
Dorp: Ermelo
Antwoord 1: Die verhouding tussen 'n ma en haar dogter is een van die kosbaarste geskenke. Dit is 'n band wat nie net deur bloed gevorm word nie, maar 'n verhouding wat deur geloof, liefde, respek en begrip gevorm word - daarvan kan ek en my Ma, Francisca, getuig! My ma is verseker my grootste rolmodel, deur haar voorbeeld te volg het ek geleer wat dit beteken om die lewe aan te pak met 'n selfversekerde sagtheid. Ek kan onthou dat sy vir my al van klein dogtertjie af 'n toevlug en bron van sekuriteit was. Sy het my groot gemaak het met 'n vaste geloofsgrondslag en my gehelp om my indentiteit in Christus te vind. Vandag, met groot dankbaarheid, is beide van ons Godvresende vrouens - vrouens wat die Here in alles wil verheerlik. Ons deel nie net liefde, omgee en herrinneringe nie maar ook die vreugde van saam groei in ons geloof. Wanneer ek na my ma kyk, sien ek toewyding en liefde, en sy sien in my die vrug van haar gebede en haar vertroue in God. Die band tussen ons is 'n lewende getuienis van God se genade. Dit wys hoe ’n eenvoudige daad van geloof, om ’n kind aan die Here op te dra, 'n lewenslange invloed kan hê. Dit maak ons verhouding uniek, sterk en onbreekbaar.
Antwoord 2: Toe Carla drie jaar ná matriek besluit het om te gaan studeer aan ’n landboukollege in die Oos-Kaap, het ons nie besef hoe groot die aanpassing sou wees nie. Sy was ouer as die meeste eerstejaars en een van slegs ’n handjievol meisies tussen ’n groot groep seuns. Omdat sy nie drink nie en ’n meer volwasse lewensbenadering gehad het, was dit vir haar moeilik om werklik aanklank te vind. Die meisies was onvolwasse, die seuns onvanpas, en sosiale situasies het haar ongemaklik gelaat. Sy dikwels eensaam en geïsoleer gevoel. Verblyf het ook vroeg uitdagend geraak. Ons het ’n huis gekoop waarin sy saam met vier ander studente ingetrek het. Die verskil in volwassenheid, dissipline en leefstyl het spanning gebring — konflik tussen huismaats, misverstande en die voortdurende gevoel dat sy nie inpas nie. Dit het haar emosioneel uitgeput en sy het dikwels begin twyfel of sy daar hoort. In daardie moeilike tyd het ons verhouding op unieke maniere begin groei. Sy het oor gekook van emosies, en dikwels het ons twee tot drie keer per dag met mekaar gepraat. Party dae het ek net geluister; ander dae het ek probeer troos of raad gee. Baie keer kon sy net huil — en ek moes probeer sterk bly vir haar al het my hart saam met haar gebreek. Maar te midde van hierdie uitdagings het ons saam na die Here gedraai. Ons het vasgeklou aan sy belofte in Deuteronomium 28:13: “Die Here sal jou die kop maak en nie die stert nie.” Hierdie vers het vir ons ’n anker geword. Elke dag het ons dit bid-bid herhaal, nie as ’n desperate wens nie, maar as ’n geloofsverklaring dat God groter is as enige ongemak, eensaamheid of stryd. Dinge het begin verander — eers stadig, amper onsigbaar, en toe met ’n duidelike deurbraak. Sy is gekies om op die studenteraad te dien. Sy het bevriend geword met studente wat haar waardes gedeel het. Die spanning in die huis het minder geword, sy het haar plek begin vind, en haar selfvertroue het teruggekeer. Haar dae was nie meer gevul met trane nie, maar met groei, rustigheid en nuwe vreugde. Uiteindelik het haar laaste jaar een van die beste tye van haar jong lewe geword. Sy het akademies uitgeblink. Sy is aangewys as die Dux-student, en het n ongelooflike 25 van die 29 pryse gewen. Haar storie het letterlik die vervulling geword van die vers waarvoor ons gebid het: sy het as die stert begin, maar as die kop geëindig. Wanneer ek vandag terugkyk, besef ek hoe daardie moeilike tyd ons verhouding versterk het. Sy het op my te gesteun, maar ook op haar eie voete begin staan. Ek het geleer hoe om haar te ondersteun. Ons het albei gegroei — in geloof, in liefde en in respek vir mekaar. Dit was nie net haar oorwinning nie. Dit was óns oorwinning, van trane tot triomf. Bowenal was dit God se getrouheid in aksie.
Antwoord 3: God is liefde, en die twee grootste gebooie in die Bybel herinner ons daaraan: liefde vir God, en liefde vir mekaar. Wanneer ’n ma en dogter hulle verhouding op God se liefde bou, word daar ’n ruimte geskep waar, vergifnis makliker vloei, gesprekke veilig voel, en groei gebeur. Liefde beteken nie altyd dat ons saamstem nie — dit beteken dat ons mekaar kies, selfs wanneer dit moeilik is. Dit beteken om te luister met ’n sagte hart, om te praat met respek, en om mekaar se uniekheid te eer. ’n Ma se liefde leer ’n dogter wie sy is. ’n Dogter se liefde herinner ’n ma wat sy vir haar beteken. Wanneer liefde die fondasie is, word die band tussen ma en dogter iets heiligs — iets wat God self versterk en Hom eer.