
Dorp: Johannesburg
Antwoord 1: My en my ma se verhouding is nie net ’n gewone ma en dogter verhouding nie. Dit is ’n band wat gebore is uit oorlewing, geloof en onvoorwaardelike liefde. Ons storie begin nog voordat ek gebore is. My ma was net onder 30 weke swanger met my toe sy in ’n ernstige motorongeluk betrokke was. Sy was vroegoggend oppad om my ouer sussie by ’n netbaltoernooi te gaan haal toe die motor vyf keer gerol het. Met die laaste rol het sy uit die motor op haar rug geval. Sy kon nie beweeg nie en dit het liggies begin reën. Sy se al wat sy kon doen, was bid dat ek sal lewe en gesond sal wees. Die ongeluk het op 24 Maart 2003 gebeur. My ma was in ’n koma en ek is eers op 27 Maart gebore. Dokters het voorspel dat ek moontlik doof sou wees en nie normaal sou funksioneer nie, maar God het ander planne gehad. Ek is gesond gebore en niks van die voorspellings het waar geword nie. Dit was egter net die begin van my ma se stryd. Sy het tydens haar behandeling besmette bloed ontvang wat ’n outo immuun siekte veroorsaak het. Dit het gelei tot jare se siekte, pyn en talle operasies aan haar rug, nek, bene en hande, asook ander ernstige gesondheidsuitdagings. Ten spyte van alles het my ma altyd my kinderlewe eerste gestel. Toe my ouers skei toe ek twee jaar oud was en ek my pa eers weer op dertien gesien het, het my ma beide rolle vervul. Sy was my beskerming, my veilige plek en my grootste ondersteuner. Sy het my gevorm met liefde en opoffering en my geleer om sterk te wees. Danksy haar ondersteuning het ek akademies uitgeblink en selfs hoofmeisie geword in die laerskool, als te danke aan haar rol in my lewe. Wat ons verhouding so spesiaal maak, is nie net wat ons oorleef het nie, maar hoe ons dit saam gedoen het. My ma leef elke dag met pyn, maar dra haarself met grasie. Al sit sy in ’n rolstoel, is haar innerlike krag en skoonheid oorheersend. Tenspyte van al haar seer kan mens haar altyd deur n ring trek. Sy het my geleer wat ware liefde en deursettingsvermoë beteken. Ons verhouding is vir my kosbaar en uniek.
Antwoord 2: My ma en ek het al baie goeie en moeilike tye saam deurgemaak. Die ongeluk in 2003 het ons lewens onherroeplik verander. Van kleins af was hospitale, operasies en rehabilitasie deel van ons realiteit. Tog het my ma altyd alles in haar vermoë gedoen om vir my ’n normale en gelukkige kinderlewe te gee. Sy het my ondersteun met elke belangrik oomblik, selfs wanneer sy self in pyn was. Daar was ook moeilike tye tussen my en my ma. In my tienerjare het ons koppe gestamp soos enige tiener en haar ma. Ek was soms lelik en ongeduldig, en ek het nie altyd besef hoeveel my woorde kon seermaak nie. Ten spyte daarvan het my ma my steeds liefgehad en my telkens vergewe. As ek vandag terugkyk, wens ek met my hele hart ons het nooit oor enigiets vasgesit nie. Ek wens ek het daardie tyd beter benut, want tye saam met my ma is so ongelooflik spesiaal. Dit is my grootste spyt dat ek kosbare oomblikke gemors het. Nog ’n uiters moeilike tyd was toe ek en my man in 2023 na Johannesburg verhuis het en ek my ma in Bloemfontein moes agterlaat. My hart breek elke dag oor die afstand tussen ons. Ek dink gedurig daaraan dat my ma volgende jaar sestig word en nie jonger raak nie. Ek onthou hoeveel keer ek al gevrees het dat sy dit nie gaan maak wanneer sy ernstig siek was nie. Dit laat my wonder hoe ’n mens werk bo tyd saam met jou ma kan kies. Ek wil nie eendag terugkyk en spyt wees dat ek nie elke dag saam haar ten volle benut het nie. Dus hoop ek tog om eendag terug te kan trek Bloemfontein toe, om weer naby haar te wees. Ek mis ons middag koffie, lekker "mall" uitstappies en sommer net lag en gesels oor als. My ma verstaan my sonder dat ek ’n woord hoef te sê. Sy kry dit altyd reg om my beter te laat voel. Al is die verlange soms oorweldigend, hou ek vas aan geloof. Die Here was nog altyd daar vir ons. "For His mercy never fails us, all of our days He held us in his hands, all of our life He has been faithful" Daarom glo ek nie dat my ma se hoofstuk so op ’n einde sal kom terwyl ons so ver uitmekaar is nie. Ek glo met my hele hart dat ons een van die dae weer in dieselfde stad sal bly en dat ek haar kan versorg. Dit sal vir my die grootste voorreg wees.
Antwoord 3: My raad aan ander ma’s en dogters is om mekaar nooit as vanselfsprekend te aanvaar nie. Tyd is kosbaar en broos. Elke oomblik wat julle saam het, maak saak. Moenie wag vir eendag om dinge reg te maak of liefde te wys nie. Eendag is nie belowe nie. Wees geduldig met mekaar, veral tydens tienerjare. Ek het self ervaar hoe maklik dit is om seer te maak sonder om die impak te besef. Ek wens ek het vroeër verstaan hoe kosbaar elke oomblik saam met my ma is. Vandag klou ek vas aan elke oomblik wat ons deel. Moenie bang wees om te vergewe nie. Liefde beteken om oor foute heen te kyk en steeds daar te wees. My ma het my telkens vergewe en dit het my geleer wat ware onvoorwaardelike liefde is. Leer om dankbaar te wees, selfs vir uitdagings, want dit is dikwels die swaar tye wat verhoudings dieper en sterker maak. Kommunikasie is belangrik, maar teenwoordigheid is net so belangrik. Wees daar vir mekaar. Luister regtig. Soms sê stilte meer as woorde. Die band tussen ’n ma en dogter is iets besonders en kosbaars wat beskerm en gekoester moet word. Laastens wil ek sê, sê vir jou ma dat jy haar liefhet. Sê dit vandag. Sê dit môre weer. Koester haar. My ma se plek in my hart is vir ewig gevestig. Niks sal dit ooit kan verander nie. Ek het haar nodig in my lewe en sien uit na die toekoms saam met haar, see vakansies, inkopies en ons lekker geselsies. Elke dag saam met jou ma is ’n seën. Koester dit met alles wat jy het.