
Dorp: Stellenbosch
Antwoord 1: Ons deel ‘n sterk emosionele band omdat ons beide baie empaties, sensitief en intelligent ingesteld is. Ons verstaan gevoelens van mekaar wat nie aan ander beskryf kan word nie. (Dis waarom jy nooit teen ons 30 Seconds moet speel nie!) Al deel ons ‘n uitspattige sin vir humor, verkies ons emosioneel intellektuele gesprekke bo oppervlakkige geselsies. Ons verstaan mekaar, en ander, se harte. Al studeer ek nou by Stellenbosch Universiteit, is daar nie ‘n dag wat verbygaan sonder’n “video call” nie. Daar is ook nie ‘n naweek/vakansie wat ek huis toe gaan sonder blomme langs en ‘n sjokolade op my bed nie. Dis my ma se spesialiteit - die klein dingetjiez. ‘n Nag-sê boodskappie of ‘n spontane herinnering van haar liefde. Dis is ’n stille verstaan, ’n veilige hawe, ’n plek waar ek altyd net kan “wees” sonder om eers te verduidelik hoekom my hart moeg is. Van al die verhoudings in my lewe is hierdie een die mees vormende en eerlike een wat my leer hoe liefde lyk wanneer dit nie voorwaardes het nie. Die definisie van iemand wat waarlik OPREG luister: my Mamma. Sy hoor wat ek nie sê nie. Sy wys my dat liefde nie altyd groot gebare nodig het nie – soms is dit net daar wees, oor en oor. Ek sien haar nie net as my ma nie, maar as ’n een van die sterkste vrouens wat ek ken. Haar grootwordjare was die teenoorgestelde van myne & my hart breek om na haar te kyk en te weet dat ek hare nooit so vollop kan maak soos wat sy myne het nie. My ma leer my elke dag hoe om sag te wees in ’n harde wêreld. Om om te gee vir die padda’tjie in die tuin of die muis wat oor die pad hardloop.
Antwoord 2: Ek kan eerlikwaar sê dat ek nie sonder my ma vandag nog so asemhaal nie. Ek het ‘n ongelooflike moeilike hoërskoolloopbaan gehad (depressie, eutversteurings, koshuisaanpassings ens.) waar meeste ouers net vir die kind sou sê om “oor dit te kom” - nie mý Mamma nie. Sy het daagliks van die plaas waar ons bly 45min in die oggend & aand skoolkar gery sodat ek nie in die koshuis hoef te bly nie. Sy het dae in en uit onder bome gesit en wag sodat ek alle buitemuurs wat bestaan ook kan doen, soms tot 9uur in die aand. Later het ek uitgevind dat sy self ook met depressie sukkel & ENIGIETS sal doen om die las, wat sy self goed ken, vir my ligter te kan maak. In haar kwesbaarheid het sy my geleer dat mens nie perfek hoef te wees om sterk te wees nie. Sy het my sagte, sensitiewe hartjie beskerm toe ek uit ‘n beskermde plaasomgewing na hoërskool moes skuif; was dit ‘n bomskok. Meisies is wrede kreature en onvolwassenheid & gebrek aan emosionele intelligensie nóg meer! Sonder my Mamma se luister, troos, vashou & verstaan sou ek nie nou hierdie inskrywing ter ere van haar kom doen nie! Ons band is gesmee in plekke waar woorde soms te swaar was, en waar stilte meer gesê het as enige sin. “Mental health” was nooit regtig ’n onderwerp in ons verhouding nie; dit was ’n reis wat ons saam moes stap, hand aan hand, sonder ’n padkaart. Sy het my nooit probeer “regmaak” wanneer my gedagtes te hard geraas het nie. As ek te sag was vir jaloerse meisies of katterige ouers het sy my herrinner dat hoërskool, en hierdie bitter klein plaasdorpie, net ‘ “bubble” is waarin hulle leef en nooit gaan uitkom nie. Daar is nog ‘n groot lewe daar buite! Sy het my geleer dat krag soms beteken om te huil, om hulp te vra, om asem te skep.
Antwoord 3: Die eerste en dalk belangrikste raad: moenie probeer om mekaar reg te maak nie. ’n Goeie ma-en-dogter-verhouding gaan nie daaroor om die ander een te vorm volgens jou idees van hoe sy “behoort” te wees nie. Dit gaan daaroor om langs haar te staan terwyl sy self uitvind wie sy is. Soms beteken dit net om te luister. Soms beteken dit om stil te bly. En soms beteken dit om te sê: “Ek weet nie wat om te sê nie, maar ek is hier.” Ek herinner myself dat dit beide van ons se eerste keer op hierdie aarde is; haar eerste keer as ma en my eerste keer as dogter. Beide rolle kom nie met ‘n handleiding aangepas spesiaal vir twee individue se persoonlikhede nie. Ons maak foute en gaan nog baie maak - “that’s life!” Julle gaan mekaar soms misverstaan. Julle gaan seermaak sonder bedoeling (en ongelukkig soms met bedoeling). Dis normaal. ’n Goeie verhouding is nie een sonder konflik nie, maar een waar julle terugkom na mekaar toe. Sê jammer - OPREG. Vergewe. Probeer weer. Dogters sê nie altyd wanneer hulle seer is nie, en ma’s dra dikwels meer as wat hulle wys. ’n Oop oor en ’n oop hart doen meer as honderd oplossings. Sy het my hand vasgehou wanneer die wêreld te groot gevoel het, maar ook losgelaat wanneer ek sterk genoeg moes word om self te stap. Dis daardie balans – tussen beskerming en vertroue – wat ons verhouding so besonders maak. Wees eerlik. Wanneer ’n dogter sien haar ma is ook mens, en wanneer ’n ma erken haar dogter hoef nie altyd sterk te wees nie, gebeur daar iets besonders: julle word spanmaats, nie net rolle nie.