
Dorp: Tzaneen
Antwoord 1: Wat ons verhouding so spesiaal maak, is dat ons nie net ma en dogter is nie – ons is regtig beste vriende. Ons lag baie saam, gesels oor alles, en voel heeltemal gemaklik by mekaar. Ons kies mekaar se geselskap bo ander, en dit maak ons band iets besonders en eg. Ons werk ook saam en het ’n besigheid saam, wat beteken ons spandeer baie tyd langs mekaar. Dit het ons geleer om mekaar te vertrou, mekaar se sterk punte te ken, en mekaar deur moeilike dae te dra. Ons is ’n span, in werk én in die lewe, en ons staan altyd saam. Ons gaan ook graag saam weg. Vakansies, klein wegbreke, en veral die ritte Johannesburg toe vir mediese afsprake vir ma het van ons gunsteling herinneringe geword. Selfs wanneer dinge moeilik was met die mediese afsprake, het ons dit probeer lig maak deur dit ’n “ons-trip" te maak met lekker eetplekke, spesiale hotelle, en bietjie in die stad shop. Dis tyd wat net vir ons is. Ons is mekaar se mense. Ons vent by mekaar, vra raad, en weet die ander een luister altyd. As een van ons swaar kry, los die ander alles en is daar, geen vrae gevra nie. Dis net natuurlik vir ons om mekaar te beskerm en op te pas. Baie keer sê ons vir niemand as ons saam weg is nie, want daardie tyd is kosbaar. Dis ons kans om net saam te wees, sonder afleidings, net ons twee. Ons verhouding is vol liefde, vertroue en herinneringe wat ons saam gemaak het, en dis hoekom ons band so uniek en ongelooflik spesiaal is
Antwoord 2: Ek (Rowena) het nog altyd geweet: as ek eendag trou, moet dit in Zanzibar wees. Net ons naaste mense, sand tussen die tone, warm see, en niks groot of ingewikkeld nie. Maar toe begin die realiteit, om ’n troue per e-pos te beplan van ver af. DJ’s, fotograwe, spyskaarte, venues, verblyf, uitstappies… elke inbox-ping het my hart ’n bietjie vinniger laat klop. Ek was heeltemal oorweldig. My ma (René) het dit gesien nog voordat ek dit regtig self erken het. Sy het pas ’n oogoperasie gehad, kon skaars behoorlik sien, was nog in herstel, en tog het sy sonder huiwering gesê: “Kom, ons gaan.” Net ons twee. Zanzibar toe. Drie dae. ’n Recce. ’n Plan om ’n plan te maak. Daardie drie dae was mal. Ons het rondgehardloop tussen plekke, gesit en proe, gelag, notas gemaak, weer planne verander. Sy het haar oë gespaar waar sy kon, maar nooit haar hart nie. Al was sy moeg, al was sy nog seer, het sy my elke oomblik gehelp dra, nie net die beplanning nie, maar ook my stress. Sy was daar, rustig, vas, soos net ’n ma kan wees. Iets het in daardie dae tussen ons geskuif. Stadiger, sagter. Ek het besef hoeveel liefde daar in daardie eenvoudige daad was, om alles te los en saam met my te vlieg, net om my te help asemhaal. Zanzibar was nie net waar my troue vorm aangeneem het nie, dit was waar ek en my ma mekaar op ’n nuwe manier gevind het. En elke keer as ek terugdink aan daardie troue, onthou ek nie net die see en die son nie… ek onthou my ma, half blind, heeltemal lief, en hoe daardie drie dae ons vir altyd nader aan mekaar gebring het.
Antwoord 3: Hier is ’n bietjie raad, van uit ons verhouding, nie omdat ons perfek is nie, maar omdat ons mekaar kies: 1. Praat eerlik, selfs wanneer dit ongemaklik is. Moenie wag tot dinge te groot raak nie. Dogters hoef nie altyd sterk te wees nie, en ma’s hoef nie altyd al die antwoorde te hê nie. Eerlikheid maak plek vir sagtheid. 2. Wees ’n span, nie net “ma” en “dogter” nie. Daar kom ’n tyd wanneer die verhouding skuif. Wanneer julle mekaar begin sien as twee vroue wat langs mekaar staan, gebeur daar iets besonders. Werk saam. Besluit saam. Dra saam. 3. Wys liefde deur dade, nie net woorde nie. Soms is liefde ’n vliegtuigkaartjie. Soms is dit net stil langs mekaar sit en hande vashou. Wat ook al dit is, wys dit. ’n Goeie verhouding gebeur nie vanself nie. Dit word gekies, in klein oomblikke, groot besluite, en selfs in drie chaotiese dae in Zanzibar. As ma’s en dogters mekaar met respek, empatie en oop harte benader, kan die verhouding groei van iets wat vanselfsprekend voel, na iets wat werklik kosbaar is. En dit, daardie nabyheid, is een van die grootste geskenke wat daar is.