Dorp: Meyerton
Antwoord 1: Ons verhouding het al begin nog voor daar ‘n man of kinders op my ma se horison was. Ouma Els het gereken haar kleindogters hoef nie so swaar aan doopname te dra nie, en het haar eie name vir die oudste kleindogters saamgestel. Sò het my ma lankal my naam gekies; ek moes net opdaag...Ek is gebore as die oudste van ‘n tweeling – twintig minute voor my boetie! – en het met trots my naam gedra. Met die grootword het ek en my ma mekaar soms goed opgevryf maar ook mekaar goed verstaan, want ons is altwee introverte. Op universiteit het ek talle naweke saam met my ma na haar vergaderings en kongresse gegaan, waar ons ure oppad gesels het en die verbly in gastehuise geniet het. Sy’t my hele troue gereël en my trourok gemaak, en was deel van elke kind se geboorte en versorging in daardie eerste paar uitputtende weke (al vyf van hulle)! In 2015 het ons voor ‘n familiekrisis te staan gekom, wat verskeie verhoudings vernietig het*. Ons twee se verhouding is onder ernstige druk geplaas, maar tog, deur die Here se genade, kon ons ‘n beter, sterker, hegter verhouding bou. Ons twee is nou mekaar se beste vriendinne, wat saam lag, saam huil, saam die toekoms instap. *Dit het op die lappe gekom dat my pa my dogters gemollesteer het. Ek en my man het die moeilike besluit geneem om dit by die polisie aan te meld, en ‘n hofsaak het gevolg. My ma moes my pa bystaan, terwyl ek en my gesin die nagevolge moes hanteer. My pa het ‘n opgeskorte vonnis gekry met 5 jaar huisarres.
Antwoord 2: Kort na die hofuitspraak het ek en my ma vir twee weke Spanje, Frankryk, Italië en Venesië besoek. Ons was op onsself aangewese (ons het nie ‘n reistoer bespreek nie) en gevolglik het ons ons hartseer, woede en ontnugtering met mekaar deel in ‘n omgewing ver weg van die situasie. Gelukkig het ons ‘n sterk fondasie gehad om op terug te val en kon ons verhouding van nuuts af groei, en ons twee as volwassenes kon vriende maak.
Antwoord 3: In die eerste plek, verstaan dat elkeen sy eie, unieke persoon is met haar eie goeie en slegte punte. Probeer verstaan uit watter oogpunt die ander een sake sien en hoe julle mekaar kan aanvul. Verder, jy kan net iemand help wat gehelp wil word – soms is net ‘n oor nodig! Sáám is ons beter om uitdagings te oorkom.