
Dorp: Klerksdorp
Antwoord 1: Van die dag wat my sussie gesê het ek en my dogter moet in skryf vir hierdie kompetisie, het ek gedink aan hoe ek ONS gaan beskryf sodat die volkome prentjie van ons spesiale band geskets kan word. Woorde is te min, te leeg, maar die spesiale band tussen ñ ma en dogter laat die hart oor loop van dankbaarheid en liefde. Chané is gebore in 2002. ñ Juweel geskape uit God se wonderbaarlike hand. Sy is my "mini me". My dogter en ek deel ’n sterk band wat niks of niemand kan breek nie. Ons is telepaties verbind – ons weet instinktief hoe die ander een voel, selfs sonder woorde. Al is ons nie altyd fisies by mekaar nie, is ons daagliks in mekaar se lewens met video-oproepe, twee tot vier keer per dag. Ons deel dieselfde waardes, humor en ’n diep begrip vir mekaar. Ons is mekaar se veilige hawe, ondersteuning en grootste ondersteuners. Somtyds sal my dogter iets sê of doen, en dan begin lag en vir haarself sê: "klein Jolenetjie". By mekaar kan ons net wees, gelukkig, ongelukkig, laf, ernstig of snaaks, solank ons net in mekaar se teenwoordigheid is. Ons kan eenvoudig nie sonder mekaar klaar kom nie, en daarom neem ek hierdie jaar ’n groot lewensbesluit: ek trek Kyalami toe, net om by haar te wees. Dit is nie net ’n lewens keuse nie, dit is ’n bewys van ons onbreekbare ma-en-dogter-band. Ons waardes en keuses in die lewe draai om mekaar. Twee Godsvreesende vroue wat ons Skepper ken, en ook kan saam bid. Ons kan ure lank gesels, of net stil in mekaar se teenwoordigheid wees. Net om by mekaar te wees, is vir ons ñ groot seën en voldoende! En dít is hoekom ons verhouding baoe spesiaal is.
Antwoord 2: Ek en my dogter het ook ’n minder goeie tyd saam beleef—’n tyd wat my lewe onherroeplik verander het. Op 30 Junie 2015 is my moeder met vier verskillende soorte kankers gediagnoseer. Net 26 dae later, op 26 Julie 2015, is sy na haar ewige tuiste. Die verlies was skielik en verwoestend. My en my ma se band was ongelooflik sterk; sy was my steunpilaar, my veilige hawe. Toe sy weg is, het dit gevoel asof my hart leeg agtergebly het. In daardie donker tyd het ek egter ’n kosbare geskenk gehad—my dogter, ’n pragtige, God-geseënde meisiekind van net 13 jaar oud. Al was ek gebroke, het ek ’n bewuste besluit geneem: die diep, kragtige band wat ek met my moeder gehad het, wou ek nou met my eie dogter bou. Dit was nie maklik nie. Ons het saam deur rou, onsekerheid en emosionele uitdagings gestap. Van daardie dag af het ons band begin groei—stadig, eerlik en dag vir dag. Deur daaglikse uitdagings, trane en gesprekke het ons mekaar leer vashou. Uit verlies is daar ’n nuwe verbintenis gebore, en uit pyn het ’n sterker moeder-dogter-band gegroei—een wat vandag steeds dra, leer en heel maak.
Antwoord 3: As ma en dogter wil ons vir ander ma’s en dogters sê: wees mekaar se mens. Kies mekaar, elke dag—nie net in die maklike tye nie, maar veral wanneer dit moeilik raak. Respekteer mekaar se tekortkominge net soveel as mekaar se talente, want niemand is perfek nie, maar elkeen is kosbaar. Wees daar vir mekaar in goeie én slegte tye. Skep ’n ruimte waar daar gelag kan word, maar ook gehuil kan word sonder oordeel. Ma’s en dogters moet die vrymoedigheid hê om mekaar te vertrou—met geheime, vrese en drome—want vertroue bou brûe wat niks anders kan nie. Die belangrikste is om eers mekaar regtig te vind en te verstaan: om te luister om te hoor, nie net om te antwoord nie. Wanneer begrip eers wortel skiet, sal die res vanself in plek begin val—liefde, respek en ’n band wat niks kan breek nie.