
Dorp: Plaas - naaste dorp Hopetown, Noord-Kaap
Antwoord 1: Ek is bevoorreg om op ‘n plaas groot te word en my ma ons - soos sy sal sê “op die heup” groot gemaak het. Dit was die lekkerste, beste tye tot ons in graad 1 koshuis toe moes gaan - want alles is net te vêr as mens in die Noord-Kaap bly. Ek sê nie genoeg dankie dat my ma vir my in my hand kaarte uitgedeel is nie. My ma het my baie dinge geleer, van vleiswerk, konfyt kook, meters se wors stop, om ‘n knoop vas te werk, ‘n boud gaar te maak, hoe om te bid, tuinwerk en watse plante gehard genoeg is om dit in die Karoo te maak. Maar die belangrikste ding wat sy nog ooit vir my geleer het was dat maak nie saak wat mens doen of aanpak nie “jy maak dit lekker”. Ek het nog nie gesien dat sy iets aanpak en dit nie regkry nie. Ek dink dis hoekom sy nog altyd so suksesvol was met alles in die lewe, want sy kla nooit. Sy glimlag en sy “maak dit lekker”. Dis hoekom ons verhouding so spesiaal is, want van kleintyd af het ek soveel lesse en dinge by my ma geleer wat nou so van toepassing is op die lewe en wat ek elke liewe dag gebruik. Omdat ek net boeties het, was my ma nog altyd my beste vriendin, kamerraad en my hartsmens. Nou soveel te meer dat ek ook getroud is en met soveel goed uiteindelik kan “relate” en ek weet sy verstaan en oordeel nie. Wat dit nog meer spesiaal maak, is dat ons klere en skoenr kan uitruil, saam kan draf en oefen, tuinmaak, kook en net kan wees - sonder voorgee of oordeel.
Antwoord 2: Ek dink die moeilikste tyd was toe my ma, haar ma verloor het in 2016. Dit was ‘n donker tyd vir ons, omdat ons albei ‘n baie na aan en lief was vir my ouma. Ek was altyd bekommerd oor hoe ek dit gaan maak as my ouma iets moet oorkom, maar ek dink as mens nog jonk is verwerk mens die dood baie beter as wat mens ouer is. My ma het dit nooit gewys nie, sy was altyd steeds positief en opgehewe, maar sy het baie swaar gekry na my ouma dood. Op daardie stadium was ek in my eerste jaar en dalk nog bietjie emosioneel onvolwasse om dit te besef, maar nou as ek ouer is, besef ek hoe sterk my ma was vir ons. Steeds haar onbaatsugtige self en anker vir haar gesin wat ons almal elke dag regop hou.
Antwoord 3: Luister om te verstaan, nie altyd om raad te gee nie. Mens soek soms net ‘n oor. Respekteer mekaar se fases, mens is selde op dieselfde plek in die lewe, maar hoe ouer ek as dogter word hoe nader word mens aan mekaar omdat ek met haar kan relate. Hê altyd oop en eerlike kommunikasie, al is dit soms moeilik. Bou tradisies saam - half maraton wedlope, trippies stad/ dorp toe, koffie dates. Vier elke klein dingetjie, die lewe is bitter kort. Lag - dis altyd die lekkerste, beste medisyne.