
Dorp: Potchefstroom
Antwoord 1: Nadat mens deur ‘n ektopiese swangerskap gaan en hoor dat jy nooit weer kinders sal kan kry nie , breek elke mamma se hart . Ek en my man het dus besluit op IVF en so was ons geseën met ‘n tweeling , twee pragtige dogtertjies . My eersgeborene was maar nog altyd die besige een , die een wat eerste mylpale bereik het en my tweede enetjie was maar altyd laaste . Sy was onderontwikkel , baie kleiner as haar sussie , langer gevat om goedjies te verstaan maar so het sy ook mylpale bereik. Ek verwys dus na hulle as my wonderwerkies want ongeag van dokters wat gesê het dat ek nooit weer kinders sal kry nie , was ek geseën met my tweeling . Wat ons verhouding spesiaal maak is die feit dat ons die drie dames van die huis is . Ons stamp vinnig kop met mekaar maar ten selfde tyd probeer ons om mekaar se standpunte in te sien . Wanneer trane vlak lê of die las op skouers te veel raak , probeer ons ons bes om daar te wees vir mekaar selfs al is dit deur net ‘n drukkie te gee . Al drie van ons is so verskillend maar tog is ons so dieselfde . Ons elkeen het ‘n baie dominante persoonlikheid , ons glo in wat ons glo en ons weet wat ons in die lewe wil hê .
Antwoord 2: Elke tiener gaan maar deur ‘n rebelse fase . Dit is nie altyd lekker vir ‘n ouer om dit te sien nie maar ten selfde tyd moet mens as ouer terug staan en hulle kind/kinders die geleentheid gee om te groei en self so te leer deur hul foute . Beide my dogters was in verhoudings waar hulle emosioneel gemanipuleer was . Laat aande sal hulle met trane kom sit en vertel hoe seer hulle gemaak word en as ouer probeer mens positief wees en dus sê mens goed wat nie so positief vir hulle is as wat mens gedink het nie . Op die einde van die dag het dit regtig baie konflik veroorsaak en dit het begin voel soos verwerping van beide kante . Mens is te versigtig om iets te sê en ten selfde tyd voel hulle dat hul kêrels se kante gekies word . Met dit het ek geleer om stil te bly en te luister , as daar raad gevra word gee ek dit , maar andersins luister ek maar net want partykeer is dit al wat hulle nodig gehad het . Ek het dus baie geleer asook my dogters . Ek het geleer dat hulle soms net iemand nodig het om te luister en leiding vir hulle te gee , en so het hulle geleer dat ek maar net probeer het om konflik te vermy . Ons verhouding het in so manier gegroei dat ons elkeen maklik agter kan kom waar ons met mekaar staan , dadelik te weet wanneer om raad te gee of raad te vra en ook dadelik te weet wanneer om net te luister en daar te wees vir mekaar .
Antwoord 3: Daar is ‘n rede hoekom mens net een mond en twee ore het . Elke mamma moet partykeer terugstaan en besef dat jou kinders groot word en hul eie besluite moet neem maar ten selfde tyd moet hulle ook weet dat jy steeds daar is vir hulle . As mammas moet ons partykeer terugstaan en hulle die vryheid gee om hul eie keuses te maak en so te leer . Dit is nie altyd maklik nie want wanneer mens te lank in hul oë kyk , sien mens weer die klein dogtertjies wat boudjiesalf oor mekaar gesmeer het , die dogtertjies wat in jou kas geklim het en jou skoene aangetrek het en gedink het hulle is jy . Die klein lyfies wat jy in bokse agter jou gesleep het met die giggeltjies wat jou in die aand laat wakker lê het en in daai oomblik weereens laat besef het hoe geseënd jy werklik is . Op die einde van die dag wil mens werklik net die beste hê vir mens se kind maar dis hulle besluite en hulle keuses . As mammas is ons daar om keuses by te staan en hul hand vas te hou wanneer die twyfel hulle begin toe vou en dan te sê “Alles gaan okay wees” . Ons is nie daar om hul lewens vir hulle voor te skryf nie maar om daar te wees ongeag die goed en ongeag die sleg . Dus moet ons as mammas ons dogters koester en luister na hul harte en hul drome en hul drome saam hulle droom , en praat wanneer raad gevra word .