Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Ruve Louw

Ruve Louw

Dorp: Durbanville

Antwoord 1: Wat my en my ma se verhouding uniek maak, is die liefde, vertroue, begrip, deernis, respek en vriendskap waarop dit gebou is. My ma het my nie net grootgemaak nie, sy het my gevorm tot die persoon wat ek vandag is. My geloof en vertroue in myself is gekweek in die wete dat sy altyd in my glo. Ek is alles wat ek is, omdat sy my liefhet. Wanneer ek gelukkig is, het sy my lief met ’n vreugdevolle hart. Wanneer ek hartseer is, het sy my lief met ’n vertroostende hart. Wanneer ek reg is, het sy my lief met ’n trotse hart. Wanneer ek verkeerd is, het sy my lief met ’n hart van aanvaarding. Wanneer ek sukses behaal, het sy my lief met ’n juigende hart. Wanneer ek misluk, het sy my lief met ’n belonende hart. Wanneer ek droom, het sy my lief met ’n hart van aansporing. Wanneer ek opgee, het sy my lief met ’n hart wat sterk genoeg is om ons albei te dra. Wanneer ek bloot ek is, in wat ook al bui of fase van my lewe, het sy my lief met haar hele hart. God het Sy rykste seëninge uitgestort toe Hy my ma vir my gegee het. Ons doen graag soveel as moontlik saam. My ma spot altyd dat sy selfs vir ’n pannekoekverkoping die pad tussen Hartenbos en Durbanville sal aanpak net om my te kan sien. Ons dink dieselfde oor die lewe en verstaan mekaar sonder dat ons veel hoef te sê. Ons gesels daagliks en sy is altyd die eerste persoon met wie ek alles wil deel. Om my hart met haar te deel is om saligheid te vind. Ek het soveel van my suksesse aan my ma te danke. Met haar pedagogiese agtergrond het my ma my van baie vroeg af gebombardeer met kennis, want sy glo kinders is die eerste 6 jaar soos ’n spons. Ek was dux-leerling in die laer-en hoërskool en ook eerste in die Vrystaat in die 2014 matriek eindeksamen. Vandag is ek ’n gekwalifiseerde CA(SA) met ’n meestersgraad in Belasting. My ma het self ook vir my skoolgehou van graad 8 to graad 12. Dit het beslis ’n paar uitdagings ingehou, maar was ’n absolute voorreg wat ek vir niks sal verruil nie. My ma is ’n merkwaardige vrou en ek streef daagliks daarna om meer soos sy te wees. Ek is nie my ma se skaduwee wat agter haar loop nie. Ek loop langs haar as haar nalatenskap. My ma het vir my haar liefde gegee; nie haar vrese nie, haar geloof; nie haar twyfel nie. Ek is nie ‘n bloudruk van my ma nie, maar ek is wie ek is, omdat sy is wie sy is. Van kleins af het my ma my geleer om my kroon reg te skuif en die lewe vierkantig in die oë te kyk, en hierdie raad dra ek elke dag met my saam.

Antwoord 2: Ons verhouding is deur die jare nie net deur vreugde nie, maar ook deur uitdagings versterk. In die hartseerste oomblikke is ons nog altyd mekaar se vangnet en veilige hawe. Na nege jaar van getroude lewe en drie onsuksesvolle kunsmatige insiminasies, het ek uiteindelik my opwagting gemaak. Ek was nog altyd my ma se wonderwerkie en ek is ook haar enigste kind. My ma vertel graag hoe sy jare lank vir ’n baba gebid het; toe kry sy ’n engel. Van die dag wat ek gebore is, was my ma bang ek gaan dood. Sy bid nog altyd vir my. Tot die dag wat ek die nes verlaat het, sou sy nog in die middel van die nag haar vinger onder my neus kom hou om te voel of ek nog asemhaal. Ek weet nie wie het dan groter geskrik as ek daarvan wakker word nie! Ek is vier jaar getroud en ervaar nou self die onvervulde wens van ’n baba nadat ek ongelukkig twee vroeë miskrame in 2025 gehad het. My ma se storie is vir my meer as net ’n herinnering uit die verlede; dit is ’n lewende bewys dat wag nie verniet is nie. Wanneer die onsekerheid swaar druk en ek wonder of my liggaam my in die steek laat, dink ek aan haar jare van gebed, hoop en teleurstelling. Sy het ook dae gehad waar die stilte harder as antwoorde was, en tog het sy aangehou glo. Haar ervaring gee my taal vir my eie pyn. By haar kan ek rou wees sonder om iets te verduidelik, bang wees sonder om verskoning te vra, en hoop sonder om naïef te voel. Sy verstaan die spanning tussen geloof en vrees, tussen aanhou bid en terselfdertyd jouself probeer beskerm teen nog seer. In haar sien ek dat mens nie ongebroke hoef te wees om anderkant uit te kom nie en ek besef dat my storie nog nie klaar geskryf is nie. Ek is die bewys dat haar wag nie verniet was nie - haar wonderwerk na jare se geduld. Dit gee my die moed om te glo dat daar ook vir my ’n anderkant kan wees, selfs al lyk dit vandag nog vaag en ver. Haar storie hou my vas wanneer myne wankel, en leen my hoop wanneer my eie opraak. Elke moeilike oomblik het ons nader aan mekaar gebring. Sy verstaan my soos niemand anders kan nie, en sy stap die pad saam met my deur seerkry en teleurstellings. Tog vier ons ook die goeie tye saam. Deur hierdie gedeelde ervarings het ons ’n onbreekbare band ontwikkel – een wat nie net gebaseer is op liefde nie, maar ook op respek, deernis en die wete dat ons altyd daar is vir mekaar. Ons het die voorreg om hierdie jaar twee groot mylpale - my 30ste en my ma se 60ste verjaarsdag - saam in Maart te vier en ons sien uit na die jare wat ons nog vir mekaar gespaar sal bly.

Antwoord 3: ’n Goeie ma-dogter verhouding begin met teenwoordigheid. Dit beteken nie net fisies saam wees nie, maar ook emosioneel en geestelik beskikbaar wees. Neem tyd vir mekaar, selfs al is julle besig of woon julle nie in dieselfde dorp nie. ’n Vinnige oproep, ’n boodskap of om saam inkopies te doen, kan ’n groot verskil maak. Hierdie klein, alledaagse oomblikke bou ’n gevoel van nabyheid en vertroue. Kommunikasie is een van die belangrikste boustene van ’n sterk ma-dogter verhouding. Wees opreg met mekaar – deel vreugdes, hartseer, drome en selfs die klein geheimpies. Luister opreg sonder om te oordeel of onmiddellik advies te gee. Soms beteken dit net om stil te wees en die ander persoon se gevoelens te erken. Deur dit te doen, verstaan julle mekaar beter en bou julle ’n dieper band. Wees mekaar se grootste ondersteuner. Vier mekaar se suksesse en wees teenwoordig in moeilike tye. Daar is niks wat ’n verhouding sterker maak as om te weet dat iemand altyd daar is vir jou nie. Deel die lewe se hoogtepunte, maar stap ook saam deur die laagtepunte. Lag saam, deel herinneringe en skep tradisies wat net julle twee het. Selfs klein gebare kan wonderwerke doen om ’n hegte band te vorm. Respekteer mekaar se opinies, waardes en grense. Wees geduldig wanneer die lewe uitdagings bring en onthou dat geen verhouding perfek is nie. Konflik of meningsverskille kan selfs help om julle band sterker te maak as dit met respek en liefde hanteer word. Laastens, koester en vier julle verhouding. Die skoonheid van ’n ma-dogter verhouding lê in die voortdurende liefde, samehorigheid en deurlopende ondersteuning. Maak dit ’n prioriteit om tyd saam te spandeer en te koester wat julle het, want hierdie verhouding is ’n fondament vir geluk, selfvertroue en ’n lewenslange vriendskap. Onthou, dit is die samevloeiing van liefde, vertroue, deernis, lag en begrip wat ’n gewone verhouding in ’n spesiale een verander.