Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Marlouise Mengel

Marlouise Mengel

Dorp: Nelspruit

Antwoord 1: Van so lank ek kan onthou, was dit nog altyd net ek, my ma en my boetie. My ouers is vroeg in ons lewens geskei, en van kleins af het ek, soos hulle sê, met arm om die been aan my ma geklou. Sy was my veilige plek in ’n wêreld wat soms te groot en te onseker gevoel het. Mense het my hele lewe lank gesê: “Jy lyk so baie soos jou ma,” of dit nou familie of vreemdelinge is. Vandag besef ek dit gaan oor soveel meer as net uiterlike ooreenkomste — ek is my ma se weerspieëling. My ma is my beste vriendin. Dit klink dalk cliché, maar dit is die eerlike waarheid. Sy is die een persoon wat nog altyd daar was, sonder voorwaardes en sonder huiwering. Sy het haar eie drome, tyd en soms selfs haar geluk opsy gesit om seker te maak dat ek en my boetie nooit sonder liefde, ondersteuning of hoop is nie. Haar opofferings is nie altyd groot of dramaties nie; soms is dit die stil dinge — laat nagte, moeg oë, en ’n glimlag wat sy dra selfs wanneer sy self swaar kry. Sy is die eerste persoon wat ek bel, of dit nou goeie nuus of slegte nuus is. As iets my laat lag, wil ek dit met haar deel. As iets my breek, is sy die een wat my trane afvee en my weer heel maak. Sy ken my hart beter as enigiemand anders en sien dikwels dinge raak wat ek self nie eers verstaan nie. Die mooiste deel van ons verhouding is dat sy opreg in my lewe belangstel — nie net in wat ek doen nie, maar in wie ek is. My ma is my steunpilaar. Sy het my geleer om sterk te wees sonder om hard te word, en sag sonder om swak te wees. Soos ek ouer word, besef ek hoe ongelooflik baie ek van haar erf — haar waardes, haar deursettingsvermoë, haar empatie en haar sin vir humor. Ek hoor haar stem in my kop wanneer ek twyfel, en ek dra haar wysheid saam my in elke besluit wat ek neem. Wat ons verhouding besonders maak, is nie net die feit dat ons alles saam oorleef het nie, maar dat ons steeds saam groei. Ons lag saam, huil saam, leer saam en ondersteun mekaar op ’n manier wat woorde soms nie kan beskryf nie. Sy is nie net my ma nie; sy is my rolmodel, my veilige hawe en my grootste seën. As ek eendag net ’n fraksie van die mens kan wees wat sy is, sal ek weet ek het iets reg gedoen.

Antwoord 2: Een van my gunsteling herinneringe saam met my ma is hoe maklik ons saam kan lag. Nie net ’n sagte giggel nie, maar daardie diep, onbeheerbare lag waar die trane loop en jou maag seer word. Van Innibos se “rides” wat altyd minder glansryk eindig as wat ons verwag het, tot een van ons wat per ongeluk neerploeter — ons weet hoe om die humor in enige oomblik raak te sien. Soms is dit net ’n maagkielie op die verkeerde tyd, of my boetie wat iets so simpel sê dat ons almal dubbel vou van die lag. Dis in daardie oomblikke wat ek besef: lag is ons taal. Maar ons herinneringe saam is nie net hardop lag nie; dit is ook die sagte, rustige oomblikke waar ons hande besig is en ons harte vol. Ek dink terug aan al die tye wat ons saam gebak en gebrou het, of kreatief geraak het met arts and crafts. Van Moses-prentjieboeke maak met gekleurde papier en gom, tot klapperys roer op warm dae of koekies bak wat soms meer skeef as perfek was. Dit het nooit gegaan oor hoe mooi of netjies dit was nie — dit het gegaan oor saam wees. My ma het hierdie liefde vir skep, bak en maak by haar ouma geleer, en sonder dat ek dit besef het, het sy dit weer aan my oorgedra. Dis ’n erfenis wat nie in geld gemeet kan word nie, maar in herinneringe, vaardighede en liefde. Elke resep, elke verfkwas en elke stukkie karton dra ’n storie saam — een van geduld, kreatiwiteit en verbondenheid. Wat hierdie herinneringe so besonders maak, is dat dit nie groot of luuks was nie. Dit was eenvoudige oomblikke wat spesiaal geword het omdat ons dit saam beleef het. Dis die soort herinneringe wat jou laat glimlag sonder om te probeer, en jou hart warm maak selfs jare later. As ek vandag terugdink aan my kinderdae, is dit nie net die plekke of dinge wat ek onthou nie, maar die gevoel — die gevoel van lag, liefde en ’n ma wat altyd bereid was om saam met my te speel, te skep en net te wees. En dit is ’n herinnering wat ek vir altyd saam my sal dra.

Antwoord 3: Praat baie met mekaar! Oor enige iets en alles wat in julle lewens gebeur. Sluit mekaar in julle lewens in, want voor jy jou oë uit vee is dit asof jy nie genoeg tyd saam met hulle spandeer het toe jy kon nie. Wees geduldig met mekaar, selfs al sit julle vas, dit waai elke keer oor. Lag saam, eet saam, shop saam. Wees net saam.