Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Nirese Olivier

Nirese Olivier

Dorp: Pretoria

Antwoord 1: Woorde is eenvoudig nét te min om hierdie verhouding vas te vang! Ons dink natuurlik dat ons ’n ongelooflike spesiale verhouding het. Nie omdat dit perfek is nie, maar omdat dit eg is. Iewers langs die pad het ons besef dat ons nie net ma en dogter is nie, maar ook beste maatjies. Twee mense wat mekaar regtig sien, wat dinge dieselfde sien, dieselfde dinge raaksien, en wat dikwels op presies dieselfde oomblik dink: “Dit is presies wat ek ook wou sê!” Ons is op ’n plek in ons lewens waar ons mekaar se harte ken. Met snaakse verskille hier en daar, ja, maar in wese is ons so naby aan mekaar dat dit voel of ons dieselfde mens geword het. Ons deel waardes, drome, humor en selfs onsekerhede. En dalk is dit hoekom ons nie sonder mekaar kan gaan nie. Minstens drie keer ’n week is daar ’n lang oproep van twee tot drie ure, nog ’n paar vinnige oproepe tussen-in, elke dag iets, al is dit net ’n stemnota of ’n “lag gou saam met my oor hierdie". Besluite is selde alleenbesluite. Of dit nou groot lewensbesluite is, of iets eenvoudigs soos ’n bloes wat gekoop moet word (want hoe anders) tot "watter spesery is deesdae in?". Ons is sielsmaatjies, die beste klankborde vir mekaar ooit, het mekaar se insette nódig. Ons het werklike bewondering vir mekaar, elkeen in sy eie reg. Ons weet ons kan énigiets aanpak, want ons 'het' mekaar. Daardie "you can do it" en “well done” van die ander een beteken meer as wat woorde ooit kan beskryf, want sy 'get' my. Die spesiaalste is dat ons verhouding ’n veilige plek is. ’n Plek waar daar bitter baie respek en vertroue in mekaar is, liefde wat nooit bevraagteken word nie... waar daar geredeneer mag word, ge-"you do you" kan word, gelág word tot die trane rol, gehúíl word tot die trane rol, ook eerlik gepraat word, en daar vir mekaar en ander gebid word. Dis ’n verhouding wat nie vanselfsprekend geword het nie, dis een wat elke dag gekies word. En dit, dink ons, is een van die miljoene dinge wat ons verhouding só besonders maak.

Antwoord 2: Ons was al saam deur baie! Maar een tyd staan vir ons uit. Sjoe, hierdie was dalk die 'cherry' op die koek, ’n Tyd wat ons steeds tranerig maak wanneer ons daaraan dink, omdat dit terselfdertyd die angswekkendste én die mees genadevolle seisoen was. Vroeg verlede jaar is Ma met borskanker gediagnoseer. Die woord alleen was genoeg om die grond onder ons voete uit te ruk. Skielik het ons besef dat hierdie verhouding wat ons het, hierdie band wat so diep en sterk voel, nie ’n gegewe is nie. Dit was veral swaar omdat ons tevore ons ma en ouma aan dieselfde monster verloor het. ’n Ma en Ouma aan wie ons ongelooflik naby was, en wat vir lank die gom tussen ons, almal en alles was. Daardie tyd het ons geleer wat regtig saak maak. Ons het stadiger geraak. Meer egte tyd vir mekaar gemaak. Simpel gesprekke oor alledaagse dinge en flou grappies, maar ook die diep gesprekke. Gebede. Stilte. Lag, selfs wanneer dit voel of jy nie mag lag nie! Ons het begin kies om die lewe te vier, nou, nie eendag nie. Ons het dinge gedoen wat ons harte vol maak, al wat dit uit ons gemaksone soos ’n fotosessie wat ons laat verlede jaar gereël het, net om mekaar te sien, regtig te sien, en dankbaar te wees. Ons het geleer om mekaar nie as vanselfsprekend te aanvaar nie, maar as ’n voorreg wat beskerm en gekoester moet word. Uit ’n seer plek het ons verhouding gegroei. Dieper. Sterker. En vandag weet ons: liefde wys nie net in goeie tye nie, maar veral wanneer jy saam deur die storm staan en kies om mekaar se hand stýf vas te hou!

Antwoord 3: Uit 'n ma(mma) se oogpunt: Moet vir geen oomblik dink dat die pad net altyd maanskyn en rose was nie! My meisiekind was so tiener soos wat jy dit kan kry, van deure toeklap, opgeblaasde wange, verskrìklike deurmekaar kamer, sommer net plein dwars wees ... de lot! Hoe bitterlik ons ook soms in tienertyd gehak het, het dit nooit die veiligheid van ons verhouding bedreig nie. Sy het geweet ek is haar ma, deur dik en dun. Ek het geweet sy weet ek is onmenslik lief vir haar, al maak sy of sy dink ek "haat" :) haar. My raad, bid en o genade en moenie ophou nie; gee drukkies al kom dit stram; al breek dit jou hart - gee haar die geleentheid om foute te maak, maar sorg dat sy weet jy is haar vangnet. Uit 'n dogter se oogpunt: Onthou: jou ma het jou gevorm. Sy het jou sien grootword, jou leer ken in seisoene wat jy self dalk al vergeet het. Sy ken jou beter as wat jy soms besef. Onthou: jou ma is nie onaantasbaar of op ’n voetstuk waar jy haar nie kan bereik nie, sy is menslik, toeganklik en jóúne! Jy mág met haar deel. Jy mág voor haar breek. Jy mág vra dat sy jou help en jou weer opbou, in enige situasie. Dit is jou má. Sy is jou veiligste plek, in jou swak oomblikke, jou skaamtes, jou verkeerde besluite én jou goeie besluite. My ma sê altyd sy voel alles wat ek voel, net honderd keer sterker. En dis waar: sy hoor jou hart, lank voordat jy self die woorde het, as jy haar nét die geleentheid gee. Goeie én moeilike situasies. En die waarheid is, jou ma kan jou nie los nie (gelukkig!). Dit is jou má. Nie iemand wat sommer kan wegloop nie. Julle is aan mekaar geheg. Solank julle aan die verhouding werk, eerlik bly praat en mekaar se harte bly raaksien, word dit ’n verhouding wat lei, dra en rig, deur elke besluit en elke lewensfase. Ons raad aan ander ma’s en dogters is eenvoudig: besef die waarde daarvan. As jy so ’n verhouding in jou lewe het, koester dit. Nie almal is so bevoorreg nie. Vat die oproep in jou besige dag. Drink die koffie saam. Maak tyd, want eendag kan jy nie meer nie. Leer by mekaar. Ma is dalk in ’n ander lewensfase en kan wysheid deel oor dinge soos huis koop en "twee keer asemhaal". Dogters kan weer help met nuwe idees, tegnologie en hoe die wêreld vandag werk. Ons kan nie sonder mekaar nie! En ja, ons kom ook nie altyd by dieselfde antwoord uit nie, en dit is heeltemal 'okey'. In ’n hegte verhouding is dit selfs gesond om te verskil. Wat saak maak, is om mekaar se keuses te respekteer en steeds daar te wees vir die ander, ongeag die besluit. Bid vir mekaar. Praat eerlik. En iets wat vir ons baie help: Watter “hoed” jy dra. Soms is dit die ernstige ma-en-dogter-hoed, en soms die vriendinne-hoed. Albei is nodig. En laastens: Luister regtig. Sien mekaar raak. Maak tyd. Lag oor verskille. Aanvaar mekaar vir wie elkeen is. Wees lief. Ons kan amper belowe: as jy dit doen, sal daar ’n verhouding groei wat jou lewe verryk op maniere wat jy nooit sou kon voorsien nie. Dis jou má, dis jou dógter!! “If you’re gonna love somebody, hold them as long and as strong and as close as you can… till you can’t.”