Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Blanche RIgelnik

Blanche RIgelnik

Dorp: Kaapstad

Antwoord 1: Dit maak my so gelukkig dat VREUGDE, VERSORGING en VERTROUE so ‘n belangrike rol speel in ons verhouding. Ek versorg nog graag haar voete; sy pluk my ongewenste haartjies. Ek bederf haar met ‘n gesigsbehandeling; sy vertel my van hialuroonsuur. Ek gee vir haar my ou hoenderpasteiresep; sy help my met lekker lugbraaierresepte. Ek verstel nog soms haar klere; sy speel sommer 3 potte Krabbel met my voor ontbyt. Ek maar haar spelfoute en sinskonstruksie reg; sy leer my op my selfoon banksake doen. Ek vertrou haar met my vrese en bieg oor my swakhede; sy vertrou my ervaring en luister na my raad. Ek respekteer haar andersdink oor die wêreld waarin sy leef; sy laat my toe om vas te hou aan wat vir my belangrik is. Ek bewonder en prys haar omdat sy oefen en reg eet; sy koop vir my ‘n oefenhorlosie om my aan te moedig. Ek lag saam met haar oor haar kinders se snaakse sêgoed en bid die heelnag deur as sy bekommerd is; sy lag saam met my oor oumensfoute en bid saam as ek moet gaan vir ‘n mammogram. Vandag is ek bly oor elke belegging wat ek in haar gemaak het – die opbrengs is onmeetbaar.

Antwoord 2: Op 20 Mei 1982 het my droom waargeword toe ons pragtige donkerkop dogtertjie gebore is. Die vreugde was onbeskryflik, maar is gou-gou gedemp deur die dokter se verduideliking dat sy sonder ‘n sagte verhemelte gebore is. Die implikasie van hierdie probleem het my wel deeglik laat besef dat VREUGDE en VERSORGING die eerste twee pilare van ons twee se verhouding sal wees. As ek al die slim mense moet glo, was ons dogtertjie wel deeglik deel van die geboorteproses en die vreugde, maar ook van die skok en aanvanklike onsteltenis. Ek sou graag daar en dan vir haar wou së :” VERTROU my, ek sal jou met VREUGDE VERSORG. Die versorging was nie altyd maklik nie, maar die vreugde toe sy op 7 maande na ‘n ure-lange operasie die eerste keer uit ‘n bottel kon drink, kan ek nog steeds nie in woorde beskryf nie. Toe die steke in haar verhemelte tydens die herstelproses oplos en aanvanklik weer ‘n “gaatjie” veroorsaak, het my goeie voorneme om haar met vreugde te versorg, soos mis voor die son verdwyn. Met kaalvoete in ‘n strandjakkie wat skaars my swembroek bedek het, het ek die straat afgehardloop na my ma toe, my babadogtertjie in haar arms gesit en gesê:”Vat haar, ek wil haar nie meer hê nie!” Na n paar uur en ‘n kalmeerpil het my ma haar naamgenoot aan my teruggegee met die woorde:” Net jy kan haar ma wees!” Vandag, 43 jaar later, ken my dogter elke klein detail en elke nuanse van hoe ons verhouding ontstaan het.

Antwoord 3: Jou dogter kan jou innige vriendin wees; nie jou pêl nie. Respekteer jou dogter se privaatheid – jou ma het ook nie alles van jou geweet nie! Moenie jou dogter kritiseer omdat sy anders dink, leef en glo nie. Moenie haar kinders en haar man kritiseer nie. Prys haar en spreek jou waardering uit. Moenie besitlik wees op haar tyd en energie nie. As daar spanning in die verhouding is, maak jou mond toe en jou arms oop! Speel saam en lag saam.