Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Sandrie de Beer

Sandrie de Beer

Dorp: Roodepoort

Antwoord 1: You need to see it to believe it! Wat ons verhouding spesiaal maak is dat ons lief is vir mekaar. Tog is daar ‘n verdere diepte wat deur ons mans beskryf word as “die naelstring”. Ons funksioneer al vir amper 30 jaar asof die pediater nooit die naelstring tussen ons by geboorte geknip het nie. Dit klink dalk soos iets uit ‘n mediese gruwelverhaal, maar eintlik is dit niks kort van ‘n wonderwerk nie. Toe ek, Sandrie, ‘n baba was het my ma, Hannetjie, tot die Here gebid en gevra dat Hy vir haar die pyn moet gee wat ek as baba ervaar het wanneer ek gehuil het. Dit alles sodat sy kan weet wat fout is en my so kon dokter. Wat ‘n oulike gebed! So het sy gevra en so het God gedoen. Intussen het ons albei geleer dat mens baie spesifiek tot die Here moet bid en dat daardie oorspronklike gebed nie ‘n tydlyn bevat het nie. Hierdie gebed, wat in 1996 gebid is, word tot vandag nogsteeds beantwoord. Wanneer ookal ek siek is, kan ek net die foon optel en bel na my ma toe. Sy ervaar steeds dieselfde simptomes en seer as wat ek doen. NOGSTEEDS! Die naelstring… As my man man sien dat dit my ma is wat my bel dan sê hy sommer graag: “Engel, jou naelstring bel.” Nog iets wat ons verhouding spesiaal maak is ons liefde vir ons taal. My ma het my van kleins af geleer dat lees die wêreld in jou huis in bring. Dat die lig van stories in boeke maklik die donkerte van die wêreld buite jou vensters kan verdryf. Ons is albei digters, elkeen met sy eie gedig reeds in ‘n bundel opgeneem. Tydens die winter skoolvakansie van 2012 het ons liefde vir lees gemaak dat my pa ons met boek en al uit die kamer gejaag het… nou ja… dit was drie uur in die nag en die arme man wou graag slaap. Susan Coetzer se boek Tjoklits vir die Siel het ons so aangegryp dat deur die nag gelees het. Ek lees ‘n hoofstuk en dan lees ma ‘n hoofstuk, hardop, met gevoel, en in stemme… Dit is hierdie vertolking van ons wat my pa so gruwelooslik uit die slaap gehou het. Ons het laatmiddag begin lees, vroeg nag in die bed met trane die middel van die boek bereik, en vroegoggend in die sitkamer, onder komberse, was die hele boek klaar gelees. Dit is maar net twee dinge van die boeke vol wat ons kan skryf oor dit wat ons verhouding spesiaal maak.

Antwoord 2: Een van die moeilikste tye wat ons saam beleef en deur gemaak het, begin eintlik met goeie tye in ons huis. Ons jare lange huishulp, Selina, wat sedert 2000 by ons gewerk het, was soveel meer as net ‘n huishulp. Selina was my ma se beste vriendin. Ek was “Selina se kind”. Die manier waarop sy haar by ons gesin aangesluit het en met soveel liefde ons versorg en ondersteun het, is iets wat tot die beste tye in ons huis gelei het. Elke 16de Desember het ons drie saam kersfees koekies gebak. Smiddae sou Selina graag saam met my inkleur terwyl sy en my ma land en sand gesels oor enige iets en alles. Selina was lief vir ons en ons was lief vir haar. Dit was die beste tye, en toe word dit met een enkele Whatsapp die seerste en die swaarste… “My mom passed away this morning…” Het Selina se eie seun vir my ma gestuur. Ons harte het gehuil, dag in en dag uit. Ons het mekaar deur nie net fisies deur die tyd van rou gedra nie, maar ook geestelik. Dit was die moeilikste verlies van ons lewe, en so seer en onregverdig soos wat dit gevoel het, was daar tog goed wat daarvan gekom het. ‘n Ma en ‘n dogter selfs nader as ooit tevore.

Antwoord 3: Praat praat praat… luister luister luister. Bid saam. Bid vir mekaar. Hoe nader ‘n ma en ‘n dogter, individueel, aan die Here beweeg en is, hoe nader is hulle ook aan mekaar. Wees partykeer vriendinne en nie ma en dogter nie. Doen MAL dinge saam. (Soos snorkel maar bang wees vir swem. Pak ‘n Acrobranch aan met hoogtevrees.) Wanneer julle verskil, luister na mekaar se menings. Gee spasie waar spasie nodig is sodat julle sterker saam kan staan. Wees altyd lief vir mekaar.