
Dorp: Klerksdorp
Antwoord 1: “Ma” is ’n kort woord, maar dit dra ’n lewenslange krag. My en my ma se verhouding is besonders omdat dit nie net ’n ma-en-dogter-band is nie, maar ’n diep, opregte vriendskap. Die ondersteuning, omgee en ware belangstelling wat ons in mekaar se lewens het, raak my tot in my hart. Sy het ’n ongelooflik sagte hart en sal altyd my behoeftes bo haar eie stel. As ek hartseer is, weet sy dit binne ’n oogwink, soms nog voordat ek self verstaan wat ek voel. Net een kyk tussen ons is genoeg om alles te sê. My ma het alles opgegee om my groot te maak. Sy het haar tyd, haar drome en haar energie met liefde in my ingestort. Ek het dit dalk nie altyd raakgesien nie, maar vandag besef ek hoe groot haar opofferings was. Dit is juis hierdie onvoorwaardelike liefde wat ons band so sterk maak, en wat my elke dag herinner hoe bevoorreg ek is om haar my ma te noem.
Antwoord 2: My ma is op 46-jarige ouderdom met Tipe 2-diabetes gediagnoseer. Ná haar diagnose het sy vir ’n lang tyd swaar gesukkel met haar gesondheid. Haar suikervlakke was dikwels onstabiel, selfs al het sy haar medikasie presies geneem soos deur die dokter voorgeskryf. Om jou ma so te sien sukkel en fisies swak te voel, is ongelooflik moeilik en laat ’n mens magteloos voel. Wanneer haar suiker te laag geval het en sy moes gaan lê, was al wat ek kon doen om by haar te wees en ondersteuning te bied. Hierdie moeilike tye het ons egter baie nader aan mekaar gebring. Ek het voortdurend nuwe resepte gesoek wat beter vir haar sou wees, seker gemaak sy het altyd haar medisyne by haar wanneer ons êrens heen gaan, en probeer om haar las ligter te maak waar ek kon. Wanneer ’n mens met ’n ouer se gesondheidsprobleme gekonfronteer word, besef jy skielik dat hulle nie vir altyd daar sal wees nie. Dit leer jou om hulle dieper te waardeer en om jou verhouding met hulle met groter liefde en dankbaarheid te bou. Eers verlede jaar, tien jaar ná haar oorspronklike diagnose, het ons uitgevind sy was verkeerd gediagnoseer en dat sy eintlik “late-onset Tipe 1-diabetes” het. Vir al daardie jare het sy haar medikasie geneem op ’n manier wat nie reg was vir haar werklike toestand nie. Vandag is sy beter ingelig en volg sy die regte behandeling. Haar suikervlakke is baie beter, en ek kan sien hoe sy fisies sterker en gesonder voel. Om haar nou beter te sien, maak my hart ongelooflik dankbaar.
Antwoord 3: Ons raad aan ander ma’s en dogters is om te besef dat dit vir albei partye die eerste keer is om te leef. Niemand het al die antwoorde nie, en almal maak foute. In plaas daarvan om vas te kyk teen verkeerde optrede of seer woorde, is dit belangrik om eerder te probeer verstaan hoekom iets gebeur het en om na die dieper betekenis agter mekaar se optrede te kyk. Onthou dat jou ma of jou dogter ook net ’n mens is. Ware aanvaarding van mekaar skep ruimte vir groei, vergifnis en onvoorwaardelike liefde. ’n Ma-en-dogter-verhouding duur nie vir ewig nie, en daarom is dit so belangrik om die tyd wat julle saam het te koester - om nou lief te hê, nou te vergewe en nou dankbaar te wees, terwyl julle nog kan.