
Dorp: ALBERTON
Antwoord 1: My naam is Charmain Bauermeister (59) en my dogter se naam is Cherisé Bauermeister (32). Ek en Cherisé se verhouding is baie na aanmekaar. Ons doen dinge saam. Ons huil en lag saam. Ons probeer om soveel saam te kan doen as moontlik. Cherisé is my BESTE VRIENDIN! Sy verstaan my so goed en leer my baie van die lewe. Ek kan met enigiets na haar toe gaan en sy sal saam met my berge versit. Die Here het geweet dat ek ‘n dogter nodig het in my lewe en daarvoor is ek ewig dankbaar! Alles wat ek haar geleer het, het sy nou ook die voorreg om vir haar dogter, Kayla (11), te leer. Ons is drie generasies wie bymekaar staan. Soms voel ek sy is te hard op Kayla, maar dan word ek vinnig herinner dat ek net so hard op haar was toe sy klein was. Ha!Ha! ‘n Mamma hart. Ek glo in my hart dat ons werklik so spesiaal is vir mekaar, omdat sy vir my gegee is, om oneindig lief te hê. Ek en Cherisé vertrou mekaar ten volle, ons het ‘n oop verhouding oor alles in die lewe en ons deel onbeskryflike liefde. As ek gelukkig, hartseer of selfs kwaad is, kan ek ter enige tyd haar knoppie druk. Cherisé sal altyd alles in haar vermoë vir my doen om my weer gerus te stel. Sy laat my altyd weet dat sy daar is vir my. Ons verstaan mekaar. Ons verhouding is gebasseer op vergifnis, respek, vertroue en liefde. Ons spesiale verhouding gaan nie net oor ‘n Ma en Dogter nie; dit gaan oor koneksie, veiligheid en onbaatsugtelike liefde vir mekaar! Ons verhouding werk omdat dit gewortel is met vertroue en wedersyde sorg. Ons waardeer mekaar opreg en niemand sal ooit ons verhouding kan onderbreek nie. Ons verhouding is gebaseer op duidelike kommunikasie, eer, die waarheid en vertroue. Ons het hard gewerk aan ‘n sterk verhouding. ‘n Ondersteunende band. Ons verhouding is doelbewus, gesond en betekenisvol. Ek waardeer ons sterk verbintenis wat ons het. Ek dank die Here elke dag vir my mooiste meisiekind en my beste Vriendin.
Antwoord 2: Cherisé se lewe het in 2011 dramaties verander; en so het my lewe inmekaar gestort! Sy was besig met haar tweede jaar op kollege. Sy het studeer vir ‘n Somatoloog. Iets wat sy van kleins af wou word. Mamma se ‘Beautician’. Toe gebeur dit – ‘n Narsis!! Eers het hy en toe sy hele familie, ons lewens kom verwoes! Cherisé het ongelukkig verlief geraak op iemand wie glad nie haar belangstellings op sy hart gedra het nie. In plaas daarvan het hy van haar ‘n slaaf gemaak, vasgevang in ‘n huis waar daar geen tekens was van die Here nie. Hulle het haar ontneem van haar studies – gesê sy wil dit nie wees nie en haar uit die samelewing uit geboelie! Sy was ‘n kluisenaar in hulle huis. Hulle het haar foon weggevat, alle kommunikasie met ons gestop, en daar hoor ons verder niks van haar vir amper drie jaar nie. Skielik, na drie jaar, was daar ‘n klop aan ons deur. Hello mamma en pappa, ek is swanger. Ek was net te dankbaar en bly om haar weer te sien en in my arms te hê! Pappa het nie so gevoel nie. Ek was alleen. Ek het al hierdie angstige en hartseer tyd alleen deurgemaak. Pappa wou niks weet nie (‘n man ding…) Ek het elke dag, wanneer my oë oopgegaan het, deur die dag, en wanneer ek, wie weet watter tyd aan die slaap geraak het, GEBID! Die Here het my staande gehou deur al hierdie pyn. Die volgende paar maande was sy weer weg. Ek het uit die bloute ‘n WhatsApp ontvang…Ek is Mev X. My hart het amper gaan staan. My pragtige meisiekind is alleen swanger en nou boonop ‘n Mev. Waardeur gaan sy? Wat doen hulle met haar? Ek kon nie meer huil nie. My trane het opgedroog! Ons beeldskone en volmaakte kleindogter, ons eerste kleinkind, is gebore. Ons het haar gesien op die dag toe sy gebore is en nie weer nie…my hart was weereens stukkend!!! …Cherisé het in 2017 in die hospitaal beland. Ek is op die 9de Augustus 2017, op Vrouedag gebel, deur ‘n verpleegster wat vir my sê ek moet R539-64 betaal voordat hulle haar help. Sy is amper dood. ‘n Oordosis…’n Ma se grootste vrees! Ek en pappa het twaalf minute gery vanaf Alberton tot in Springs! My kind was bleek, verwaarloos en amper weg. So het ons weer opgestaan, hande gevat, saam gebid en baklei vir ‘n egskeiding en om ons kleinkind terug te kry. ‘n Ander hartseer tyd in ons lewe, maar ‘n storie vir nog ‘n dag. Ek en Cherisé se verhouding is nou sterker as wat dit nog ooit was. Ons kan weer saam lag, huil en opgewonde wees oor die toekoms en wat dit vir ons almal inhou en dit saam geniet. Ons verstaan mekaar en is verbind deur geestelike telepatie. Ek dink en sy sal sê. Sy sien en ek sal wys. Saam geniet ons mekaar se teenwoordigheid en liefde.
Antwoord 3: Om ‘n Ma te wees is klaar ‘n spesiale geskenk van God af. Om ‘n Dogter te hê is vir my ‘n groter voorreg! Ek en my dogter is deur soveel in die lewe, maar ek kan met ‘n geruste hart getuig van ons liefde vir mekaar. Ons wedersydse aanvaarding en ‘n verhouding wat elke dag sterker en meer liefdevol groei, is wat ons verhouding maak werk. Ons het mekaar vergewe. Luister na jou hart en bid elke dag vir jou kind. Bid ook vir jouself, sodat jy as ‘n Ma, goeie besluite kan neem wanneer jou dogter jou advies en bystand nodig het. Moenie oordeel nie. Staan haar by wanneer die lewe ‘n tiener se hart en haar bestaan, vernietig word, en sy bly agter met die seer. Verstaan haar bekommernisse in die lewe. Wees daar vir haar wanneer ander wegdraai. Luister na haar stem. Gee vir haar tyd om haar hart uit te praat. Bepaal jou by haar seer. Soms wil sy haar diepste seer met jou deel, soms huil julle saam, en ander kere lag en juig julle saam oor die positiewe dinge in die lewe. Wees altyd daar vir mekaar en ondersteun mekaar orals waar dit nodig is. ‘n Goeie verhouding is opgemaak deur liefde, vertroue, vergifnis en bystand. ‘n Sterk band is gebou op vertroue, daar is wedersydse respek, oop kommunikasie en emosionele ondersteuning. ‘n Verhouding verg kwaliteit tyd met mekaar, om mekaar se perspektief in die lewe te verstaan en om konflikte konstruktief te kan navigeer. Dit beteken ook om ‘n gevoel van veiligheid en aanmoediging te bevorder sodat jou dogter gemaklik voel om haarself by jou te wees. Daar sal wel tye kom wanneer julle nie ooreenstem nie, selfs ‘n bietjie kwaad word vir mekaar, maar dan is dit die tyd om asem te haal, op te staan en dit af te skud en weer te begin. Gee vir mekaar spasie om die verhouding tussen ‘n Ma en Dogter elke dag te versterk. Neem mekaar se hande en stap saam op julle lewenspad. Maak saam foute, lag daaroor. Geniet die lewe se “tierlantynkies, dietjies en daaitjies” en maak die meeste van elke dag. Die lewe is kort. Konsentreer op julle verhouding en bou elke dag daaraan. Bid saam, moedig mekaar aan en wees onbeskryflik en onvoorwaardelik lief vir mekaar. Geniet mekaar se teenwoordigheid. Geniet die lewe saam. ENJOY LIFE!