Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Anika van Blerk

Anika van Blerk

Dorp: Stellenbosch

Antwoord 1: Anika is my tweede dogter, maar lank voor haar geboorte, nog voordat sy selfs ’n gedagte was, was sy reeds spesiaal vir my. Op 23-jarige ouderdom is ek met Lupus SLE gediagnoseer, en tydens my siekbed het ek middae uitgesien om die kinderstorie Neels Holgerson te kyk. In daardie storie was daar ’n dogtertjie, Anika, wat sorgeloos deur die veld gehardloop het, sag, vriendelik en vol vrede. Op daardie oomblik het ek besluit: as ek ooit die voorreg sou kry om ’n mamma van ’n dogtertjie te wees, sou haar naam Anika wees. Die Liewe Vader het my geseën met twee pragtige dogters, die jongste met die naam Anika en dit pas haar honderd persent. Sy is stil, rustig en vredevol, ’n ware voorbeeld vir ander en simboliseer tot vandag toe n veilige plek. Ek bewonder haar ongelooflik: ’n jong vrou wat uit ’n klein dorpie kom en alles wat sy aanpak met volle moed doen. Sy gee nie maklik op nie, druk deur wanneer dit moeilik raak en probeer altyd om van elke uitdaging ’n sukses te maak. Sy straal liefde uit, veral deur haar blou oë wat altyd met jou “praat”. Ek bewonder haar geloof; sy is vas geplant op die Rots van die Eeue en weet presies waar haar krag vandaan kom. Van my kant af is dit my ma se passie vir mense wat ons verhouding so besonders maak. Sy het ’n opregte hart vir ander en ’n ongelooflike vermoë om mense werklik raak te sien en te hoor. Sy leef dit wat sy glo, haar liefde wys in haar dade. Ek het van kleins af gesien hoe sy mense met respek, sagtheid en empatie hanteer. Sy leer my elke dag hoe om ’n beter mens te wees. Sy is nie net my ma nie, maar ook my veilige plek, my rolmodel en iemand na wie ek altyd kan opkyk. Dit is hoekom ons verhouding so spesiaal is.

Antwoord 2: Ek en Anika se pa is in haar Graad 9-jaar geskei, ná 23 jaar se getroude lewe. Dit was ’n groot en emosionele aanpassing vir ons almal. ’n Nuwe normaliteit wat ons moes leer verstaan en aanvaar. Die huis was gevul met verskillende emosies: hartseer, onsekerheid, vrae en soms stilte. In hierdie tyd het Anika uitgestaan as die “steady” een, die kalm teenwoordigheid in ’n onstuimige seisoen. Sy was die een wat geluister het wanneer woorde moeilik was, en soms selfs die een wat trane help afdroog het. Ten spyte van haar eie emosies, het sy ’n ongelooflike volwassenheid en empatie gewys. Ons het saam betrokke gebly by haar skoollewe en aktiwiteite, en probeer om stabiliteit te behou. Ons huis was altyd oop, almal was welkom. Haar vriende het my vriende geword, en my vriende het haar vriende geword. Die ondersteuning van familie en vriende was oorweldigend en het ons drie gedra deur ’n moeilike tyd. Dit was besonders om te sien hoe my ma die seer wat sy ervaar het, verander het in iets goeds vir ander. In plaas daarvan om bitter te raak, het sy gekies om ander te help, te bemoedig en hoop te bring. Sy het my geleer dat pyn nie jou definieer nie, maar dat jy dit kan gebruik om ‘n lig vir ander te wees. Dit was vir my ’n ongelooflike voorbeeld van krag, geloof en liefde, en dit het ons verhouding net nog dieper en sterker gemaak. Hierdie was die tyd van laat aande, diep gesprekke, geselsies van bemoediging en hoop en die wete dat ons saam daar deur sal kom.

Antwoord 3: Om enige verhouding te laat werk, is respek en eerlikheid noodsaaklik. Ons glo sterk aan ’n oop verhouding waar daar ruimte is vir eerlike gesprekke, waar alles gedeel kan word en waar albei veilig voel om hul ware self te wees. Vertroue word gebou wanneer daar openheid is. Ons vra mekaar gereeld vir raad, maar gee ook mekaar die ruimte om elkeen ons eie lewenspad te stap. Dit is belangrik om te verstaan dat liefde nie beheer beteken nie, maar ondersteuning. Hoe ’n mens met mekaar praat, maak ’n reuse verskil, woorde kan bou, genees en versterk, maar dit kan ook seermaak. Respek moet altyd eerste kom. Moet nooit iemand minderwaardig laat voel nie, veral nie net omdat dit jou kind is nie. Moenie afpraat of neersien nie. Deel jou wysheid en gee jou raad, maar laat jou kind toe om haar eie besluite te neem en uit haar eie ervarings te leer. Die belangrikste is om altyd beskikbaar te wees, nie om te oordeel nie, maar om te ondersteun. Wees ’n veilige plek, ’n sagte landing en ’n konstante bron van liefde. Dít is die fondament van ’n sterk, gesonde en blywende ma-en-dogter-verhouding.