
Dorp: Pretoria
Antwoord 1: Ons verhouding is soos ñ skip in die oseaan. Ek is die anker, ek sal vinnig my anker laat sak en wag vir ñ storm om te bedaar. Ek floreer in kalm waters. Megan is die seile. Sy sal weer dadelik haar seile span en dwarsdeur die storm vaar. Altwee is belangrik om vorentoe te beweeg. Ons het nie ñ glansryke ma en dogter verhouding nie, dis eg, soms moeilik maar altyd veilig en opreg. Deur elke fase van ons verhouding het ons dit reggekry om ñ skip te bou wat nie op die rotse beland nie. Ons is beste vriendinne, tog sal sy altyd my dogtertjie bly. Sy is selfstandig en onafhanklik tot sy siek is, dan soek sy nogsteeds net haar ma. Ons kan lag tot die trane loop en saam huil. Ons kan vir ure gesels en ons kan in stilte bymekaar wees. Ons kommunikeer sonder om ñ woord te sè. Sy is my adrenalien en ek is haar kalmte. Die mooiste deel van ons verhouding is nie in glansryke oomblikke of prestasies nie, dis in die wete dat wanneer ons saam is, kan ons net wees. Of dit nou in ñ oomblik is waar dit goed gaan en alles perfek is of in ons mees kwesbare oomblik, ons is altyd veilig bymekaar. Dit is asof die Here al my swakpunte gevat het en dit haar sterkpunte gemaak het. Saam is ons soos twee stukkies van ñ legkaart, jy het altwee nodig om die prentjie te voltooi.
Antwoord 2: 2025 was beslis die mooiste, kosbaarste en uitdagendste jaar van ons verhouding. My meisiekind is die 12de Sept 2025 getroud. Hulle sè om huisverbeterings te doen toets jou huwelik, om saam met jou dogter haar troue te beplan het dieselfde effek. Dit was opwindend om te sien hoe haar kleindogtertjie drome waar word, dit was onwerklik om my kaalvoetkind as ñ jong vrou te sien. Dit was van die begin af vir my belangrik om nie oor te vat nie, dit moes hulle dag wees. Die grootste kompliment wat ek as ñ ma kon kry, was dat sy my deel van alles gemaak het omdat sy my regtig daar wou hè. Daar was baie lag, trane en laat nagte. Ek moes weet wanneer om terug te staan en sy het geleer dat ek tog partykeer beter weet. Die dag was sprokiesmooi maar die oomblik wat uitstaan was toe sy die mikrofoon vat en sè "Girls, ek gaan nie my ruiker gooi nie, hierdie ruiker is vir my beste vriendin, my ma". Dan besef jy, al verander die dinamieka van julle verhouding soos wat sy ouer word, die Here het jou nie net geseèn met ñ dogter nie, Hy het vir jou ñ beste vriendin gegee. Dit is ñ voorreg wat ons nooit as vanselfsprekend sal aanvaar nie.
Antwoord 3: Die dag toe Megan gebore is het tannie Hetta vir my gesè: "choose your battles wisely", sy is ñ mensie met haar eie persoonlikheid. Om te raas en baklei omdat sy nie strikkies in haar hare wil hè nie is onbenullig. Maak seker jy baklei vir dit wat regtig saak maak anders word julle verhouding net ñ groot geraas. Ek het dit altyd onthou, ek dink mens het partykeer vooropgestelde idees van hoe jy wil hè jou dogtertjie moet wees, en wanneer sy dan nie so is nie ontaard dit in ñ magstryd. Vir my is respek selfs belangriker as liefde. Die drie hoekstene van ons verhouding is God, respek en liefde. In daardie volgorde. Jou dogtertjie gaan groot word, voor jy jou oè uitvee is sy ñ jong vrou. En jy weet wat sè hulle van twee vrouens in een kombuis. As daar van die begin af respek is vir mekaar se "kombuise", word dit ñ plek waar julle die mooiste herenneringe maak. Selfs wanneer ons verskil word dit met respek gedoen, en niemand is te goed om jammer te sè nie.