Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Elmari Wentzel

Elmari Wentzel

Dorp: Thabazimbi

Antwoord 1: Ek dink daar is 'n addisionele hartklop versteek binne-in my DNA wat behoort aan my dogter, Anke-Mari Marais. Ek was sedert haar vyfde verjaardag 'n enkelmamma en so oor die jare het daar het 'n fyn aanvoeling ontwikkel. In die tye wat sy as dogtertjie nie by my kon wees nie en ook later in haar studentejare kon ek maar weet - as daar so 'n onrustigheid in my ontstaan en sy is konstant op my "radar", was sy gekonfronteer met iets groot of iets moeilik. Wanneer ek dan met haar sou praat, het ek sommer vinnig agtergekom wat in haar hart aangaan wanneer sy begin babbel het. Dit is vandag steeds so - maar sy het gegroei tot 'n pragtige, sterk, volwasse vrou. Ek bewonder die waagmoed waarmee sy die lewe aanpak, en die pragtige balans wat sy handhaaf as vrou vir haar man, maar ook beroepsvrou en vrou in eie reg. Sy leef al die fasette van vrouwees op 'n besonderse manier uit. Haar spontane, lewenslustige, borrelende geaardheid is aansteeklik en saam met dit straal sy ook 'n kalm volwassenheid uit. Ek kan vir haar raad vra en ek beskou haar nie net as my dogter nie, maar ook as my beste vriendin. Vir Kersfees het sy vir my 'n handgeverfde kaartjie gemaak met 'n boodskap wat ek vir altyd sal koester. Ons deel 'n liefde vir so baie dinge- ons kan saam dans en lag, geniet dieselfde boeke, TV-reekse en films en sal selfs onbewustelik dieselfde kos en wyn bestel in 'n restaurant. Ons geniet dit ook om saam in die kombuis te eksperimenteer. Sy is die beste dogter waarvoor ek ooit sou kon vra!

Antwoord 2: 'n Wonderlike tyd wat ons onlangs gedeel het, was die pad wat ons saam geloop het vandat sy verloof geraak het. Haar verloofde was baie oulik en het my ook betrek by die verlowing wat hy beplan het - op die verhoog van die teatro by Montecasino. Hy het die hele teater uitgeboek vir die aand! Dit was 'n absolute vreugde om hom te help met die roosblare en liggies en om haar reaksie te beleef - die verhoog is beslis een van haar gunstelingplekke. Sy het besluit om my alleen saam met haar te neem om trourokke te gaan aanpas omdat sy gevoel het ek ken haar die beste - dit was so 'n geweldige besonderse voorreg! Ons het sommer vinnig albei dieselfde gevoel oor die regte rok en die geleentheid gevier met sushi en sjampanje. Ek kon nie vir 'n groter eer gevra het as om haar spesiale vertroueling te wees met haar troureëlings nie. Haar kombuistee was nog 'n baie groot hoogtepunt - alhoewel ek dit saam met haar pragtige bruidmeiseies gereël het en nie saam met haar nie - was dit vir haar en dit was baie lekker om presies te kon weet waarvan sy alles sou hou. 'n Maand gelede het ek deur 'n baie moeilike tyd gegaan met 'n geliefde wat baie kritiek in die hospitaal was en al my kinders en skoonkinders het ingetree en my ongelooflik ondersteun op alle vlakke. My dogter woon in Pretoria en het sonder on te skroom ingetree, haar huis aangebied en my al die fisiese en emosionele ondersteuning gebied wat nodig was en my letterlik deur hierdie tyd gedra. Ek is oortuig daarvan dat ons in die mooiste en moeilikste omstandighede die beste in mekaar raaksien, die beste in mekaar uitbring en altyd die "go-to" mense sal wees vir mekaar.

Antwoord 3: Vertrou mekaar, wees onvoorwaardelik lief vir mekaar, respekteer verskille, komplimenteer mekaar bewonder die mooi eienskappe in mekaar. Laat die Here die kompas wees vir julle verhouding.