Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Almeri Scott

Almeri Scott

Dorp: Fairland

Antwoord 1: Almeri sê: Ons kan oor alles gesels en alles met mekaar deel, selfs wanneer ons perspektiewe en opinies verskil. Ons is beslis nie perfek nie—ons raak geïrriteerd, ongeduldig en gefrustreerd—maar uiteindelik probeer ons luister na mekaar, mekaar respekteer en is bereid om kompromieë te tref. Ons neem mekaar se standpunte, vrese en voorkeure in ag, want bowenal, het ons mekaar lief en gun ons mekaar net die beste. Ons is vriendinne wat saam lag, saam huil, saam inkopies doen, saam oefening doen en mekaar ondersteun deur dik en dun. Anaïs sê: Ons verhouding is spesiaal omdat dit gebou is op liefde en vertroue. Ons lag saam oor klein dinge, deel ons drome en ondersteun mekaar deur uitdagende tye. Ons deel nie net vreugdes nie, maar help mekaar ook deur moeilike tye en daardie ondersteuning maak ons band sterker. My ma is nie net ’n ouer vir my nie, maar ook ’n vriendin, ’n raadgewer en iemand wat my inspireer om die beste weergawe van myself te wees. Ek kan altyd net myself wees rondom haar want ek weet ek kan my ware self wees sonder vrees vir oordeel. Ons verhouding beteken dat ons altyd daar is vir mekaar ongeag wat gebeur. Ons weet dat ons altyd op mekaar kan staatmaak. Dit is ’n verhouding vol liefde en warmte. Die manier waarop ons mekaar ken, aanvaar en ondersteun, selfs in moeilike tye, maak dit nie net ’n ma–dogter-band nie, maar ’n besondere vriendskap. Ons deel herinneringe, lag en liefde wat ons verhouding uniek en kosbaar maak.

Antwoord 2: Almeri sê: Uit dankbaarheid kan ek nie regtig aan ’n baie moeilike tyd dink nie—eerder aan uitdagende oomblikke wat ons gevorm het. Goeie tye was daar soveel: danstoer na Amerika, matriekafskeid, matriekuitslae, gradeplegtighede, die verlowing en die opgewonde begin van troubeplanning. Juis laasgenoemde ervaar ek as 'n baie opwindende en spesiale tyd, maar terselfdertyd ook as een van die oomblikke wat tans uitdagings bring, omdat “prentjies” en verwagtinge verskil. Ten spyte daarvan deel ons steeds ons idees, vrese en opinies en droom ons saam aan ‘n onvergeetlike dag! Hierdie uitdagende oomblik leer my tans om te luister sonder om dadelik raad te gee, om wedersydse aanpassings te maak sodat ons nader aan mekaar se prentjies kan beweeg, en om te kan verskil sonder om kwaad te raak of mekaar af te kraak of drome af te breek. Ek leer om onselfsugtig te kan opofferinge maak , ter wille van my dogter se drome—want ek onthou wat Korintiers sê – en die grootste hiervan is die liefde! Anaïs sê: ’n Goeie tyd wat ons saam beleef, is om my troue saam te beplan. Dit is ’n baie gelukkige en spesiale fase vir ons, en dit bring ons nader aan mekaar omdat ons soveel oomblikke, idees en opgewondenheid deel.

Antwoord 3: Almeri sê: Aanvaar jou dogter onvoorwaardelik en ondersteun haar —maak nie saak wat nie. As ma was dit belangrik om van die begin af ’n veilige ruimte te skep waar my dogter weet sy kan oor enigiets met my praat. Selfs al stem ek nie altyd saam nie, was sy verseker dat my ondersteuning nooit wegval nie. Lag saam, huil saam, praat eerlik met mekaar en doen dinge saam: dans, draf, stap, inkopies. Deel geloof, ervarings en tyd—gaan saam kerk toe, wees teenwoordig in mekaar se lewens. Respekteer mekaar se opinies, omarm verskille en leer van mekaar. Maar bo alles: wees net lief vir mekaar en bly goedhartig teenoor mekaar. Anaïs sê: My raad aan ander ma’s en dogters is om altyd oop en eerlik met mekaar te kommunikeer en tyd saam te spandeer, selfs al is dit net vir klein dinge. Luister na mekaar sonder om te oordeel en wees geduldig met mekaar se foute en tekortkominge. Deel nie net vreugdes nie, maar wees ook daar in moeilike tye, want dit bou ’n sterk en betroubare band. Wees geduldig en moedig mekaar aan. Vier saam die goeie oomblikke en waardeer selfs die klein dinge wat julle saam geniet. ’n Goeie verhouding groei deur onvoorwaardelike liefde en so kan ’n ma en dogter ’n verhouding bou wat vol vertroue, warmte en geluk is. So bou mens ‘n verhouding wat nie net sterk is nie, maar ook kosbaar en vol liefde is.