
Dorp: Bellville
Antwoord 1: Janike: Ek is my ma se enigste kind. Dus, ek het nie boeties of sussies nie so my ma is so te sê my ouer sussie. Die verhouding tussen ‘n ma en haar dogter is spesiaal, maar die verhouding tussen ‘n ma en haar énigste dogter is kosbaar. Jy leer mekaar ken op ‘n dieper vlak, maar moet ook partykeer al die verantwoordelikhede en seer alleen dra. Maar dit leer mens ‘n ander tipe vasbyt en volwassenheid. Enigste kinders is nie noodwendig altyd bederf nie, maar ja, wel miskien bederf met ‘n sterker band en emosionele volwassenheid. My ouers het vir 7 jaar gesukkel om kinders te kry. Hulle het mediese hulp ingeroep maar na niks gewerk het nie en omdat dit ‘n baie emosionele wip-wa rit was, het hulle besluit om eers op te hou met behandeling. Dis toé dat die Here my aan hulle toevertrou het in 2004. My ma was rég vir ‘n kind en het ouerskap aangepak met ‘n gemaklikheid wat min mense al beleef het. Dis spesiaal dat my ma later ‘n half dag pos aangepak het sodat sy meer tyd saam met my kon spandeer. Sy is die een wat my idome, intensiewe vorme en trappe van vergelyking geleer het. Sy het my na elke redenaars eistedfodd en koor oefening gery. Sy het toe ek ouer word my bygestaan met hartsake en vriendskapsteleurstellings. Sy het my geleer om altyd te verwoord hoe ek voel en my gewys hoe om sterk te staan sodat mense nie oor jou loop nie. Sy het vir my gewys wat is ware liefde met die woorde: “Al kry jy ‘n H simbool vir ‘n toets of al kom jy heel laaste in die hekkies wedloop, is ek nog steeds net so lief vir jou.” Dit het my aangemoedig om haar en my pa trots te maak. Sy het my die kuns geleer van luister en observeer, om mense se gevoelens en emosies altyd in ag te neem. Sy het met die Here se raad, riglyne en ondersteuning help vorm tot die vrou wat ek vandag is en die stille rede agter baie van my suksesse (veral my Afrikaans prys van matriek eindeksamen). Haar geduld, passie, tere liefde en omgee vir my en ander is werklik kosbaar en skaars. Karina: Dis vir my baie spesiaal om ‘n vriendskap soos geen ander met my enigste kind te kan hê! Lang geselsies langs die tafel of in die motor oppad iewers heen. Ek waardeer dit baie dat sy besef ek wil weet waarheen sy gaan en wanneer sy gaan terug wees nie om haar te beheer nie maar omdar ek opreg omgee en graag wil weet sy is veilig.Ek hoef nie respek af te dwing nie, dit gebeur spontaan en dit is vir my baie spesiaal. Die spesiale verhouding met die Here is sentraal in ons Ma en dogter verhouding. Ek is bevoorreg om haar vir Hom te kon help grootmaak!
Antwoord 2: Die moeiliker tye het ons verhouding se fondasie getoets. Die storms het ons vensters geskud, maar dit het terselfdetyd die sement wat alles bymekaar hou vernuwe en versterk vir die beter. Histories is die man die broodwinner en die vrou die versorger, alhoewel die tradisonele rolle deesdae in die modern lewe baie anders lyk. Toe die rolle in 2019 skielik verander en my ma moes ma-staan vir byna al die verantwoordelikhede, het dit baie spanning veroorsaak. Voeg daarby my pa se onverwagse hartomleiding in my matriekjaar, het dit my ma se binneste diep geraak en haar wêreld eensklaps onderstebo gegooi. Ek moes leer vir my matriek eksamen in die hospital terwyl my pa in die ICU lê. By die huis moes ek my ma ondersteun omdat haar maatjie nie by haar is nie en die emosies hoog geloop het. Na ‘n wonderwerk herstelproses was haar maatjie terug, maar die verantwoordelikheid op haar skouers net meer. In 2023 het stress, harde werk (wat oënskynlik verniet gelyk het) en onsekerheid ‘n hoogtepunt bereik. Op ‘n stadium was beide my ouers op dieselfde tyd in die hospitaal en moes ek baie vining as enigste kind leer hoe die grootmens lewe regtig werk. Dit het later begin voel asof ek my ma verloor het, ek kon nie meer ‘n alledaagse gesprek met haar voer sonder dat die angs en vrees die oorhand gekry het nie. Dinge was anders, vol spanning, ongeduld en seer emosies. Maar dis waar ons gesien het dat as die Here jou fondasie aanmekaar sement het, dit nóóit sal breek nie. Met hulp van vriende, baie gebed en weereens bietjie mediese hulp het dit elke dag beter en beter gegaan. Ons het geleer dat almal van ons ‘n breekpunt het, maar dat almal op verskillende maniere kan breek. As ma prober jy gewoonlik sterk staan vir jou man en kinders, maar jy bly steeds net ‘n mens. Jy besef hoe belangrik is jou geestesgesondheid en dat mens dit nie moet wegsteek, minag of ignoreer nie maar eerder met die Here en die mense die naaste aan jou moet saam staan en daardeur werk. Want elke storm maak die Here weer stil en sien mens weer die blou lug. Nou is ek meer beskermend oor my ma. Ons beskerm nou mekaar. My ma is nou weer die een wat soos ouds my eina beter soen, maar nou kan ek ook die een wees wat haar kan vashou en verseker sy is nie alleen nie, sy hoef vir niks en niemand bang te wees nie. Ek studeer nog uit die huis uit en ons het soveel nader geraak aan mekaar, waar sy nou elke oggend by my sit terwyl ek tande borsel en na werk reg staan met middagete en ‘n drukkie. My ma se grootste begeerte is om net by haar gesin en diere te wees. Ek verstaan dit nou beter en probeer dit nastreef. Die uitdagings op ons pad was aaklig. Ongelukkig kan mens nie beheer wat met jou gebeur nie maar wel hoe jy daarop te reageer.
Antwoord 3: Jy as ma is die versorger maar as jou dogter ouer raak, kan sy ook jou beste vriendin wees. Sy is die een wat jou die beste ken en jou oneindig lief het. Jy moet nooit voel jy mag nie of kan nie hulp vra as jy dit nodig het nie. Ma en dogter is daar om mekaar te ondersteun en mekaar se grootste aanhangers te wees. Mens moet besef ‘n drukkie en ‘n uur se ononderbroke gesels elke dag is so helend. Dis die Here se geheime bestanddeel van sy wonder-sement. Wees geduldig met mekaar en leer ken elkeen se sterk- en swakpunte. Mens se grootste sterkpunt kan partykeer ook jou grootste swakpunt wees. Dus, weet waar jy “tough love” moet toepas en wanneer jy nie moet oordeel nie, maar net moet luister en probeer verstaan. Luister na die ander een se vrese en hartseer. Jy weet nooit wanneer dit die oorhand kan kry en wanneer jy die ander een moet help om die Here se wapenrusting aan te trek nie. Wanneer jy die dag ‘n pap baba in jou arms vashou terwyl jy gedink het dit jou nooit beskore sal wees nie, besef jy hoe kosbaar lewe eintlik is. Om ‘n kind te hê is ‘n voorreg, nie ‘n reg nie. My raad sal wees om baie te bid, om jou kind nie as ‘n besitting te beskou nie maar as begeleier op sy of haar eie lewenspad en om nie jou eie drome deur jou kind te probeer leef nie, om te besef jou kind is anders as jyself en die lewe opnuut te ontdek deur die oë van ‘n kind. Ouerskap is ‘n verantwoordelikheid wat sekere opofferings vereis waarvoor jy volwasse genoeg moet wees. Jy leer om onselfsugtig lief te hê en dat ouerskap belangriker is as roem en rykdom.