Dorp: Midlands Estate
Antwoord 1: Ek en my Ma het ’n baie sterk en besondere band. Sy is nog altyd ’n konstante deel van my lewe. Ons verskil twintig jaar, wat maak dat ons mekaar goed verstaan en maklik met mekaar kan gesels. Ons is Ma en Dogter maar ook Vriendinne. Sy is elke oggend daar met ’n boodskap of oproep, en deur die dag bly ons in kontak via WhatsApp. Wat my ma werklik uitsonderlik maak, is haar bereidwilligheid om alles te los en vir my daar te wees – sy sal sonder twyfel op ’n vliegtuig klim en my kom help, maak nie saak waar in die wêreld ek is nie, iets wat sy al meer as een keer gedoen het. Ons deel alledaagse dinge soos resepte en oefeninge, en wanneer sy by my huis kom, help sy sommer met klein take soos om my gordyne korter te maak. My ma is altyd bereid om te help, altyd teenwoordig en altyd vol liefde. En daar is nie ‘n berg wat ek nie vir haar ook sal klim nie. Terwyl ek 'n foto soek om hier aan te heg, besef ek net weer hoeveel lekker avonture ek en sy al gedeel het, hopeloos te veel om hier alles te noem. 'n Dankbaarheid borrel in my om die voorreg te hê om soveel dinge met my Ma te kan deel.
Antwoord 2: Daar was twee groot dinge in my lewe wat dadelik in my gedagtes opspring. Ek was in Graad 11 of 12 toe my Pa begin werk het as Expat in Ethiopia. Hy kon ongelukkig net elke 9 weke huis toe kom vir 2 weke. Gedurende daar die 9 weke wat ek dit net ek, my Broer en my Ma was, moes ons mekaar meer bystaan as ooit te vore. Skielik het ons baie meer tyd saam mekaar begin spandeer. In 2016 was ons (Ek en my eie gesin) in 'n gewapende huisroof. My Man was baie ernstig beseer. My Ma en Pa het dadelik opgery Pretoria toe. Hulle het my en my gesin bygestaan met alles in hulle. My Ma was nie net daar vir my in vlees nie maar ook op 'n emosionele en Christelike vlak.
Antwoord 3: Kommunikasie wat oop en gereeld plaasvind is 'n moet vir enige goeie en sterk verhouding. Respek en aanvaarding vir mekaar se verskille en ander siening. Albei moet weet dat daar nie 'n handleiding is vir ouer of kind nie. Elke dag en tree is 'n nuwe ervaring en belewenis vir elkeen.