Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Marischal Barnard

Marischal Barnard

Dorp: Bloemfontein

Antwoord 1: Vanjaar, 26 jaar gelede, is die spesiaalste mensie gebore. “Wow,” sê my broer, “sy is so mooi dat selfs haar neusgaatjies soos hartjies lyk.” Yocke is een van die groot liefdes van my lewe en was van die begin af alles waarvan ’n mamma kan droom. Van jongs af was sy deel van alles wat ek gedoen het. Sy het saam met my “geskilder”, altyd naby, altyd nuuskierig. Op tweejarige ouderdom help sy my al om eiers te skei wanneer ons koek bak. Haar grootwordjare was slegs ’n fees – vol lag en oomblikke wat mens vir altyd sal koester. Sy het egter niks van haarbande en rokkies gehou waarmee ek haar altyd wou mooi maak nie. Waar ek gedroom het van strikkies, het sy gedroom van jeans. Sy het vinnig groot geword, en gou het sy ook my beste vriendin geword. Sy het haar eie smaak en sê gereeld sy hou niks van my kleresmaak nie, maar tog kan sy heerlik in my kas gaan krap en lekker by my “leen”. Haar smaak ontwikkel verder en uiteindelik word dit een groot “gemors” uit die Vogue-tydskrif. Ek is glo “outyds” – en wel, as ek eerlik is, eintlik sy ook. Ons volgende groot uitdaging het begin toe ons droom van ’n aanlyn winkel bewaarheid is. Dit is baie maklik wanneer twee mense presies dieselfde smaak het, maar heelwat moeiliker as julle oor byna niks saamstem nie. Tog het ons mekaar hier ook gevind. Die naam vir ons aanlyn winkel kon niks anders wees as Youkee nie – You and Kee. Want ten spyte van ons verskille, is ons in alles ’n span. Sy is my dogter, my vriendin, my luistermaatjie, my raadgewer, my stylist en my mode-redakteur. Ons kan saam lag tot die trane loop, en soms huil ons ook saam oor die wrede wereld. Haar sin vir humor is soms iets anders, veral toe ek vir ’n kleinkind vra, kry sy ’n hond – en sy noem my Ouma. Ons geniet dit om saam vis te vang en kan ure aaneen langs die dam sit, soms praat ons, soms net stil wees. Ons speel ook graag saam golf, al kry meer golf lesse as wat ek speel. Ons oefen saam, bid saam en vertrou God saam. Toe sy weggetrek het, het ek gedink my wêreld gaan uitmekaar val. Maar elke oggend kry ek ’n halfuur lange oproep voor werk waarin ons oor ons lief en leed praat, stry oor die Youkee-reeks, idees uitruil en op ons eie manier ooreenkom oor wat ons volgende reeks moet wees. Dit is een groot, suksesvolle katastrofe. En wanneer ons mekaar dan weer sien, is daar nooit genoeg minute in die dag om alles te doen en sê nie – en om nog ’n middagslapie ook in te werk- en dan kuier ons sommer tussen die kospotte ook. Sy is alles waarvoor ek kon vra, en soveel meer.

Antwoord 2: ’n Moeilike tyd vir ons was die tyd net voordat Yocke moes weggaan. Maande voor die tyd het ek begin onttrek en stil geword. Ek wou eenvoudig nie die pyn so rou beleef nie. Sonder dat ek dit besef het, het my stilte ’n groot impak op haar gehad. Yocke het al hoe maerder geword en self begin onttrek, tot ons skielik by ’n punt gekom het waar ons niks meer vir mekaar gehad het om te sê nie. Die koffies wat ons saam gedrink het, was gevul met lang, uitgerekde stiltes. Ek het gesien hoe my kind wegkwyn – net vel en been. Een dag vra sy my: “Mamma, hoekom ontrek jy so uit my lewe? Is jy nie meer vir my lief nie?” Daardie vraag het my hart oopgeskeur. Net daar het ek besef wat my eie vrees en selfsug aan my kind gedoen het. Ek het haar eerlik verduidelik dat ek so verskriklik bang was vir die dag wat sy sou wegtrek, en dat ek bang was om my beste maatjie te verloor. Daardie eerlike gesprek het alles verander. Haar maer lyfie het weer vol geword, en ek kon uiteindelik ’n gesonde, gelukkige kind wegstuur. My raad aan ander ma’s is eenvoudig: moenie jou seer alleen dra nie. Praat met jou kind. Verduidelik wat jou bang maak of pla, want onthou – sy is ook bang. Deur eerlik te wees, gee jy julle verhouding die kans om sterker te word.

Antwoord 3: As jy, soos ek, met ’n gestremde sus grootgeword het, leer jy vroeg hoe om tyd uit te koop. Jy verstaan dat elke oomblik kosbaar is en nie vanselfsprekend nie. Daarom koester ons elke geleentheid asof dit die laaste is. Ons kuier asof ons mekaar nooit weer gaan sien nie. Ons drink koffie asof dit ons laaste koppie is en groet asof dit die laaste keer is. Ons soen, druk en hou mekaar styf vas. Soms pink ons ’n traan weg omdat dit dalk eers oor ’n maand of twee weer moontlik is om mekaar vas te hou. Juis daarom maak ons seker dat elke tydjie wat ons saam het, regtig gehalte-tyd is. Ons mors nie oomblikke nie. Ons val mekaar in die rede en maak mekaar se sinne klaar, want netnou is die tyd verby en dan het ons nie genoeg beurte gehad om alles te sê nie. Ons lag saam, praat oor alles en niks, en leef voluit in die oomblik. Maar bo alles is God eerste in ons lewens. Ons vra mekaar om oor alles te bid – oor groot besluite en klein bekommernisse. En dan wag ons vir God om ons die pad te wys. Ons glo vas dat sonder God ons leeg is, en dat ’n verhouding wat op Hom gebou is, sterker is as enigiets anders.