntjie se lewe geveg het. In die hospitaal, het beide ek en my ma besef hoe siek ek werklik is en dat ons as sterflinge werklik geen beheer oor ons lewens het nie. Elke dag is werklik 'n geskenk van die Hemelse Vader en dit is hoe 'n mens moet leef - in dankbaarheid en nederigheid voor die genade wat alle verstand te bowe gaan. My seuntjie is gebore op 34 weke, en het self vir 21 dae in the neonatale intensiewe sorgeenheid om sy lewetjie geveg. My ma het my elke dag besoek, elke dag humor en lag en vreugde gebring, al het ek geweet dat sy net so bang is soos ek. Hierdie ervaring het ons nie net nader aan mekaar gebring nie, maar ook saam nader aan die Here. Die ware bedreiging dat ons mekaar kon verloor, het my geleer om meer teenwoordig te wees in my verhouding met my ma en om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie. Ek waardeer elke oproep, elke koppie tee, elke vreugdevolle oomblik en ja, selfs die hartseer, soveel meer as voor die beproewing waardeur ons is. Die verhouding wat my ma met my seuntjie het, het ook 'n hele nuwe dimensie aan ons verhouding gebring. So 'n klein wonderwerkie het die geneigdheid om mens te stroop van alles en om mens op en uit jouself te laat kyk. Ons lieflingkindjie het ook ons geloof in mekaar en, uiteindelik, in die Here gebrei en versterk sodat ons weet Hy gee inderdaad sy engele opdrag om ons te beskerm dat ons nie ons voete teen 'n klip sal stamp nie. Die waardering, respek en liefde wat ons vir mekaar het, het vermenigvuldig en ek is dankbaar vir wat hierdie ervaring ons geleer het.

Antwoord 3: Om 'n goeie, sterk verhouding te he, is die basis waarop dit gebou moet word hoofsaaklik eerlikheid, openhartigheid, en verantwoordbaarheid. Hierdie drie aspekte bou weer wedersydse vertroue en respek. Wees oop vir nuwe uitdagings en wees bereid om in nederigheid verantwoordelikheid vir jou eie optrede te aanvaar. Moet ook nie huiwer om om verskoning te vra as jy verkeerd was nie. Die belangrikste is om nooit te wag vir die 'spesiale geleentheid' nie. Elke dag is 'n wonderwerk en 'n geskenk en dit is die 'spesiale geleentheid'. Gaan drink die koppie tee saam uit die Royal Albert stel. Eet die sny koek by die koffiewinkel. Wees teenwoordig in jou verhouding met jou ma. Luister na mekaar, nie om te reageer nie, maar om te verstaan. En vergewe. Die lewe is te kort om wrokke te koester oor gedane sake. Niemand is perfek nie en ons almal maak soms foute. Hoe ons opstaan en mekaar weer dra, is wat saak maak.