
Dorp: Brandfort
Antwoord 1: ’n Ma en dogter het ’n verhouding wat min ander mense ooit regtig kan verstaan. Dis ’n liefde wat soms soos oorlog voel, en ’n oorlog wat altyd deur liefde gewen word. Ons is so eenders in persoonlikheid, so sterk, so hardkoppig, dat ons soms teen mekaar bots. Woorde word skerp, emosies loop hoog, en ons baklei omdat ons te veel omgee, nie omdat ons te min liefhet nie. Maar die waarheid is: ons kan nie mét mekaar nie, en ons kan beslis nie sonder mekaar nie. Want die band tussen ’n ma en haar dogter verdwyn nooit. Dit lê dieper as trots, dieper as woede, dieper as seer. Die lewe het haar pappa van haar weggevat toe sy net drie jaar oud was. Van daardie oomblik af moes ek haar grootmaak met ’n seer moederhart een wat self gebreek was, maar steeds sterk genoeg moes wees vir haar. Ek moes terselfdertyd rou, lei, beskerm en liefhê. Ek het soms foute gemaak, soms te styf vasgehou, soms te hard gepraat… maar altyd uit liefde. Sy dra my in haar — my krag, my vuur, my wonde. En ek sien haar in my, my hoop, my vrees, my hart wat buite my liggaam loop. Dis hoekom dit soms seermaak. Dis hoekom ons bots. Maar dis ook hoekom ons mekaar altyd weer vind. Want ’n ma en dogter se liefde is nie perfek nie dis eg. En egte liefde bly, selfs wanneer dit moeilik is.
Antwoord 2: Ek en my ma was soos petrol op vuur. Ons verhouding was nog nooit soos stille waters nie, meer soos branders wat bots teen die rotse. Ons sal lank mekaar vermy. Maar met die koms van my eie kinders het ek die liefde van 'n mamma begin besef. Ons kry nie resepteboek hoe om kinders groot te maak nie, maar mens se beste is genoeg. Deur bloed, sweet en trane kons ons uiteindelik mekaar verstaan en besef 'I am becoming my mother". Dit ruk mens terug na realiteit. Ons mammas bly ons mammas, die naelstring is dalk geknip en ons verlaat die nessie een vir een. Maar die reuk en die liefde van 'n mamma sal altyd gekoester word.
Antwoord 3: My raad is liefde sonder voorwaardes. Respek vanaf en na beide kante toe. Aanvaarding. Meer liefde en minder oordeel. Meer geduld en minder harde woorde. Meer simpatie en minder "ek het mos gesê". Wees net lief vir mekaar en praat oor 'n koppie tee. Doen lekker dinge saam en bou fondasie deur mooi herinneringe.