Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Marli & Gionét Sutherland

Marli & Gionét Sutherland

Dorp: Pretoria

Antwoord 1: Vandat Gionét voltyds by my ingetrek het in 2024 (sy was toe in Gr 11), is dit soos om saam my beste vriendin te bly. Ons kuier tot laatnag (of soms EERS laatnag!) in mekaar se kamers en deel al die "Tea" van haar vriendekring en van my kollegas met mekaar sonder om te oordeel! Ons werk baie goed as 'n span saam: dit waarby ek nie uitkom nie, sal sy doen sonder om gevra te word, en andersom. As ek vanoggend die wasgoed ingooi, kan ek maar weet dit is opgehang wanneer ek by die huis kom. As sy vir ons kosmaak, was ek die skottelgoed. Dit is boonop 'n bonus dat ons mekaar se klere, skoene, grimering ens kan dra. Ons is 2 girls wat saam hustle en grind om onafhanklik te wees en ons EIE potjie te krap! Haar vriende is soos my eie kinders en dit is so lekker om 'n klomp jongmense oor te hê wanneer daar gekuier word! Gionét het so goed presteer en 4 onderskeidings in matriek (2025) behaal - Kuns is haar absolute talent - en ek kan myself verwonder aan haar prefeksionisme en detail in elke stuk wat sy skep. Na 'n paar jaar wat ek alleenlopend was, het ek onlangs iemand spesiaal ontmoet en dit is SO lekker om dit met my dogter te kan deel en so spesiaal vir haar om te sien hoe haar ma deur 'n regte gentleman behandel word. Ons doen die LEWE saam. Ons en sê vinnig jammer as ons kwaad word of lelik was met mekaar (dit gebeur minimaal!). Ons onderhandel (ek sê nie net sommer NEE nie). Ek wil haar soveel vryheid toelaat as wat ek vrede in my hart voor het, en daarvoor kan ek van my eie lewenservarings as voorbeelde oproep. Ons GROEI saam, huil saam, celebrate saam en oorkom struikelblokke saam. Om haar te sien in 'n sterk, resilient, beeldskone jong vrou verander, is die grootste voorreg.

Antwoord 2: Daar was 'n tydperk van amper 3 jaar (tussen 2016-2019) wat ek byna geen kontak met my kinders gehad het nie. Ek en Johann (hul pa) het deur 'n rowwe egskeiding gegaan en daarna het my lewe uitmekaar geval en het ek die pad effens byster geraak. Die kinders het my van 'n afstand af sien rondval tussen toksiese-afhanklike verhoudings, tussen blyplek, afhanklik van dwelms... En die bakleiery tussen die ouers was brutaal. Gionét was rondom 9jaar oud. Ek het gedink dat ons verhouding nooit weer sal herstel nie en dat die skade te groot is vir haar om my ooit te kan vergewe. Maar die Here het sy verlore skapie kom haal toe ek na Hom roep en my lewe het handomkeer verander: Ons is vandag lewende getuies dat God sy belofte nakom om dit wat die vyand kom vernietig, vir SY glorie te herstel! Dit het tyd gevat vir Gionét om my weer in haar lewe toe te laat en te leer vertrou. Ek moes weer leer om 'n MA te wees na 'n tydperk wat ek nie eers na myself kon omsien nie. Om dissipline toe te pas. Om te weet waar ek inpas in haar lewe. Vir haar om my te sien genees, te herbou van "rock-bottom" af, deur die genade van die Here, is vir my 'n voorreg en het ons albei se karakters soos 'n vlymskerp swaard geslyp. Nou is daar NIKS wat ons nie saam kan oorkom nie!

Antwoord 3: Dit is okay om vulnerable te wees. Dit is okay as jou dogter jou sien faal. Dit is okay om hulp in te kry om dinge reg te maak. En dis die moeite werd om nooit op tehou baklei vir jou familie nie. Bloed IS tog op die ou einde dikker as water, en dit is nog meer rewarding om hoogtepunte saam te kan vier wanneer jy weet hoe hard jul moes werk om daar uit te kom! Respekteer mekaar se grense en bowenal HOU die kommunikasie kanale oop. Dit is belangriker vir my dat Gionét my kan bel en sê Mamma ek kort hulp as wat sy dink WAT gaan Mamma sê / doen. Wees eerlik met mekaar. Ons almal maak foute, selfs ons as ouers foeter soms verskriklik op. Erken as jy gefaal het. Sê jammer, vergewe mekaar en verander die gedrag. Ons skree nie op mekaar nie. Daar is KRAG in die woorde wat uit jou mond kom, so SPREEK LEWE en LIEFDE. Ek probeer elke dag om net 'n bietjie van Jesus se genade en liefde vir my, aan my kinders te betoon. Hulle WEET dat dit GOD se genade was wat my gered het, en my lewe weerspiëel dit uit dankbaarheid. Bid vir jou kinders, vir hul maats, en doen moeite om hul vriende te leer ken. Neem tonne foto's (al is dit onder protes!) - dis al wat mens oorhet van die herinneringe!