
Dorp: Pretoria
Antwoord 1: My verhouding met my Mamma, Sanette, laat my baie dink aan die antieke Japanese kuns "Kintsugi" waar hulle gebreekte keramiek deur die nate herstel met 'n lak wat gemeng word met goud. Deur die jare was daar baie onverwagte gebeurtenisse wat ons albei gebreek het, maar elke keer het ons saam gesit, ma en dogter, in totale aanvaarding van mekaar se onvolmaaktheid. Met liefde en geduld het ons die krake in mekaar se keramiek weer gevul. Oor die jare het ons mekaar op gebou na iets beter en sterker, reg om elke dag die ander een te herinner van haar waarde en van hoe lief God is vir haar. Ek het al vir baie ure gesit en gewonder hoe om te beskryf hoekom ek voel ons hierdie kompetisie moet wen. Ek het deur die woordeboek gesoek vir 'n woord besonders genoeg om die liefde te beskryf wat ons vir mekaar het. Ongelukkig was my soektog onsuksesvol. God het ons toevertrou aan mekaar as ma en dogter, maar ons is ook mekaar se beste vriendinne, mekaar se grootste ondersteuners, mekaar se klankborde en die rede vir die meeste van mekaar se plooie. Om hierdie kompetisie te kan wen sal die bos besonderse rooi rose in ons kosbare goue laswerk keramiek potte wees.
Antwoord 2: In 2010 het die wêreld om ons ophou draai. Ons gesin het bestaan uit 'n ma, 'n pa, hulle seun en dogter. Op die 8ste November het ek op die balkon van ons stoep gaan staan en gesien hoe my Mamma in mekaar sak toe sy die nuus kry dat haar enigste seun, my boetie (20 jaar oud), nooit weer gaan huis toe kom nie. Hy het vroeër in daardie aand saam met 'n vriend op 'n motorfietsrit gegaan en is oppad huis toe in 'n ongeluk oorlede. Daardie aand het ons elkeen 'n deel van onsself afgestaan aan die dood. Ons het nie geweet hoe om aan te beweeg nie. Hoe kon ek, 'n jong kind van 14 jaar oud wat haar enigste boetie verloor het, die vlenters waarin my gebreek het weer aan mekaar gesit het? Hoe kon sy, 'n Mamma wat haar enigste seun moes begrawe, die vlenters van haar dogter weer by mekaar maak? Slegs God weet hoe ons deur daardie tyd gekom het. God se genade en sy onbeskryflike liefde het ons omvou elke dag wat ons in mekaar se arms ons grootste hartseer gedeel het. Ons liefde vir mekaar het gegroei in 'n baie spesiale manier. My Mamma het die moed gekry om op te staan en te lewe elke dag vir my, en ek vir haar. Ons sal nooit vir mekaar kan genoeg dankie sê vir wat ons vir mekaar beteken het in daardie tyd nie. Vandag dra ons nog die seer, maar ons kapasiteit het gegroei. Ons is sterker en dra saam.
Antwoord 3: Hou God eerste. Bid vir mekaar oor alles. Luister vir mekaar en moet nie bang wees om te praat oor dit wat jou pla nie. Skep ook 'n veilige plek vir die ander persoon om te kan praat oor wat hulle bekommer. Komplimente beteken baie as dit van die regte plek af kom, wees seker julle bou mekaar op met julle woorde. Wees eerlik met mekaar, behalwe as jy 'n verrassing wegsteek, dan vermy die waarheid net 'n bietjie. Dit is die klein aksies wat saak maak. Julle is albei net 'n mens, onthou dit. Sê julle is lief vir mekaar, elke dag, dit kan nooit te veel gesê word nie.