
Dorp: Somerset West
Antwoord 1: ’n Groot deel van my lewe is ’n wonderwerk. My ma het baie gesukkel om swanger te raak en moes hormoonterapie gebruik om haar te help. Terselfdertyd was haar eie ma, my ouma, ernstig siek en gereeld in die hospitaal weens hartprobleme. In Julie 2002 het my ouma ’n hartaanval gehad en is sy in die hospitaal opgeneem. In daardie tyd het my ma vermoed dat sy moontlik swanger kon wees en het sy bloedtoetse laat doen. Op 8 Julie het my ma my ouma in die hospitaal besoek, en net voordat my ouma oorlede is, het sy vir my ma gesê: “Moenie bekommerd wees nie, jou dogter is oppad.” ’n Halfuur ná haar afsterwe het die hospitaal gebel met die uitslae van die bloedtoetse en bevestig dat my ma swanger is met my. My ma sê altyd ek was haar geskenk van my ouma af. Hierdie besondere begin van my lewe het ’n diep en unieke band tussen my en my ma geskep. Ons geniet dit om tyd saam deur te bring, al kan ons soms ook vir mekaar moeg raak. Ons is basies dieselfde persoon, ons bel mekaar amper drie tot vier keer per dag, al is dit net om iets ouliks te vertel wat ons in ’n winkel gesien het. Ons geniet die natuur saam en kan ure lank in winkels rondloop net om na al die mooi dinge te kyk. Daar is niks wat ek aanpak sonder om eers met my ma daaroor te gesels nie. Sy gee my altyd goeie raad, en soms draai die rolle om en gee ek ook vir haar raad. Ek dank en prys die Here elke dag vir ’n ma soos sy.
Antwoord 2: Op die ouderdom van 14 moes ek die huis verlaat om koshuis toe te gaan, aangesien ons ver van die hoërskool af gewoon het. In graad 8 was my broer nog saam met my op skool, aangesien hy daardie jaar gematrikuleer het, wat dit vir my makliker gemaak het. Maar in graad 9, toe hy die skool verlaat het, was ek heeltemal alleen in die koshuis. Ek en my ma het nog altyd ’n baie hegte verhouding gehad, en ons het elke dag met mekaar gepraat. In daardie tyd, in 2018, was ek ’n jong meisie alleen ver van die huis af, en omdat ons op ’n plaas woon, was daar baie vrees weens plaasaanvalle waarvan ons gereeld gehoor het. Ek het elke aand my ma gebel om seker te maak al die deure is gesluit, die honde is reg en die kameras werk. Hierdie konstante bekommernis het my emosioneel baie geraak en ek het soms depressief gevoel, maar my ma het my elke aand gerusgestel. Sy het my laat voel dat ek veilig is, en my pa het alles moontlik gedoen om die plaas veilig te maak. Deur hierdie moeilike tyd het my en my ma se verhouding net sterker geword. Later het ek besluit om my droom na te jaag om ’n verpleegster te word. Ek het eers nie met my graad 11-punte by die Noordwes-Universiteit ingekom nie, maar toe ek my matriek se eerste kwartaalpunte ingedien het, is ek aanvaar. Dit was ’n besonderse oomblik vir my en my ma, want ons het saam oor hierdie droom gedroom. Gedurende my vier jaar se studies in Potchefstroom was my ma altyd daar vir my, tydens hartseer oomblikke, verhoudingsprobleme en elke uitdaging wat oor my pad gekom het. Onlangs het ek na Somerset-Wes verhuis om my gemeenskapsdiensjaar by Helderberg Hospitaal te voltooi. Dit was die grootste toets vir ons verhouding, aangesien ek meer as ’n 1000km van die huis af is. Al was dit moeilik, weet ons dat ons mekaar elke dag sal bel en dat sy my sal kom besoek. Ons het saam oor hierdie pad gedroom, en met God se leiding weet ons dat alles uiteindelik goed sal verloop.
Antwoord 3: Ons raad aan ander ma’s en dogters vir ’n goeie verhouding is om altyd met mekaar te kommunikeer. Ek en my ma het ’n oop en eerlike verhouding, ons praat oor alles en daar is geen geheime tussen ons nie. Sy weet van my simpel oomblikke, maar ook van my foute. Die belangrikste is dat ons met mekaar kan praat en vir mekaar raad kan gee. Ek kan met my ma oor hartseer en seer dinge praat, en sy kan ook met my deel wanneer sy emosioneel of moedeloos voel. Al verstaan ek nie altyd presies waardeur sy gaan nie, probeer ek net daar wees, soms hoef ’n mens nie raad te gee nie, maar net te luister. Dit is ook belangrik om te onthou dat raad nie net van die ouer na die kind hoef te kom nie. Al is ek die dogter, beteken dit nie ek mag nie my ma raad gee nie. Soms help ’n jonger perspektief baie. Vertroue, respek en eerlikheid bou ’n sterk band. Ma’s en dogters moet onthou hoe kosbaar hul verhouding is. Jy is jou ma se trots, en sy is jou veilige plek. Daarom moet ’n mens jou ma waardeer, haar liefhê en dit ook wys. Al weet sy jy is lief vir haar, is dit belangrik om dit vir haar te sê, want soms het ma’s ook nodig om te hoor hoe baie hulle waardeer word.