Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Delareze Joubert

Delareze Joubert

Dorp: Carletonville

Antwoord 1: My en Ancri se verhouding is vir my kosbaar en heilig. Net nadat my pa in 2005 oorlede is, het ek swanger geraak met haar. Dit was ’n tyd van diep emosie en innerlike stryd. Ek het nie regtig kans gehad om te rou nie; ek het myself doelbewus geforseer om my fokus te plaas op die nuwe lewe wat binne my gegroei het. Dit was ’n baie moeilike jaar, gevul met eensaamheid en seer, maar elke dag het ek gekies om lewe te spreek oor hierdie kosbare geskenk. Presies ’n jaar en een dag na my pa se afsterwe is Ancri gebore—’n ware geskenk in die plek van ’n roukleed. Van daardie oomblik af was ons onafskeidbaar. Sy het nog altyd haar vrese, vreugdes en diepste geheime met my gedeel. Die kinders het haar dikwels gespot omdat sy nie vir haar mamma kon jok nie, omdat ek “altyd alles weet”, maar vir ons was daardie band iets besonders en kosbaar. Selfs nou, as ’n tweedejaarstudent, geniet ons dit om soveel as moontlik saam te doen—ons koop die tyd uit. Ons verhouding het gegroei van mamma en dogter na beste vriendinne. Ons is lief vir mekaar “tot by Jesus en terug”, en ek weet hierdie band is een van die grootste geskenke wat ek ooit ontvang het.

Antwoord 2: Nie alles was altyd maklik nie, maar juis die minder goeie tye het ons verhouding sterker gemaak. Ancri is ons enigste kind, en alhoewel ek alles in my vermoë gedoen het om haar te gee wat ek self nooit as kind gehad het nie, was sy op tye ook baie alleen. Dit was vir my een van die moeilikste realiteite om te aanvaar. Een van die swaarste periodes was 2020, tydens Covid-19. Ancri was die enigste een van haar laerskoolmaats wat in daardie jaar na Hoërskool Fochville gegaan het. Al is sy ’n sosiale vlinder, sukkel sy om diep, ware vriendskappe te vorm, en as die “nuwe” meisie tussen ’n groep wat saam grootgeword het, het sy baie uit gevoel. Sy het skaars begin om nuwe maats te maak toe die inperking begin het. Skielik was sy depressief, afgesonder en afgesny van die wêreld. Buiten my en haar pa, het sy byna met niemand kontak gehad nie. Dit was ’n pynlike tyd, maar ook ’n vormende een. In daardie stilte en afgesonderdheid het ons weer doelbewus gekies om tyd vir mekaar te maak—om saam te wees, saam te bid en regtig na mekaar te luister. Die inperkingstyd het ons geleer om stadiger te beweeg, meer ingestel te wees op mekaar se gevoelens en ruimte te maak vir eerlike gesprekke. Dit het ons band verdiep en ons verhouding sterker gemaak as voorheen. Uit ’n moeilike seisoen het daar iets mooi gegroei—’n nog dieper verbondenheid tussen ma en dogter..

Antwoord 3: Om altyd eerlik te wees en nie dinge weg te steek nie. Ek haat dit as mense vir my lieg en een ding wat ek haar geleer het, is om eerder iets vir my te vertel voordat ek dit by ander mense te hoor. Onvoorwaardelike liefde is baie belangrik. Ten spyte van foute, bly ons lief vir mekaar. Dit is soos wat daar in die Bybel staan - niks kan ons skei van God se liefde vir ons nie, so ook met ouer en kind verhoudings. Al maak die een droog, mag ons dalk teleurgesteld wees, maar dit maak nie dat ek minder lief is vir my kind nie. Jou kind moet jou as ñ veilige plek sien waarheen sy kan hardloop wanneer die geraas van ñ gebroke, hoopverlore wêreld soms oorverdowend is. Leer jou kind van Jesus anders gaan die wêreld haar leer van wêreldse dinge.