
Dorp: Johannesburg
Antwoord 1: Geré (dogter): Dit is vir my nog altyd moeilik om oor my Ma of oor my lewe te skryf of praat, omdat ek nie wil hê mense moet dink ek probeer ‘victim’ speel of simpatie soek nie. Maar ons storie is ons storie- rou, oorleef, mooi en gegroei. My eerste herinnering van my ma is nie haasies en blomme nie, maar ‘n driejarige ek wat saam met haar Ma weggehardloop het om agter ‘n groot klip te skuil omdat ons gejaag is deur ‘n monster. Nie ‘n feetjie-verhaal monster nie… maar ‘n regte een. Iemand naby aan ons, met ‘n hand wat te maklik na ‘n bottel, ‘n bord, of enige iets naby gegreep het. Dit was die begin van my ‘memories’ saam my Ma. Maar daar was ook ander, baie mooier, ‘memories’. Haar glimlag agter ‘n filmkamera wat voor my oë afspeel soos een van daardie ou flieks wat so flikker. Haar 'hoë jeans' en 'boots' wat al té veel keer gegom is, maar steeds kon loop om Coke-bottels by Flamingo Bakkery in Uitenhage in te gee sodat ons 'Cheese Naks' kon koop. Die Cheese Naks was gewoonlik op nog voordat ons by die huis gekom het! Die opwinding van 1 Desember wanneer ons ons klein kersboompie kon opsit. Haar gebede saam met my elke aand. Die elke-dag vra: “Hoe was jou dag?” Haar konstante teenwoordigheid… op maniere wat net sy en ek ten volle kan verstaan. As ek die vraag moet antwoord "wat maak ons verhouding spesiaal?"...dan is die waarheid eenvoudig: It’s always just been us. Daar was ‘n man in die huis, en mense sou dalk anders sê… maar vir ons was op dit op daai stadim net dit- ‘n man in die huis. Daardie tyd, was my Ma die een wat deur reën, koue of wind geloop het, letterlik en figuurlik net omdat sy wou hê ek moes veilig wees. Sy het altyd gesê sy wou nog altyd ‘n dogtertjie gehad het…vandat sy self ‘n dogtertjie was. En toe kom ek, nie in die beste omstandighede nie, maar daar was ek. Daar was ons. Net mekaar. En ons het dit gemaak. We survived. In my oë, as ‘n nou 30+ jarige, was sy maar self net ‘n dogtertjie toe die lewe haar moes grootmaak. Vandag is ons albei gelukkig getroud. Ons het mans in ons lewens wat nie net '‘n man in die huis' is nie. Ons storie is een van ‘n hegte band, maar ook van survival. Sy het my beskerm totdat ek oud genoeg was om haar te beskerm. Die dag toe ek kon sê: “As jy by háár wil uitkom, moet jy eers deur my gaan,” was dalk nie my slimste oomblik nie… maar dis ‘n fout wat ek elke keer weer vir haar sal maak. Sy is my lewenslyn tot God, my beste maat, my survival-buddy. En nou, dat die lewe soveel beter is as waaraan ons gewoond was, is sy ook my shopping-buddy, my gebedsmaat… en my altyd-huis.
Antwoord 2: Geré (dogter): Ek dink my vorige antwoord praat vir homself. Huis was nie altyd ’n veilige plek vir my nie. Maar my Ma was. Sy was huis en en sy was veilig. Ons storie is een van survival, van die nagevolge van alkohol, en om saam te lewe met iemand wat beter kon wees, maar ook self 'n victim was van sy eie trauma en verslawing. Ek het nooit gedink dat ek hierdie met die wereld sou kon deel nie, maar dit is steeds deel van ons storie. As iemand wat onlangs gedoop is, definieer daai storie my nie meer nie. Maar, soos ek gesê het, daar was baie goeie tye. Ek kan nie eens één uitkies nie. Vir my lê die goeie tye in wat vir baie sal klink soos die kleiner dinge, maar vir my is dit groot: die huistoe-stap en geselsies ná skool, hoe sy my gehelp het om my skoolwerk te onthou, die radio ‘tape’ en ‘pause’ druk sodat die advertensies nie saam opgeneem word nie. Dít was die goeie tye. Daar was baie moeilike seisoene, maar dit het ons nie gebreek nie. God gebruik altyd alles, en Hy het dit ook gebruik, dit het ons sterker gemaak, meer heg, dit het my geleer om haar stil moed raak te sien. Dit het my geleer dat liefde nie groot of ‘flashy’ hoef te wees nie. Dit het my ‘n beter mens gemaak. Daardie oorleef-dae is waar ons Ma-dogter verhouding wortels gekry het. Humor, geloof, en die vermoë om lig te vind - al was dit net in ’n pakkie Cheese Naks! Ons goeie tye, daai gevoel van “ons teen die wêreld,” het ons geanker. Dis hoekom ek vandag, as volwassene, met soveel waardering terugkyk… en op 'n manier weet dat ons mekaar grootgemaak het, op ons eie unieke manier. En dit is wat ons verhouding so sterk, so heg, en so spesiaal maak.
Antwoord 3: Crystal (Ma): Ek voel dat as jy n goeie verhouding met jou dogter wil hê, moet daar riglyne wees, en respek, dissipline, en n verhouding met God as die middelpunt. Daar moet vertroue wees en alhoewel jou gesag as ouer baie belangrik is, is dit ook belangrik dat jou dogter weet dat sy enige iets met jou kan bespreek. Dat sy weet jy, as ma, is haar toevlug, haar veilige hawe. Sy moet weet dat sy na jou, as ma, kan draai met alle vrae. Dat jul saam kan bid, en God kan dien. Geré (dogter): ’n Goeie verhouding begin nie by perfekte omstandighede nie, maar by twee mense wat bereid is om mekaar met sagtheid en geduld te hanteer. Dit is waar vir alle verhoudings. Praat eerlik, maar met liefde. Gee mekaar genade en vergewe gou. Wees sagter met mekaar as wat die wêreld met julle was. Baie van die konflik tussen ’n ma en 'n dogter kom omdat albei nog besig is om te genees van dinge wat niemand ooit gesien het nie. En moenie die klein oomblikke onderskat nie. P.S. Jou ma is altyd reg…maak nie saak hoe jy voel of wat jy dink nie, ons dink soms “ag, wat weet Mommy nou”… but the truth is…. hulle het hierdie vreemde “6th sense-superpower”. En hulle is altyd reg…. My Ma het gese om ‘n volwassene te wees is nie altyd om te leer uit jou foute nie, maar om te leer uit ander se foute, dit maak jou beter. Jou ma se raad aan jou is ‘REAL’. As sy sê “moenie”... is dat is dit omdat sy weet!