Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Alexa Kriel

Alexa Kriel

Dorp: Pretoria

Antwoord 1: Uit Lex se pen: Hoe lei die spreekwoord, “give credit where credit is due”. So ek vra jou, liewe leser, hoe formuleer ‘n mens die woorde om ‘n verhouding só eg, só rein te beskryf? Vra enige dogter oor haar ma, en ek kan jou amper waarborg dat háár ma, die beste ma onder die son is. “The best thing since sliced bread”. Wat maak my ma anders, mag jy dalk vra? Sy is nie net my ma nie, maar ook my beste vriendin – een van bitter min mense met wie ek alles kan deel, sonder oordeel of voorbehoud. Haar teenwoordigheid ís my rustigheid en haar wysheid lei my deur elke donker gang. Sy is my rots. Cliché, ek weet, maar my ma was nog altyd my één konstante in ’n wêreld vol onsekerhede. Ek hoop sy weet hoe geseënd ek voel dat ek haar kan vertrou om op te daag. Altyd. Dat ek nooit hoef te twyfel oor hoeveel sy omgee of in haar liefde vir my nie. Sy is die een wat altyd die beste in my sien, selfs wanneer ons menings verskil. Ek hoop sy weet hoeveel ek haar geduld waardeer wanneer ons dinge probeer uit praat na daardie “minor inconveniences”, en hoe jammer ek is vir my tiener-jare vol van die dae wat ek nie hierdie waardering gewys het nie. Ek hoop sy weet dat sy kalmte bring in my storms waarvan sy nie eens bewus is nie. Ek hoop sy weet dat ek haar sien – ek sien hoe sy as mens groei en unapologetically haarself is. Ek sien hoe sy geblom het in die beste weergawe van haarself. Ek hoop sy weet dat ek trots is op haar. Op haar genesing. Dit nog nadat my pa haar land en sand met twee dogters gelos het, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag. Ek hoop sy weet dat ek haar opofferings sien en dat sy die rede is dat ek ’n toekoms het waarin ek glo. Ek hoop sy weet dat sonder haar, my drome nooit ’n kans sou staan nie en ek hoop sy weet, dat sy die rede is waarom ek gegroei het in die mens wie ek vandag is.

Antwoord 2: Uit mamma se pen: Egskeiding is nie vir sissies nie, ek was ñ sissie…Dis ñ vloekwoord waardeur baie van ons worstel, maar elkeen se storie is uniek. Slim mense maak slim voorstelle, maar totdat jy nie self kniediep in die seer daarvan staan nie, is woorde leë beloftes, waarmee jy in jou binneste worstel en geen onmiddellike verligting vind nie. My Alexa-kind was die een wat haar ma help mens bly het, selfs op dae wat asemhaal ñ uitdaging was. Sy was my klein grootmensie wat deur nietige dade haar ma, haar menslikheid laat behou het.Saans sou sy my rug kom was het, as ek die trane met die waslap probeer smoor het. Sy sou stilletjies inkruip en my vashou totdat my trane bedaar het. Haar woorde was oorbodig tydens terapiesessies, maar haar teenwoordiheid was groot en kon die kamer en my gemoed vul met ñ kalmte en rustigheid wat vir my vrede gegee het.Ek besef vandag dat sy met haar eie “demone”moes worstel, maar sy het my ALTYD eerste gestel. Haar :”Mamma maak klaar, ruk die pleister af vir ons al drie se onthalwe” het my laat wakker skrik uit die illusie dat dinge ooit weer tussen my en haar pa sou uitwerk. Vandag lyk ons “normaal” anders, maar ons het vrede en ñ oorvloed van liefde, want ons het mekaar. Op 24 is sy steeds my rots, my “go-to” en my klankbord. As toekomstige mev Van Rooyen WEET ek haar voete is stewig geanker in haar geloof, sy hoef vir niks bang te wees nie, want haar ma staan bankvas agter haar.

Antwoord 3: Uit mamma se pen: Daar is geen doepa of resep vir gewaarborgde sukses nie. Glo my, as daar was,sou ek seer sekerlik die boek geskryf het en vandag ñ stewige bankbalans as bewys gehad het! Ek en Lex “lees” mekaar, die een voed van die ander een se gemoed af. Woorde is oorbodig, ons voel aan wanneer die een meer “TLC” of spasie nodig het. Ons hanteer mekaar altyd met respek en is volwasse genoeg in ons ma/dogterverhouding om te weet wanneer om mekaar ruimte te gee. Ons gesels ñ hond uit ñ bos uit, het geen geheime vir mekaar nie en deel elke boring detail van die dag met mekaar. Sy is my klankbord, my tweede opinie, my “los dit eerder ma” kind. Ons bloed is baie dikker as water, want ek is haar ma en sy sal altyd my Lexi-kind bly.