
Dorp: Vryheid
Antwoord 1: Ons albei is baie kreatief en hou van mooi goed. Vakansies was nie ‘n tyd van leeg lê of verveeld wees nie, hierdie tye het ons saam kreatief besig gebly. Van ‘n jong ouderdom af, het ek het my dogter, Anrie, gewys dat kreatiwiteit ‘n manier is om met vreugde iets van waarde te skep. In die proses het ek haar geleer van entrepreneurskap, en het ek haar selfstandig gemaak en haar laat glo in haar eie vermoëns. Ons het gereeld saam oulike en kreatiewe goedjies gemaak wat ons dan by plaaslike markte verkoop het. So het ons as ‘n span saam gewerk en wedersydse respek gebou. Ons was saam kreatief besig, geld gespaar om wenslysies te verwesenlik en daardeur herinneringe geskep wat ons verhouding vandag nog uniek maak. Deur my leiding as ma het sy verstaan dat idees waarde het en dat harde werk geleenthede kan skep. Sy sien nie net drome nie, maar moontlikhede. Anrie is ‘n gekwalifiseerde Apteker en vandag as ‘n volwasse jong dame, is sy onafhanklik en deel sy nogsteeds haar drome, ideale en kreatiewe idees met my. Sy is gevorm om die selfvertoue te hê om nooit in haarself te twyfel nie. My moederhart is tevrede dat my kuiken nou selfstandig en suksesvol haar eie vlerke kan sprei. Ek kan nie wag om te sien wat die toekoms vir haar inhou nie.
Antwoord 2: Anrie, is die oudste van twee dogters. Op die ouderom van 8 jaar is Anrie gediagnoseer met Diabetes Tipe 1. Hierdie diagnose het ons wêreld onderstebo gekeer. Skielik was daar nuwe roetines, inspuitings tot 8 keer ‘n dag, bloedsuiker vingerpriktoetse elke 2 ure, asook ‘n drastiese verandering in dieet en lewensstyl vir die hele gesin. Vir my kind was dit oorweldigend en vir my as ma was dit hartverskeurend om te sien hoe my kind op so ‘n jong ouderdom met so ‘n groot verantwoordelikheid moes worstel. Dadelik moes ek as ma, die sterker een wees en haar nie net fisies versorg nie, maar emosioneel ook dra. Toe die skok verby is, en die realiteit in tree, het die moeiliker dae gevolg, moegheid, trane, frustrasies en groot onsekerheid. Dis wel in hierdie tyd wat ons verhouding gegroei het. Ons het saam geleer om sterk te wees, om aan te pas en nooit hoop te verloor nie. Hierdie gesamentlike reis het ons geestelik laat groei en ‘n unieke band van begrip, empatie en onvoorwaardelike liefde is gevorm wat ons verhouding lewenslank sal versterk.
Antwoord 3: Geduld, tyd en ‘n opregte bereidwilligheid om mekaar te verstaan, bou ‘n sterk verhouding. Dit gebeur nie oornag nie. Soms is dit die moeiliker pad wat ‘n sterk verhouding bou. Luister nie net om te antwoord nie, maar om regtig te verstaan hoe die ander een voel. Respek is ‘n baie belangrike bousteen. Ma’s en dogters is twee verskillende mense met hul eie persoonlikhede, drome en menings. Respek beteken ook om grense te erken en ruimte te gun vir groei en selfstandigheid. Konstante ondersteuning skep ‘n sterk band wat deur enige storm kan hou. Kwaliteittyd is uiters belangrik. Dit hoef nie groot oomblikke te wees nie. ‘n Vinnige geselsie, iets kreatief saam doen of selfs net saam stil wees. Met liefde, respek en begrip, kan ‘n ma-en-dogter verhouding een van die sterkste en mooiste bande wees.