Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Nedine Stroebel

Nedine Stroebel

Dorp: Bloemfontein

Antwoord 1: Wat ons verhouding so besonders maak, lê in ons beginstorie. Dit is dalk nie ’n verhaal wat groot aftrek kry of wyd gevier word nie, maar dit is óns storie – en dit is vir ons kosbaar. My ma se tienerswangerskap was vir die negentigerjare nie iets waaroor vryelik gepraat is nie. Met so ’n situasie is aanneming ’n belangrike opsie wat ’n ouer moet oorweeg, en was daar ook die nodige stappe geneem om dit in plek te kry sou my ma aanneming oorweeg. My ma het gekies om my te hou en myself groot te maak. Saam met daardie besluit het sy ’n musiek- en sangloopbaan – haar passie, haar droom – opsy geskuif om by my te wees. Sy het afstand gedoen van verhoogligte, optredes en die moontlikheid om haar talent met die wêreld te deel, sodat sy haar tyd, energie en liefde volkome in my kon belê. Enige jong meisie sal veel eerder ’n universiteitslewe saam met vriende kies, vakansies weg en fliekaande – nie my ma nie. Al het sy dit verlang, was haar prioriteit by haar kind. Ek haal my hoed af vir iemand wat vroeg opstaan kies bo in-lê! Jare gelede kry ek die antwoord oor hoekom sy gekies het om my te hou by my oupa – en dis eenvoudig. Sy het jou gehou, want jy is haar kind. Vandag is ons beste vriende! Sy is my vriendin en dan my ma! Ek kan alles met haar deel. Na haar sal ek altyd opkyk – iemand wat net die beste vir haar kinders wil hê – dit is my ma!

Antwoord 2: ’n Tyd wat ek dink vir ons die moeilikste was, was toe ek universiteit toe moes gaan. Nog nooit was ek weg van my ma af nie. Dalk vir ’n kuiertjie êrens of ’n naweek by oupa en ouma – maar meer as dit – no ways! Ek weet ek was baie ma-vas, maar ek besef nou sy was eintlik ook maar kind-vas. Hoe dan anders? Ouma sê altyd om kinders te hê is soos om jou hart buite jou liggaam te laat loop en lewe. Nou, hoe maak gemaak as die voëltjie uit die nes moet spring? Wat as hy val? Seerkry? Iets hom opvreet? Die natuurlike vrese is onvermydelik. Hoe het ons daardeur gekom? Vertroue en vryheid. Dat ’n ma moet vertrou dat haar dogter sterk genoeg is om die groot wêreld in te gaan… en ook die toelating daarvan. Ek dink dit was daardie eerste maand of wat baie moeilik vir haar om te weet ek is nie in my kamer nie, maar die vryheid wat sy my toegelaat het om te hê, het my ’n kans gegee om te vlieg! Omdat sy die “ja” gegee het, die bemoediging, die “dis OK – you can go!”, het ek met baie selfvertroue my universiteitsdae aangepak omdat daar vertroue en vryheid was om dit te ontdek en geniet.

Antwoord 3: Dis baie belangrik om nie staat te maak net op die feit dat jul ma en dogter is nie. Dis soos om staat te maak op die feit dat ’n man en vrou getroud is, maar hul werk nie aan hul huwelik nie. Daar was ’n tyd wat ek nie seker was of my ma se gunstelingkleur nog blou was nie; eet sy nog dit? Hou sy nog van so? Toe besef ek ons het in ’n groef geval. Ons het nie meer by mekaar ingecheck oor die “diekies en daatjies” van die lewe nie, en nog minder oor die dinge van die hart. Ons raad is om die beste te maak van elke tydjie wat jul saam kry! ‘n Vinnige draai ry mall toe, terwyl jul tee maak, stoep sit of reg maak vir ‘n outing. Doen die een ding waarvoor vrouens bekend is, en dit is praat! En luister! Maar praat die dinge uit – praat oor die nou, die verlede, die toekoms. Deel intieme oomblikke soos om vir mekaar te bid en praat oor die huweliksdinge – dis jou ma (sy weet klaar als!). Ons ontwikkel baie verhoudings deur die loop van ons lewe – maar niks is soos ’n ma-en-dogter-sin nie.