Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Nikita Grobler

Nikita Grobler

Dorp: Pretoria

Antwoord 1: Daar is twee woorde wat ons spesiale verhouding opsom: WEDERSYDSE RESPEK. Linette Grobler (57) en Nikita Grobler (23) het die voorreg om ‘n baie hegte ma-dogter band te hê. Ons verhouding is eerstens geanker in God wat deur die Heilige Gees vir ons albei insig, leiding en baie genade openbaar deur ons spesiale band. Ons aanvaar mekaar met al ons goeie en swak eienskappe, maar kan terselfdertyd mekaar raad gee deur altyd eerlik en opreg te wees. Ondersteuning is ‘n geweldge groot steunpilaar van hierdie verhouding – al is ons meeste van die tyd, huidiglik, ver van mekaar (Stellenbosch en Pretoria), sal ons in een gesprek op die foon mekaar kan opbeur en weer instem tot ‘n positiewe ingesteldheid. Ons deel ook albei ‘n groot voorliefde vir kook en bak. Dit sluit in enige gereg van gewone lasagne tot enige nuwe gereg wat nuwe vaardighede vereis. Ons het selfs een keer ‘n “Chopped” kompetisie gehou (in ons eie kombuis) wat groot pret was en baie lag ingesluit het. Alhoewel ons op hoogte bly van mekaar se doen en late asook al die goeie en slegte gebeurlikhede, handhaaf ons gesonde grense. Ons probeer ten alle tye vir mekaar ruimte skep in die verhouding om sodoende te verseker dat daar geen onredelike eise is nie – dit gee ons albei die nodige vryheid en terselfdertyd ‘n gevoel van veiligheid en wedersydse vertroue. Goeie kommunikasie is die kersie op die koek. Ons kan ons harte uitpraat teenoor mekaar, hetsy dit handel oor werk, studies, vriende, familie, lewenslesse, krisisse, uitdagings en vooruitsigte. Nikita is tans ‘n meesterstudent en Linette is die eienaar van ‘n bakkery, maar alhoewel ons wêrelde baie verskillend uitspeel, is daar ‘n diepte in ons verhouding wat baie spesiaal is en wat met die genade van ons Hemelse Vader sal floreer in die jare wat kom.

Antwoord 2: Nikita het in 2020 gematrikuleer en die toekoms het voor haar gelê. Sy was so bevoorreg om gekeur te word om Bedryfsingenieurswese te gaan studeer by Stellenbosch Universiteit. Sy was in ekstase om bowenal ook toelating te kry tot die koshuis. Januarie 2021 het aangebreek en ons (Nikita, Linette en Nico (die Pappa)) het vertrek na Stellenbosch… met ‘n reuse GROOT trek. Nikita het met groot opgewondenheid haarself in haar koshuiskamer tuis gemaak en voorberei vir die eerstejaarsprogram. Natuurlik was pa en ma saam om haar te ondersteun, maar, skielik het die tyd aangebreek om te groet en terug te keer na Pretoria. Dit was werklik ‘n hartseer groet, maar in ons harte het ons geweet dit is absoluut die Here se wil en dat Hy alles in plek sal laat val vir hierdie belangrike jaar. Alhoewel die verlange soms baie erg was en die trane dikwels gevloei het, het ons verhouding gegroei en het ons nader aan mekaar gekom, al was ons kilometers vêr van mekaar. In hierdie tyd, met menige uitdagings en beproewings, was ons daar vir mekaar en het ons mekaar deurentyd ondersteun. Omdat ons mekaar se harte en manier van dink geken het, kon ons steeds baie goed kommunikeer en mekaar raad gegee sonder om te veroordeel of voor te skryf. Nikita se kursus was nie maklik nie, maar sy was gedrewe om ‘n sukses daarvan te maak. Kuiers en vakansies was hoogtepunte en ons het opnuut besef watter voorreg dit is om mekaar te sien. Ons het geleer om die meeste te maak van ons tyd saam, wat groot waardering vir mekaar tot gevolg gehad het. Dit het ons as indiwidue ook laat groei en ons verhouding het ‘n dieper vlak bereik.

Antwoord 3: ‘n Verhouding tussen ma en dogter word van kleintyd af gebou, maar dit is nooit te laat om enige verhouding te herstel en daaraan te werk nie. Kwaliteit tyd vir mekaar is die belangrikse menslike faktor. Deur te wys dat Linette altyd tyd het vir Nikita, hetsy dit ‘n baie klein onbenullige vraag of ‘n uiters ernstige, lewensbelangrike besluit is, het ek aan haar getoon dat sy belangrik is en dat sy baie saak maak vir my. Dit is ‘n wedersydse ingesteldheid wat ons albei volhou na die beste van ons vermoë. Daar word altyd gereeld tyd gemaak vir ‘n koffie, ‘n “girl chat” op ‘n bed of ‘n moed inpraat op die foon. ‘n Verhouding geanker in God se liefde is die belangrikste geestelike faktor. Ons dra ons verhouding op aan die Here op ‘n daaglikse basis en Hy seën ons in daardie opsig en beskerm ons verhouding. Ons bid saam en dra mekaar se kwellinge en vreugdes ook in gebed aan die Here op. Kommunikasie is ‘n ander belangrike aspek. Daardeur kan ma’s en dogters mekaar se harte leer ken. Dit het tot gevolg dat ons mekaar is ag neem, onselfsugtig optree en nie altyd ons eie belange najaag nie. As gevolg van verskillende generasies, uitkyke op die lewe en menings, verskil alle ma’s en dogters se behoeftes. Ons raad is om dit in ag te neem en jouself in die ander een se skoene te plaas. ‘n Oop deur-verhouding sonder veroordeling (met ander woorde… geen “ I told you so”) het tot gevolg dat ‘n dogter haar ma 100% sal vertrou en haar sal ken in belangrike besluite in haar lewe. Wanneer die dogter ouer en volwasse word, sal sy haar moeder op dieselfde manier hanteer. Dit verg baie om ‘n kosbare verhouding te laat groei, maar die beloning is voorwaar groot. Ma’s en dogters het die keuse om positief te belê in mekaar se lewens en daardeur skep hul ‘n ondersteuningsnetwerk wat sal funksioneer solank as wat hul lewe. Die verhouding sal groei en alhoewel daar opofferings sal wees, is die beloning van ‘n goeie ma-dogter-verhouding alles die moeite werd.